Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
R4 mjd. se lening vir Steinhoff-aandele afgeskryf

Die staat se pensioenfonds (GEPF) het ’n groot deel van sy lening aan die swart beleggingsmedium Lancaster 101 afgeskryf wat in 2016 ’n belang in Steinhoff gekoop het.

Die notering van Steinhoff Africa Retail (Star) in 2017. Van links is Jayendra Naidoo, voorsitter, Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben la Grange, wat toe uitvoerende hoof was, maar wat ook in Desember bedank het kort ná Jooste se bedanking by Steinhoff. Foto: Verskaf

Dr. Renosi Mokate, voorsitter van die raad van trustees van die pensioenfonds, skryf in die voorwoord van die jaarverslag vir die boekjaar tot einde Maart 2018, wat pas uitgereik is, die afskrywing van Lancaster 101 hou regstreeks verband met die ineenstorting van Steinhoff se aandeelprys.

Steinhoff het ’n jaar gelede, op 6 Desember, aangekondig sy uitvoerende hoof, Markus Jooste, bedank met onmiddellike ingang en sy finansiële jaarstate kan nie uitgereik word nie omdat ’n forensiese ondersoek oor beweerde ongerymdhede met sy boeke uitgevoer moet word. Sy aandeelprys het 97% van R55,81 ’n jaar gelede op 1 Desember tot R1,79 geval, waarop dit Maandag verhandel het.

In die notas tot die jaarstate word getoon die geamortiseerde waarde van die lening aan Lancaster 101 beloop nou R6 miljard, vergeleke met die R9,35 miljard wat verlede jaar getoon is.

Elders in die jaarstate word getoon die afskrywing beloop R4,2 miljard. ’n Jaar gelede is reeds R353,1 miljoen afgeskryf.

Lancaster 101 word 50% gehou deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK), wat namens die GEPF geld bestuur, terwyl 25% deur Lancaster Group Edms. Bpk. gehou word, en 25% deur ’n bemagtigingstrust, luidens die voornoteringsverslag van Steinhoff Africa Retail (wat nou Pepkor heet). Lancaster Group Edms. Bpk. word 100% deur Jayendra Naidoo gehou, voorheen ’n direkteur van Steinhoff, en die voorsitter van Pepkor.

Volgens Mokate het die OBK ná die gebeure van Desember 2017 met Steinhoff geskakel om onder meer te vra dat sy direksie hersaamgestel word en om verteenwoordiging te kry op die komitee van die direksie wat die beweerde finansiële ongerymdhede by die groep ondersoek.

Mokate sê ook in haar voorwoord: “Ondanks die beleggingsportefeulje se indrukwekkende groei van 8,3% (gegewe dat die ekonomie net 0,8% gegroei het) kan die spreekwoordelike olifant in die kamer nie geïgnoreer word nie, naamlik Steinhoff en tot ’n mindere mate VBS Mutual Bank . . .”

Sy voeg by dis te vroeg om oor VBS kommentaar te lewer. Die bank is op 11 Maart onder kuratele geplaas. Die verslag is op 17 Oktober afgeteken.

“Die beweerde ongerymdhede met Steinhoff se boeke is baie teleurstellend omdat die GEPF die hoogste standaarde van korporatiewe bestuur verwag van al die maatskappye waarin hy belê.”

Einde Maart 2017 het die GEPF deur die staat se batebestuurder, die OBK, R28 miljard se aandele in Steinhoff gehou. Die GEPF het toe 10% van Steinhoff se aandele gehou, volgens haar. (Dit sluit die Lancaster 101-belegging uit.)

Volgens haar het dit 1% van die totale bates van die GEPF beloop. Ná die skerp val in sy aandeelprys op 6 Desember het dit ’n impak van 0,6% op die totale portefeulje van die GEPF gehad.

Daarteenoor het die totale aandeleportefeulje van die GEPF waarde van sowat R140 miljard oor die oorsigtydperk geskep en beter presteer as sy maatstaf, lui haar voorwoord.

“Die GEPF gaan voort om die gebeure by Steinhoff te monitor.”

Sy beloof terugvoering aan lede sodra die ondersoeke gefinaliseer is.

“Nieteenstaande die ineenstorting van die Steinhoff-aandeelprys is die GEPF se portefeulje finansieel gesond weens sy diverse aard. Dit is belangrik om kennis te dra daarvan dat die voordele van GEPF-lede nie beïnvloed word deur hierdie gebeure nie, gegewe dat dit ’n vastevoordelefonds is.”

Meer oor:  Steinhoff  |  Gepf  |  Obk  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.