Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geldmark: Is dít dalk wat Absa beplan?

Die sluiting van Suid-Afrika se grootste geldmarkfonds het talle mense in die finansiëledienstebedryf dié week laat kopkrap oor wat die werklike rede daarvoor is.

Netwerk24 het Maandag berig Absa gaan die Absa Money Market Fund, wat meer as R80 miljard onder bestuur het, sluit.

LEES OOK: Baie vrae oor sluiting van Absa se geldmarkfonds

Dit het ook weer bespiegeling laat opvlam dat die bank se beheermaatskappy, die Absa-groep, gereed is om sy batebestuursafdeling te verkoop.

Absa
Absa oorweeg glo al jare lank om sy batebestuursafdeling te verkoop. Investec het ook sy bank en batebestuursafdeling geskei. Foto: Bloomberg

Absa self het aangevoer ’n peiling onder kliënte het daarop gedui dat hulle glo die geldmarkfonds se kapitaal en opbrengste word deur die bank gewaarborg. Dis egter nie ’n bankrekening nie. Omdat dit ’n effektetrustfonds is, word die kapitaal en opbrengs nie gewaarborg nie.

’n Effektetrustfonds word onder die Wet op die Beheer van Kollektiewe Beleggings (Cisca) opgerig.

Volgens Warwick Bam, hoof van navorsing van Avior Capital, oorweeg Absa-groep al geruime tyd dit om die batebestuurder te verkoop.

Twee jaar gelede het Business Times berig Absa-groep wil die batebestuurder herstruktureer voordat dit moontlik aan ’n groep swart beleggers verkoop gaan word.

LEES OOK: Het jy geld in Absa se geldmarkfonds? Lees hier

Business Insider het vandeesweek berig so ’n koper is moontlik die bekende swart sakeman Patrice Motsepe se African Rainbow Capital (ARC).

“Absa kan die struktuur vereenvoudig deur die fonds te sluit, sodat dit van die bank ontkoppel is en ’n verkoop vergemaklik,” sê Bam.

Investec Bank het onlangs sy batebestuurder aan aandeelhouers ontknoop. Die batebestuurder heet nou Ninety One.

Internasionaal het die batebestuursbedryf ’n vlaag van konsolidasies die afgelope jare beleef, met groot banke wat verder uitbrei, of die eenhede verkoop.

Bam meen ook die oorskakeling van ’n effektetrustfonds na een waar kliënte aangemoedig word om kontant te deponeer in ’n bankrekening kan voordelig wees vir die bank aangesien dit sy uitleenvermoë verhoog.

Absa wou nie kommentaar lewer oor dié bespiegeling nie.

Magnus Heystek, direkteur van Brenthurst Wealth Management, sê die verduideliking aan kliënte oor die rede vir die fonds wat sluit maak nie sin nie.

“Dit gaan oor winsmarges, en dit is eenvoudig net dit dat die bank meer geld gaan maak met vaste deposito’s as in ’n effektetrustfonds.”

Volgens Kedibone Dikokwe, afdelingshoof van bedryfstoesighouding van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA), is dit nie die eerste keer wat ’n geldmarkfonds sluit nie.

“Art. 102 van Cisca stel ’n bestuurder van ’n kollektiewe beleggingskema in staat om te eniger tyd ’n portefeulje te sluit.”

Volgens Dikokwe het Absa Fondsbestuurders ’n aansoekproses volgens art. 102 van die wet gevolg om die fonds te sluit.

“Die FSCA beoordeel altyd dit of die sluiting van die portefeulje strook met die vereistes en in die belang van die kliënte is.”

Of enige wetgewing verander het wat dit noodsaak, sê sy dit is ’n sakebesluit van Absa. “Daar is geen verandering in die wetgewing met betrekking tot geldmarkfondse wat onder Cisca geregistreer is nie.”

Dikokwe sê die FSCA is nie ingelig oor ander geldmarkfondse wat gaan sluit nie. – Bloomberg, bygewerk

Meer oor:  Absa  |  Banke  |  Bankbedryf  |  Effektetrustfondse  |  Beleggers  |  Geldmark  |  Geldmarkfonds  |  Bank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.