Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gesoek: SAL en SA Express se finansiële state
Siza Mzimela, tans hoof van SA Express en ’n vorige hoof van die SAL,tydens ’n besoek aan die Zondo-kommissie oor staatskaping einde verlede jaar. Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Die Vryemarkstigting wil hê die finansiële state van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die staat se streeklugdiens SA Express moet openbaar gemaak word voordat die regering Siza Mzimela, uitvoerende hoof van SA Express, as nuwe uitvoerende hoof van die SAL aanstel.

Mzimela se naam word genoem as moontlike opvolger vir Vuyani Jarana wat pas as SAL-hoof bedank het.

Die stigting meen egter ’n volle ondersoek na finansiële onreëlmatighede by SA Express moet eers gedoen word voordat Mzimela aangestel word.

Die Vryemarkstigting wil nou die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) gebruik om toegang te kry tot SA Express se finansiële state vir die 2017- en 2018-boekjaar en vir die bestuursrekeninge vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar.

Die stigting sê in ’n verklaring hy wil ook ’n gedetailleerde opsomming hê van alle betalings deur SA Express aan die SAL, die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika, die lugverkeersnavigasiedienste, die Suid-Afrikaanse Weerdiens en die Burgerlugvaartowerheid in die afgelope drie boekjare.

Mzimela het luidens berigte onlangs gesê SA Express sal teen Maart vanjaar winsgewend wees. Maar die Vryemarkstigting sê dié datum het gekom en gegaan. Die stigting wil die Paia-aansoek gebruik om toegang te kry tot enige dokumente, studies, sakeplanne of ander aantekeninge wat gebruik is om Mzimela se standpunt te regverdig dat die streeklugdiens teen Maart winsgewend sou wees.

SA Express is tegnies bankrot, het die nasionale tesourie in November verlede jaar in ’n parlementêre verslag gesê. In die verslag is genoem dat SA Express vir die boekjaar tot einde Maart vanjaar in werklikheid ’n verlies van R669 miljoen verwag.

Die SAL het self in die boekjaar tot einde Maart 2017 ’n verlies van R5,4 miljard gely en het nog nie sedertdien amptelike finansiële state bekend gemaak nie. Sy state vir die boekjaar tot Maart 2018 is steeds agterstallig, hoewel die SAL aan die parlement gesê het sy verlies vir die boekjaar was R5,6 miljard.

Die publiek het die reg om te weet wat skeefgeloop het by SA Express voordat Mzimela as nuwe hoof van die SAL aangestel word, meen die Vryemarkstigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.