Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
VBS Mutual Bank: ‘Geen twyfel van bedrog’

Die Reserwebank het Maandag geen twyfel hoegenaamd gelaat nie dat bedrog tot die kuratorskap van VBS Mutual Bank aanleiding gegee het.

Die Reserwebank se gebou in die middestad van Pretoria.

Op ’n ongewoon vurige nuuskonferensie het Lesetja Kangyago, president van die Reserwebank, gesê: “Dit maak nie saak hoe robuus die reguleerder is nie, jy kan nie voorspel wat die bestuur gaan doen as die bestuur vasbeslote is om bedrog te pleeg nie.”

Kganyago sê inligting wat aan die Reserwebank voorgelê is, is doelbewus vervals.

Sonder om individue te identifiseer, het Kganyago gesê juis die mense wat VBS moes bestuur, word verdink vir die probleme by die bank. Hy het wel die vinger gewys na Vele Investments, VBS se grootste aandeelhouer.

VBS is op 11 Maart onder kuratele geplaas toe die bank nie meer deposito’s kon uitbetaal nie. Daarby word ’n forensiese ondersoek deur adv. Terry Motau gedoen.

Koste van kuratele

Die span wat die kuratele behartig, kos VBS elke maand R2,5 miljoen tot R3 miljoen, maar Naidoo sê dit sal nou aansienlik verminder noudat die meeste gewone mense se rekeninge gesluit word.

Kganyago het ook gesê met R2 miljard se bates is VBS nie ’n groot bank nie en sal dit nie ’n sistemiese risiko vir die finansiële stelsel skep as die bank ondergaan nie, maar “die bank het tog ’n belangrike deel van ons samelewing gedien. Dis waarom dit so verskriklik is dat ’n mislukking van bestuur dié mense se geld in gevaar geplaas het.”

Volgens Kganyago wys die geskiedenis van bankineenstortings in Suid-Afrika dat banke net gered kon word as hulle die nodige korporatiewe beheerstelsels het “en, selfs belangriker, as daar geen aanduiding van bedrog was nie.”

Die forensiese ondersoek behoort einde Augustus of in September voltooi te wees, sê Kganyago. Daarna sal die inligting aan die polisie oorhandig word met die oog op vervolging.

Kganyago sê die werk van die kurator, Anoosh Rooplal van die ouditfirma SizweNtsalubaGobodo, duur ook voort. Voordat dit nie klaar is nie, is die toekoms van VBS nog in die weegskaal.

Afleggings kom

Rooplal het gesê dis onafwendbaar dat afleggings by VBS gaan plaasvind en die personeel is reeds daaroor ingelig. Rooplal beskryf die bank se kostestrukutuur as “opgeblaas”. “Ons moet die bank geskik vir sy doelwit maak.”

Hy beskryf dit as een van die moeilikste kuratele nóg.

Rooplal het onlangs gesê VBS se jaarstate is nie ’n akkurate weergawe van die bank se finansiële toestand nie.

Rooplal het Maandag gesê hy het siviele prosesse begin om geld in te vorder wat aan VBS verskuldig is. R1,5 miljard het na bewering by die bank “weggeraak”.

Hy het weer herhaal hy het nou minder vertroue as met die aanvang van die kuratele dat die bank “gered” kan word.

VBS het in die nuus beland toe dit in September 2016 bereid was om R7,8 miljoen aan oudpres. Jacob Zuma te leen om die skuld af te betaal vir die opknappings aan sy huis in Nkandla.

Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, die afdeling van die Reserwebank wat toesig hou oor banke.

Goeie nuus vir verbruikers

Die eintlike doel van die nuuskonferensie was om te verduidelik hoe die uitbetaling van geld aan gewone mense gaan werk. Hulle sal so gou as Vrydag (13 Julie) R100 000 van hul geld kan onttrek.

Verlede Vrydag is aangekondig dat die tesourie ’n maksimum van R100 000 vir elke gewone mens, spaarklub of stokvel waarborg. Dis dubbeld wat vantevore gewaarborg is en die uitbetaling kom ook baie vinniger as voorheen gevrees is, toe gesê is dit kan jare duur voordat mense hul hande op hul geld kan lê.

Nagenoeg 97% van die sowat 20 000 gewone deposante het minder as R100 000 by VBS en sal dus al hul geld kan onttrek, sê Kuben Naidoo, uitvoerende hoof van die Omsigtigheidsowerheid, die nuwe liggaam wat sedert April toesig hou oor banke.

Die geld sal deur Nedbank uitbetaal word, het Kganyago aangekondig.

Naidoo sê die totale waarde van die waarborg is nagenoeg R360 miljoen.

Naidoo sê hulle is optimisties dat die waarborg nie opgeroep sal moet word nie en dat VBS dus nie vir belastingbetalers duur te staan sal kom nie. “Daar is ’n goeie tradisionele huisleningsboek waarvan die skuld ingevorder behoort te kan word.”

Mense met VBS-rekeninge kan enige Nedbank-tak nader. Hulle moet bewys van adres en van identiteit saambring.

Volgens Kganyago sal mense tot drie jaar lank hul geld kan onttrek. Die geld sal in ’n nuwe Nedbank-rekening inbetaal word, maar mense kan dit dan onttrek en in enige ander bank inbetaal.

Hy sê mense moet geduldig wees omdat Nedbank se stelsels onder druk sal kom indien almal Vrydag hul geld probeer onttrek.

Hy pleit ook dat mense nie die volle R100 000 in kontant onttrek nie omdat dit ’n veiligheidsrisiko sal skep.

Kleinhandelbank

Kganyago sê VBS het bes moontlik die struktuur van ’n onderlinge bank ontgroei en moet dalk in ’n volwaardige kleinhandelbank verander word.

Enige bedrag meer as R100 000 wat mense in hul VBS-rekening het, word nie gewaarborg nie.

Rooplal werk hard daaraan om paaiemente op huis-, motor en persoonlike lenings in te vorder. VBS-takke moet steeds hiervoor gebruik word. Kganyago het mense daaraan herinner dat hulle wetlik verplig is om hul lenings terug te betaal.

Slegte nuus vir munisipaliteite

Geld van munisipaliteite wat by VBS lê, sal nié uitbetaal word voordat die kuratele afgehandel is nie.

Kganyago het te velde getrek teen die 13 munisipaliteite wat nog geld by VBS het.

“Hulle het geen saak gehad om geld by VBS Mutual Bank te plaas nie. Hulle is gewaarsku – en het dit in elk geval gedoen. Om die waarheid te sê, nadat hulle gewaarsku is, het van hulle selfs méér geld gedeponeer.

“Hulle het geweet wat hulle doen. Hulle sal nou maar in die ry moet staan en te kyk of daar geld oor gaan wees om aan hulle uit te betaal.”

Dis strydig met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur dat munisipaliteite geld by onderlinge banke belê.

Waarom Nedbank gekies is

Volgens Rooplal is Nedbank gekies onder meer omdat dit soortgelyke produkte teen ’n soortgelyke koste aan kliënte kon aanbied as wat hulle by VBS het.

Meer oor:  Vbs Mutual Bank  |  Kuben Naidoo  |  Lesetja Kganyago  |  Banke  |  Korrupsie  |  Bankbedryf  |  Kuratorskap  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.