Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gestrande Max 8 het Comair geknou

As dit nie was vir die skikkingsbedrag van R1,268 miljard wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aan Comair betaal het nie, was dié lugdiensgroep se wins vir die boekjaar tot einde Junie meer as 80% laer.

Een van Comair se vliegtuie in die kleure van Kulula.Foto: Comair

Maar danksy die SAL-betaling kan die eienaar van die laekostelugdiens Kulula en die plaaslike British Airways-franchise spog met ’n styging van 175% in sy verdienste per aandeel.

’n Dividend van 18c per aandeel is verklaar. Dit het gehelp om Comair se aandeelprys Dinsdag op die JSE met meer as 7% tot R3,70 op te stoot. Verlede jaar was die dividend 17c per aandeel.

Die skikking met die SAL spruit uit ’n regstryd wat langer as 13 jaar gesloer het in verband met die SAL se anti-mededingende aansporingskemas vir reisagente.

Glenn Orsmond en Wrenelle Stander, mede- uitvoerende hoofde van Comair.

Boeing-probleem

Sy wins voor belasting (die SAL-skikking uitgesluit) het met 82% tot R86 miljoen gekrimp weens stygende brandstofkoste en valutawisselings, benewens ekstra koste wat hy moes aangaan omdat sy Boeing 737 Max 8 nie kan vlieg nie. Die totale koste hiervan, wat verlore inkomste, rente op die lening en die huur van ander vliegtuie insluit, word tans op sowat R195 miljoen geraam, het Wrenelle Stander, mede- uitvoerende hoof, Dinsdag gesê.

Comair is sleg getref deur die voorvalle in Oktober verlede jaar en Maart vanjaar toe Boeing 737 Max 8-vliegtuie van Lion Air en Ethiopian Airlines neergestort het. Dié model vliegtuig se vlugte is internasionaal gestaak, net toe Comair reeds een van twee Max 8-vliegtuie in ontvangs geneem het wat in die afgelope boekjaar afgelewer sou word.

Comair het nog nie ’n aanduiding van Boeing oor wanneer die Max 8 weer sal mag vlieg nie. Stander verduidelik Boeing moes intensiewe prosesse deurgaan, onder meer die herstel van sagteware en verskeie toetsvlugte, en moet met verskeie internasionale lugvaartowerhede skakel. Die verwagting is dat die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid gesamentlik met ander owerhede gelyktydig sal besluit en aankondig wanneer die Max 8 weer mag vlieg.

Instandhouding

Comair het intussen ook probleme gehad met SAL Tegnies, wat aan hom instandhoudingsdienste gelewer het. Comair het nou oorgeskakel na Lufthansa Technik vir die instandhouding van sy vloot vliegtuie, maar moet meer betaal omdat Lufthansa nog besig is om sy bedrywighede in Suid-Afrika te vestig. Die kostevoordeel om na Lufthansa te skuif sal daarom eers teen die 2022-boekjaar gesien word, sê Comair.

Laekostemark kan met 5% groei

Die vooruitsig is dat die aantal sitplekke in die binnelandse laekostevliegmark in die komende jaar met 5% kan groei, sê Stander. In die afgelope drie jaar het die laekostevliegmark met 26% gegroei, maar die voldiens-mark – wat deur SAL en British Airways bedien word – het met 20% gekrimp weens die SAL wat sy vlugte en roetes afgeskaal het weens sy geldknyp.

Direksie

Comair het aangekondig Piet van Hoven, een van die stigters van die lugdiensgroep en ’n vorige uitvoerende hoof, gaan as voorsitter van die direksie uittree. Hy word vervang deur Lindsay Ralphs, uitvoerende hoof van Bidvest. Ralphs dien sedert Julie as ’n nie-uitvoerende direkteur van Comair.

Mede- uitvoerende hoofde

Stander, wat in November verlede jaar as uitvoerende direkteur aangestel is en teen einde Julie as mede- uitvoerende hoof, sê dit is fantasties om aan die stuur van ’n lugdiens te wees. “Dit is merkwaardig hoe al my vorige ervaring saamkom in my nuwe pos.” Stander was voorheen direkteur-generaal van vervoer, adjunkhoof van die Burgerlugvaartowerheid, asook besturende direkteur van die Lugverkeer- en Navigasiedienstemaatskappy (ATNS).

Stander is trots daarop dat die lugdiens sy omset in die boekjaar met 9% kon verhoog en sy stiptelikheid kon verbeter tot meer as 85% van vlugte wat betyds is.

Sy is positief oor die rol van mede- uitvoerende hoof, te midde van skeptisisme oor hoe die struktuur van twee uitvoerende hoofde by ander maatskappye al misluk het. Volgens haar het sy ’n goeie werkverhouding met Glenn Orsmond, haar mede- uitvoerende hoof. Tussen die twee het hulle sowat 50 jaar se ervaring in die lugvaartbedryf. Orsmond was medestigter van die laekostelugdiens 1time. Hy was voorheen finansiële direkteur van Sun Air en Comair, en tot begin vanjaar die finansiële hoof van Star Air.

Meer oor:  British Airways  |  Kulula  |  Comair  |  Glenn Orsmond  |  Lugdienste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.