Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geharde Pep, Ackermans lig inkomste met 9%
Customers shop for garments at a Pepkor Ltd. store
Klante doen inkopies in een van Pep se winkels. Foto: Getty Images

Die Pepkor-groep se resultate toon hoe gehard sy sakemodel vir stram tye is, met die meeste van sy kettingwinkelgroepe wat hul markaandeel verhoog of behou het.

Leon Lourens, uitvoerende hoof, het die vertoning van die groep se kettingwinkels, wat Pep en Ackermans insluit, as lofwaardig beskryf.

Die inkomste van die groep het met 9% tot bykans R70 miljard gestyg.

Voor afskrywings het sy bedryfswins met amper 16% tot R6,8 miljard gestyg.

Lourens sê die vertoning wys hoe gehard die maatskappy in moeilike handelstoestande is waarin ’n groot deel van sy teikenmark werkloos en van maatskaplike toelae afhanklik is.

“Die voortdurende fokus op die behoeftes van ons klante, die dissipline om ons strategiese voordele te benut en die vermoë om met min koste bedrywig te wees, dra by tot hierdie gehardheid.”

Baie nuwe winkels

Die grootste bedryfsegment van die groep, waaronder Pep en Ackermans tel, het sy inkomste met 6,5% tot R45 miljard verhoog. Bedryfswins het met 3,7% tot R6,3 miljard gestyg.

Dié bedryfsegment sluit ook die skoenwinkels ShoeCity, Dunns en Tekkie Town in, asook die klerewinkels Refinery en John Craig.

289 nuwe winkels is in hierdie bedryfsegment geopen, en die boekjaar is met 4 395 winkels afgesluit.

Lourens sê dit is baie winkels, maar hulle is nog vol vertroue dat uitbreiding op hierdie trant vir drie jaar of langer volgehou kan word.

Hy sê bestaande winkels stoot ook steeds hul verkope op.

Pep en Ackermans het hul verkope met 6,3% verhoog en uitgesluit nuwe winkels het bestaande winkels se verkope met 2,6% gestyg. Dit is ten spyte van voortgesette druk op Pep se teikenmark as gevolg van baie hoë werkloosheid en beperkte bestedingsvermoë.

In die jaar is 106 nuwe Pep-winkels geopen.

Ackermans het “wesenlik markaandeel” gewen en dit is toegeskryf aan sy aanbod wat op “vroue met kinders” gerig is.

Dié kettingwinkelgroep het 81 nuwe winkels geopen en het nou 806 winkels.

Leon Lourens, uitvoerende hoof van die Pepkor-groep.

Nuwe kettingwinkels

Die handelstoestande sedert einde September bly wisselvallig en die groep glo die moeilike tye gaan voortduur omdat verbruikersbesteding steeds onder druk is.

“Die huidige omgewing bied geleenthede om markaandeel uit te brei en die sterk waarde-aanbod aan klante gaan na verwagting voortgaan om aanklank by hulle te vind.”

Die groep gaan uitbrei deur nuwe winkels en nuwe winkelformate te open.

“Wat in ons guns tel is ons meer buigsame winkelmodel. Ons kan na kleiner plekke uitbrei waar baie ander sukkel om onder 500 vierkante meter winkels oop te maak. Dit werk vir ons, maar nie vir ander nie.”

Van sy nuwe winkelkonsepte vertoon baie goed.

Dit sluit in sy Pep Home-winkels wat nou op 239 trek.

Met die jaareinde het die groep ook reeds 14 alleenstaande Ackermans Woman-winkels gehad, en dit gaan tot 30 verdubbel in die huidige boekjaar.

Die groep het ook 450 Pep Cell-winkels waar selfone en finansiële dienste aan kliënte verkoop word.

Pep het ook met Dealz-winkels begin wat ’n verskeidenheid van produkte teen lae pryse verkoop. Daar is nou elf van dié winkels.

Hy sê die nuwe winkelkonsepte is ’n belegging in die toekoms. “Dit is die winkels wat oor vyf jaar van nou af die groei gaan bring.”

Lourens sê van Pepkor se kernbevoegdhede is sy laekoste-sakemodel en dat die groep so baie winkels kan bestuur. “Dis nie almal wat dit kan regkry nie. Om soveel items te verkoop moet jy die verskaffingsketting hê wat ons het en opgebou het.

“Dit is dinge wat ons goed doen en oor die jare geleer het om goed te doen waarop ons kan terugval wanneer die ekonomie stram en moeilik is.”

Skuld

Die verhouding van die groep se skuld tot sy bedryfswins voor finansieringskoste en waardevermindering (ebitda) het in die boekjaar gestyg.

Volgens Lourens het die besluit om sy eie verbruikerskredietboek te bou, bygedra tot die styging in sy finansiering.

Sy netto rentedraende skuld het van R12,6 miljard tot R13,9 miljard gestyg.

Sy finansieringskoste het met 35% tot R1,6 miljard gestyg.

Die afskrywing van The Building Company en die styging in sy finansieringskoste het veroorsaak dat die groep se wins vir die boekjaar met 25% tot R2,1 miljard gedaal het.

Zimbabwe maak toe

Dit is die tweede boekjaar na dié filiaal van Steinhoff se notering in 2017, en die jaar het met minder geraas verloop weens die skandaal by sy moedermaatskappy, en met ’n groter fokus op sy bedrywighede.

’n Laagtepunt van die jaar is die besluit om sy bedrywighede in Zimbabwe te verkoop.

Die besluit is deur die voortgesette swak ekonomie in dié land genoodsaak. “Dit is hartseer, want daar is baie lojale klante daar wat nou deur ’n onsekere toekoms in die gesig gestaar word.”

“Ons het nog nooit verliese daar getoon nie, maar met tye moet mens meer konserwatief optree. Ons brei nie nou so vinnig daar uit nie en ons kapitaalbesteding is minder.”

Pep Afrika se verkope daar het met 14% gestyg. Hy het nou 313 winkels oor in lande buite Suid-Afrika.

Dividend

Die direksie het besluit om in die lig van die poging om sy skuldverhouding te verlaag, aan aandeelhouers ’n keuse te gee om tussen ’n skripdividend en ’n kontantdividend van 20,9c te kies. Dit is minder as die 27,8c in die vorige jaar.

Sy dividendbeleid bly dieselfde, naamlik ’n dividend wat drie keer deur sy verdienste gedek word.

Sy basiese verdienste per aandeel het met 22% tot 64,6c gedaal weens die afskrywing van die bates van The Building Company. Die treurige tye in die boubedryf het tot die besluit gelei om dié onderneming wat Buco, Timbercity en Tiletoria besit, se klandisiewaarde en ontasbare bates af te skryf.

Die skripdividend verseker dat die kontant in die maatskappy behou word om sy skuld terug te betaal.

Meer oor:  Pepkor  |  Pep  |  Ackermans  |  Klerewinkel  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.