Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GEPF verkoop 70 eiendomme

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) het sowat 70 eiendomme geïdentifiseer wat verkoop moet word in die eiendomsportefeulje wat vir die staatsdienspensioenfonds (GEPF) bestuur word.

Verskeie winkelsentrums is onder die eiendomme wat die GEPF wil verkoop.

Die OBK sê ’n strategiese besluit is geneem om die eiendomsportefeulje, wat vir die GEPF bestuur word, te optimaliseer.

Nadat die besluit geneem is, is ’n onderneming aangestel om die eiendom namens hom te verkoop.

Luidens ’n mediaverklaring val die eiendom wat geïdentifiseer is, buite die OBK se huidige beleggingskriteria.

’n Gesamentlike onderneming tussen die buitelandse eiendomsmaatskappy JLL en die Suid-Afrikaanse The Empact Group is aangestel om die eiendom te verkoop.

Dit is die eerste keer dat die OBK kommersiële agente aanstel om die GEPF se eiendomme aan die private sektor te bemark.

Die eiendomme wat verkoop moet word, bestaan uit kleinhandel-, nywerheids- en kommersiële eiendomme, asook gespesialiseerde eiendomme, soos studentebehuising, skole en “datasentrums”.

Abel Sithole, uitvoerende hoof van die OBK, meen dit is nou die regte stap om die eiendomsportefeulje te optimaliseer.

Hy sê dit is goeie sakepraktyk om ’n beleggingsportefeulje gereeld te ontleed en te hersien, soos wat alle batebestuurders doen. “Dit is belangrik om stabiele opbrengste aan ons kliënt te verseker en die opbrengs uit die verkope sal in verdere beleggingsgeleenthede herbelê word.”

Sithole sê die kommersiële agente is aangestel om vertroue aan beleggers oor die verkoopproses te gee.

Die onderneming sal die hele proses, van die bemarking tot die afhandeling van die transaksies, hanteer.

“Ons wou dit spesifiek ’n eksterne proses maak sodat die mark vertroue in die proses kan hê.”

Volgens hom het die OBK ’n tenderproses gevolg om die regte vennoot te kry om die eiendomme te bemark.

Hy sê JLL is die tweede grootste internasionale openbare makelaarsfirma, en dit is op die New Yorkse aandelemark genoteer.

Die Empact-groep is ’n volfiliaal van Thebe Investment Corporation. Empact het onlangs Empact Corporate Real Estate Services (EmpactCres) gestig om kommersiële eiendom te bestuur.

Pepler Sandri van JLL Capital Markets sê die vertoning van winkelsentrums in woonbuurte wat gerief bied, asook nywerheidseiendomme is besig om te verbeter.

Dit skep ’n mate van aptyt vir hierdie soort eiendom.

“Gegewe die positiewe sentiment is dit nou die beste tyd vir die gesamentlike onderneming om sulke gesogte kleinhandel- en nywerheidseiendomme aan goedgeposisioneerde beleggers te verkoop.”

Die gesamentlike onderneming maak van ’n nuwe aanlyn platform gebruik waar die eiendom bemark en verkoop word.

Die webtuiste is www.SAPX.co, wat ’n afkorting vir South African Property Exchange is.

Die platform is vroeër die jaar deur EmpactCres bekend gestel.

Craig Hean, direkteur van Empact, sê dit is ’n nuutjie vir die kommersiële eiendomsbeleggingsbedryf.

Die eerste 25 eiendomme, wat studentebehuising en kleinhandeleiendomme insluit, is in April op die webtuiste bemark. Die volgende eiendomme sal in Julie bemark word.

Belangstellendes moet voor 7 Mei registreer.

Hier is van die eiendomme wat op die webtuiste verskyn:

  • ’n Eiendom in Ormonde in Johannesburg wat beskryf word as Edcon se voormalige opleidingskampus, met ’n hotel en konferensiegeriewe;
  • ’n Eiendom in Roodepoort se Ontdekkersweg, waar talle motorhandelaars en -vertoonplekke is;
  • Die Village Market-winkelsentrum in Westville in Durban;
  • Die gebou in Barry Hertzog-laan in Emmarentia, Johannesburg, waar ’n Checkers-winkel is;
  • Die Palm Grove-winkelsentrum op die hoek van Hoof- en Kerkstraat in Durbanville;
  • Die Linksfield Square-winkelsentrum in Johannesburg; en
  • Die Waterkloof Ridge Lifestyle-sentrum in Pretoria.
Meer oor:  Gepf  |  Obk  |  Handelseiendom  |  Winkelsentrums  |  Kantooreiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.