Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Genade! Dis hoeveel Pick n Pay se baas verdien
Pick n Pay het sy “beste jaar in baie jare” agter die rug. Foto: Jaco Marais

Richard Brasher, uitvoerende hoof van Pick n Pay, het verlede jaar sowat R31,9 miljoen verdien.

Dié Brit se totale vergoeding het in die boekjaar tot begin Maart amper drie keer toegeneem danksy ’n bonus van R20,6 miljoen.

Brasher is ses jaar gelede aangestel om die groep om te keer.

Netwerk24 het in April berig Pick n Pay het sy “beste jaar in baie jare” agter die rug.

Lees ook: Pick n Pay wen markaandele in ‘beste jaar in jare’

Sy vaste salaris het in die boekjaar 6,8% tot R11,3 miljoen gestyg.

’n  Woordvoerder van Pick n Pay het per e-pos as volg op navrae oor Brasher se vergoeding gereageer: “Die groep het groei van 25,2% in sy wesensverdienste per aandeel in die 2019-boekjaar behaal en van 18% in die vergelykbare 52 weke.

“Aangesien die prestasieteikens behaal is wat die (direksie se) vergoedingskomitee gestel het, het die komitee ingestem tot ’n volle bonus van R20,6 miljoen vir Richard Brasher, uitvoerende hoof.

“Dis ter erkenning van sy uitmuntende leierskap oor die afgelope jaar en sy sukses om die groep deur ’n moeilike ekonomie te navigeer terwyl die groep se positiewe verdienstetrajek gehandhaaf is.”

Vorige boekjaar

In die vorige boekjaar het hy net R11,4 miljoen se totale vergoeding gekry, want toe het hy nie ’n prestasiebonus gekry nie, maar net ’n diskresionêre betaling van R800 000.

In die jaarverslag word verduidelik in die vorige boekjaar het die groep nie die prestasiemaatstawwe bereik wat deur die vergoedingskomitee gestel is vir die betaling van bonusse nie. Sekere “belangrike strategiese stappe” is egter gedoen wat belangrik was vir die volhoubare prestasie van die onderneming, maar wat ’n negatiewe invloed op kort termyn op die wins gehad het.

Hoe groot is Pick n Pay?

Pick n Pay se omset beloop R88,3 miljard en het 9,6% in die boekjaar gestyg. Sy nabelaste wins beloop R1,9 miljard.

Aandele

Benewens die geldelike vergoeding wat uitvoerende direkteure en topbestuur van maatskappye in hul sak kry, kry hulle aandeelgegronde betalings.

Die langtermynaansporingsplanne van maatskappye word as ’n belangrike deel van die vergoeding beskryf wat uitvoerende direkteure vir hul werk kry.

Die koste in die boekjaar van die aandeelopsies wat aan hom toegeken is ingevolge die groep se aandeelopsieskema vir personeel het R32,4 miljoen beloop. In die vorige jaar was dit R23,6 miljoen.

Dit is belangrik om te weet dat die aandeelgebaseerde betalings net ontvang word indien sekere prestasiemaatstawwe in die toekoms bereik word.

Pick n Pay bedryf ’n aandeelopsieskema vir werkers wat uitvoerende direkteure, senior bestuur en personeel die geleentheid gee om aandele in die maatskappy te verkry.

Bakar Jakoet, die finansiële direkteur, wat vanjaar na 34 jaar by Pick n Pay aftree, het ’n geskenk van R10 miljoen gekry vir sy aftrede. Hy het daarmee saam ’n totale bonus van R15,2 miljoen ontvang. Dit het sy totale vergoeding tot R20,4 miljoen verhoog, vergeleke met R5,4 miljoen wat hy die vorige jaar ontvang het.

Die koste van sy aandeelopsies beloop R4,6 miljoen.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Richard Brasher  |  Winkelgroep  |  Maatskappy  |  Bonusse  |  Verdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.