Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Geskorste OBK-hoë: Niks skelm aan dié beleggings

Daar was geen ongerymdhede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat betref beleggings wat die afgelope jare gemaak is nie.

Dit sluit in die beleggings in dr. Iqbal Survé, omstrede voorsitter van Independent Media, se Ayo Technologies, asook in die internasionale meubelhandelaar Steinhoff.

Dr. Iqbal Survé, voorsitter van Independent.

Dit is luidens die getuienis deur Fidelis Madavo, geskorste hoof van genoteerde beleggings by die OBK.

Hy het wel erken hoewel die OBK volgens hom die regte prosesse volg om oor beleggings te besluit, hulle nie altyd in die regte maatskappye belê nie.

Madavo het voor die kommissie van ondersoek na gebeure by die OBK getuig sover hy weet het geen direkteur of verwante persoon ook enigsins voordeel uit enige beleggingsbesluite getrek nie.

“Daar was geen ongerymdhede nie, selfs nie met Ayo nie.”

Madavo is juis Maandagaand as direkteur by die OBK geskors weens dié beleggingsbesluit.

Hy was duidelik geskok toe hy hoor die OBK sê in ’n verklaring oor dié besluit dat die “voorlopige verslag weerspieël ’n blatante verontagsaming van die korporatiewe beheer- en goedkeuringsprosesse van die OBK.”

Madavo het op ’n versoek om kommentaar deur joernaliste ná afloop van sy getuienis, duidelik nie geweet ’n verklaring is uitgereik nie. Hy het net sy kop geskud en wou geen kommentaar lewer nie.

Die kommissie het Madavo gedurende sy getuienis gepols om vrae te beantwoord oor hoe die besluit geneem is om in Ayo te belê.

Adv. Jannie Lubbe, ondersoekleier van die kommissie, het egter in Madavo se verdediging gesê dat hy net voorberei het om getuienis te lewer oor hóé die OBK beleggingsbesluite in die algemeen neem, en nie oor hoe die OBK ’n besluit oor spesifieke beleggings geneem het nie.

“Die forensiese span is besig om ’n dieptestudie oor Ayo te doen.

“Ek dink dus nie mnr. Madavo is nou voorbereid om vrae hieroor te beantwoord nie,” het Lubbe hom verdedig.

Lubbe het vroeër die oggend juis oor die interne ondersoek gekla wat volgens hom parallel loop met dié van die kommissie.

“Ek is in geen stadium ingelig dat die OBK of sy interne ondersoekspan besig was met hierdie ondersoek nie. Ek dink dit is eienaardig dat die OBK ’n ondersoek gedoen het parallel met dieselfde kwessies wat die kommissie ondersoek,” sê Lubbe.

“Ek dink dis nodig om die voorsitter van die direksie te roep en te vra om dit te kom verduidelik,” het hy aan regter Lex Mpati, voorsitter van die kommissie, gesê.

Madavo, wat ongeag sy skorsing steeds voortgegaan het met sy getuienis, het wel sommige van die vrae oor Ayo beantwoord.

Ayo-belegging

Madavo het verduidelik dat die voorstel om in Ayo te belê van die kantoor van die uitvoerende hoof van die OBK gekom het.

Die OBK het daarna met Ayo vergader.

“Verskeie verslae is voorgelê en daar is besluit om in die maatskappy te belê,” het hy getuig.

Hy het op ’n vraag deur Emmanuel Lediga, ’n kommissielid, oor of daar geen debat was oor óf die OBK in Ayo moet belê nie, gesê hy weet nie of daar was nie.

“Ek was nie in die land toe die besluit geneem is nie. Ek weet nie of ’n debat gevoer is nie. Ek het nie aan een deelgeneem nie,” het hy getuig.

Madavo het die span wat oor die belegging in Ayo moes besluit verdedig deur te sê hul eie waardasie het die besluit geregverdig.

“Ons het ook na Sagarmatha gekyk, maar besluit die waardasie regverdig nie ’n belegging nie. Ons het nie in Sagarmatha belê nie.”

Sagarmatha is nóg ’n maatskappy wat aan Survé behoort.

Steinhoff

Wat betref die OBK se belegging in Steinhoff, het kommissielede verskeie vrae aan Madavo gevra, maar hy het niks beantwoord nie.

Hy het eerder op sy generiese verduideliking van hoe die OBK beleggingsbesluite neem gefokus.

Die OBK het R9 miljard aan die bemagtigingsgroep Lancaster 101 geleen om aandele in Steinhoff International te koop.

Die OBK het daarna besluit om die kollateraal wat hy vir die lening gekry het, aan Citigroup te verkoop.

Die gevolg was dat die OBK een van dié was wat ’n groot verlies gely het toe Steinhoff se aandeelprys in Desember 2017 ineengestort het.

Dit is geld van die staatsamptenare se pensioenfonds (GEPF) wat gebruik is om aan Lancaster 101 te leen.

Meer oor:  Steinhoff  |  Ayo  |  Fidelis Madavo  |  Iqbal Survé  |  Obk  |  Openbare Beleggingskorporasie  |  Obk-Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.