Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geheime vergadering oor SAL wek kommer
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se direksie wil die parlement se staande komitee oor finansies agter geslote deure sien.

Die DA is erg bekommerd omdat sy lede in die parlement se staande komitee oor finansies nie geraadpleeg is oor ’n geheime vergadering vandeesweek met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se bestuur oor sy jongste kwartaalverslag nie.

Alf Lees, die DA se adjunkwoordvoerder oor finansies, sê die komitee het eensydig ’n geslote vergadering met die SAL gereël vir Woensdag.

Dit beteken die media, nieregeringsorganisasies wat parlementêre bedrywighede monitor en lede van die publiek mag nie die vergadering bywoon nie.

Lees vermoed die nasionale tesourie het nog nie duidelikheid gegee oor die nuwe bedrag van R5 miljard wat die SAL glo dringend kort nie.

Vuyani Jarana, uitvoerende hoof van die SAL, het vroeër aan die parlement gesê die lugdiens het die bedrag “gister” nodig, so dringend is dit.

J.B. Magwaza, voorsitter van die SAL, het met vorige verskynings in die parlement herhaaldelik gevra dat sekere aspekte van die SAL se bedrywighede in ’n geslote vergadering met die komitee bespreek moet word, want weens die hoogs mededingende lugdiensbedryf wil hy nie hê kommersieel sensitiewe inligting moet openbaar gemaak word nie.

Lees wys egter op reël 184 van die Nasionale Vergadering se reëls wat bepaal dat komiteevergaderings oop moet wees vir die media en publiek, behalwe wanneer ’n saak bespreek word wat tot nadeel van ’n individu kan strek, wanneer die saak beskerm word ingevolge parlementêre privilegie of waar dit ingevolge wetgewing vertroulik is en die vertroulike hantering daarvan billik en regverdigbaar is in ’n oop en demokratiese gemeenskap.

Lees meen dié uitsonderings is nie van toepassing op die SAL se beoogde voorlegging aan die staande komitee oor finansies nie.

Lees sê belastingbetalers moet weet wat die redes vir die geslote vergadering is, veral wat betref die SAL se status as lopende saak, die lugdiens se vertoning die afgelope ses maande en sedert die nuwe uitvoerende hoof en direksie aangestel is, of die SAL in ’n slegter posisie is as wat voorheen uitgebeeld is; en watter inligting beskikbaar is oor die nuwe reddingsboei van R5 miljard.

Die tesourie het egter gesê die gewone begrotingsprosesse sal gevolg word om die R5 miljard vir die SAL te bekom, wat kabinetsgoedkeuring insluit. Die proses sal na verwagting betyds vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober vanjaar afgehandel wees.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, het vroeër gesê die nuwe R5 miljard gaan nie uit die staatskas kom nie, en ’n spesiale komitee gelei deur Mondli Gungubele, adjunkminister van finansies, bespreek opsies met die SAL om die geld van lenings te kry of deur ’n private ekwiteitsvennoot te vind wat in die SAL kan belê.

Die vakbond Solidariteit het verlede week gesê hy gaan in die hof aansoek doen dat die SAL in sakeredding geplaas word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.