Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GEPF-bates verkoop vir pot lensies

Die OBK het miljarde rande se bates van die staatsdiens se pensioenfonds (GEPF) verkwansel in ’n geskarrel om in Ayo Technology Solutions te belê.

Dr. Iqbal Survé, een van die grootste aandeelhouers van Ayo Technology Solutions.

Die OBK het besluit om R4,3 miljard in Ayo van die mediamagnaat Iqbal Survé te belê sonder dat die GEPF die nodige geld gehad het om dit te doen.

City Press, susterskoerant van Rapport, het ’n brief onder oë gehad wat op 19 Desember 2017 geskryf is deur Dan Matjila, die voormalige OBK-hoof.

Dis gerig aan Annalie de Bruyn, die JSE se hoof van korporatiewe finansies, om vir ’n vergunning te vra weens ’n “likiditeitsprobleem”.

Matjila skryf die GEPF kan net R500 miljoen van die R4,3 miljard oorbetaal op 21 Desember 2017, toe Ayo op die JSE genoteer het. Die JSE het bevestig hulle het die brief ontvang.

Die res van die geld sou eers op 22 Desember oorbetaal kon word nadat bates verkoop is.

Die Ayo-transaksie is een van vele wat tans onder die loep is by die Mpati-kommissie van ondersoek na die OBK.  Dit is een van ’n rits transaksies wat staatsamptenare en -pensioentrekkers erg bekommer.

Die hele OBK-direksie het Vrydagmiddag laat bedank te midde van verskeie vraagtekens oor hul vermoë om die kontinent se grootste batebestuurder te lei.

In hul bedankingsbrief sê die direkteure vier van hulle word nou al van ongerymdhede beskuldig – bewerings wat hulle ontken – en hulle het rede om te glo dat meer direksielede beskuldig gaan word.

Die GEPF is verreweg die OBK se grootste kliënt.

Boonop weier die GEPF om die resultate van ’n aktuariële waardasie van die fonds op 31 Maart 2018 bekend te maak. 

Die aktuariële waardasie wys in hoe ’n mate die fonds in staat sal wees om sy langtermynverpligtinge teenoor staatsdiens-pensioentrekkers na te kom.

Matjila het nie in sy brief gespesifiseer watter bates van staatsamptenare hy verkoop het om die Ayo-geld te kry nie.

Die OBK het 99 miljoen aandele in Ayo teen R43 per aandeel gekoop. Die aandeelprys het sedertdien tot R20 per aandeel gedaal. Die GEPF se papierverlies tot op datum is dus meer as R2,2 miljard.

Boonop is die enigste persoon wat tans Ayo-aandele verhandel, glo Iqbal Survé, wat in beheer van Ayo is.

Sowel Survé as Ayo het die bewerings ontken.

Kaping van swart entrepreneurs

In nóg ’n wending blyk dit nou dat Ayo, wat gefinansier is omdat dit ’n swart IT-reus sou skep, sy bestaan te danke het aan die kaping van ’n transaksie van ’n groep swart entrepreneurs.

Ayo beskuldig sy kritici daarvan dat hulle teen die transformasie van die IT-bedryf is.

Maar die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) sê nou Ayo het die transaksie van ander swart entrepreneurs gekaap.

Die NOK sê hulle was in die finale sta­dium om vir ’n klein swart IT-maatskappy finansiering te gee om 60% van Sizwe Africa IT te koop. Ewe skielik het Ayo op 13 September aangekondig hy koop teen R300 miljoen 55% van Sizwe.

Die NOK was uit die veld geslaan deur dié aankondiging.

Hulle eis R207 000 as ’n 1%-kansellasiegeld van die onsuksesvolle swart kopers, bevestig Zama Luthuli, NOK-woordvoerder. Luthuli sê die kontrak was al voor 13 September geteken en die NOK was “baie optimisties dat die transaksie sou voortgaan”.

“Na ons mening is dit nie aanvaarbare praktyk vir ’n teikenmaatskappy (soos Sizwe) om met ’n ander voornemende koper te onderhandel terwyl hulle reeds ’n formele koopooreenkoms met ’n koper onderteken het nie,” sê Luthuli.

Ayo het nie Vrydag op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Die goue draad tussen Ayo en Sizwe is die ANC se kapelaan-generaal, Vukile Mehana.

Mehana besit 10% van Sizwe, is voorsitter van die JSE-genoteerde Mustek wat ook 40% van Sizwe besit, en voorsitter van African Equity Empowerment Investments (AEEI).

AEEI is die meerderheidsaandeelhouer van Ayo en word beheer deur Survé.

Die ooreenkoms wat Ayo met Sizwe beklink het, sou Mehana direk bevoordeel met miljoene rande in kontant wat deur die OBK verskaf is.

Die R4,3 miljard wat die OBK verskaf het, is hoofsaaklik gebruik om dividende uit te betaal aan AEEI en Survé.

Die OBK se betrokkenheid is omstrede omdat die belegging goedgekeur is in Desember 2017 by ’n vergadering waar hoofsaaklik waarnemende amptenare en Matjila teenwoordig was.

Victor Seanie, assistent-portefeuljebestuurder by die OBK, het die afgelope week voor die Mokgoro-kommissie getuig die Ayo-belegging was “hoogs on­reëlmatig”. Hy het ook getuig dat omsigtigheidsondersoeke gestoomroller is om die transaksie te beklink.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.