Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GEPF probeer ook nou miljarde by Steinhoff kry
Jayendra Naidoo

Die pensioenfonds vir staatsamptenare (GEPF) is die nuutste skuldeiser wat miljarde rande se staatsdiens-pensioengeld van Steinhoff probeer terugkry.

Die Lancaster-groep, waarvan die GEPF 50% besit, het die afgelope week ’n eis van R12 miljard teen Steinhoff ingedien.

Die ander 50% word besit deur die sakeman Jayendra Naidoo en die Lancaster Foundation in gelyke dele.

Naidoo was self ’n direkteur van Steinhoff vanaf Maart 2017, sowat nege maande voordat die bom oor Steinhoff gebars het.

Hy is tans die voorsitter van Pepkor, voorheen Steinhoff Africa Retail, wat homself van die groter Steinhoff-groep probeer isoleer as onaangeraak deur die ongerymdhede by die moedermaatskappy.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het in 2016 pensioentrekkers se geld gebruik om vir Lancaster 101 R9,4 miljard te leen om aandele in Steinhoff te koop. Die OBK het ook direk R15,5 miljard van pensioentrekkers se geld in Steinhoff belê. Dis nou R485 miljoen werd – ’n papierverlies van R15,5 miljard.

Die aankondiging van Lancaster dat hy basies sy hele oorspronklike belegging in Steinhoff van die groep terugeis, kom kort nadat Steinhoff alle skuldeisers gevra het om met hom in verbinding te tree.

A company sign stands above the Steinhoff Internat
Steinhoff se hoofkantoor in Stellenbosch. Foto: Getty Images

In ’n aankondiging op die JSE se nuusdiens het Steinhoff verteenwoordigers van eisers en eisgroepe gevra om “relevante inligting” aan hulle te verskaf.

Dít is in ’n oënskynlike poging om met onderhandelinge te begin, maar die groep het dadelik ook wal gegooi deur te sê: “Die maatskappy wil beklemtoon dat die versoeke (om inligting) nie beteken dat skikkings uiteindelik bereik sal word of in die nabye toekoms is nie.”

Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff en die grootste skuldeiser, het aan Netwerk24 gesê Steinhoff het eintlik net twee keuses: skikkings of ’n likwidasie. Net die eise wat reeds bekend is, is al meer as Steinhoff se huidige markkapitalisasie van R17,5 miljard.

  • Wiese eis R59 miljard wat hy verloor het. Hoewel hy in ’n stadium die voorsitter van Steinhoff was, sê hy hy is om die bos gelei.
  • Naidoo, wat ook in die direksie was in aanloop tot die inploffing van Steinhoff, se Lancaster-groep eis R12 miljard. Ook hy sê niemand het die skrif aan die muur gesien nie.
  • Die voormalige eienaars van Tekkie Town eis R1,8 miljard of hul onderneming terug nadat hulle die hoogs winsgewende skoenwinkel verruil het vir Steinhoff-aandele wat nou bykans niks werd is nie.
  • Die bankier GT Ferreira en twee werkerstrusts van sy wynplaas Tokara eis R1 miljard.

Daar is ook verskeie planne vir groepsgedinge in Suid-Afrika, Nederland en Duitsland.

Meer oor:  Steinhoff  |  Jayendra Naidoo  |  Pensioentrekkers  |  Gepf  |  Obk  |  Steinhoff-Skandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.