Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Getuie: ‘Singh het geweet wat hy by Transnet doen’

Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom, “was sonder twyfel by ongerymdhede betrokke toe Transnet in 2013 besluit het om 1 064 lokomotiewe te koop”.

Die verkryging van 1 064 lokomotiewe vir Transnet staan sentraal in die tugverhoor van Anoj Singh, voormalige finansiële hoof van Transnet en Eskom. Foto (slegs ter illustrasie): Transnet

So het Francis Callard, ’n voormalige ingenieur wat by Transnet gewerk het, Donderdag in die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) se tugverhoor van Singh getuig.

Die tugverhoor vind plaas in die prokureurs Webber Wentzel se kantore in Sandton, Johannesburg.

Daar was Donderdag beduidend minder media as Woensdag toe die tugverhoor begin het, en ook geen protesoptrede voor die gebou soos toe nie.

LEES OOK: Anoj Singh van Eskom-faam daag nie op vir tugverhoor

Saica het Singh reeds in Junie hangende die tugverhoor geskors.

Saica wou aanvanklik net op Singh se optrede by Eskom fokus. Ná getuienis van Callard en ander voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, waarin dikwels na Singh verwys is, het Saica besluit om sy optrede dáár ook by die klagstaat in te sluit.

LEES OOK: Dís Saica se probleem met Anoj Singh, Transnet

Callard het Donderdagoggend sy getuienis voortgesit. Hy het in besonderhede verduidelik hoe die finansiële model saamgestel is om die lokomotiewe te koop.

Agt van die 11 klagtes wat Saica teen Singh aanhangig gemaak het ten opsigte van sy tyd by Transnet, handel oor die sakeplan vir dié projek.

In sy klagstaat sê Saica toe die sakeplan vir die verkryging van die 1 064 lokomotiewe aanvanklik aan Transnet se direksie voorgelê is, is vir moontlike prysstygings weens wisselkoerse begroot. Toe Singh die plan later voorlê om ’n styging van R15,6 miljard vir die projek te motiveer, is beweer dat daar nooit vir wisselkoerse begroot is nie, en dat dit een van die redes is hoekom die kontrakwaarde so drasties gestyg het.

Saica beweer Singh het die direksie doelbewus met dié bewering mislei om die groter kontrakwaarde te regverdig.

Die verhoging het die totale koste van die projek van R38,6 miljard tot R54,5 miljard laat styg.

Saica sê verder selfs al was Singh korrek en dat nié vir wisselkoerse voorsiening gemaak is nie, was hy as finansiële direkteur nalatig aangesien Transnet vereis dat daar vir wisselkoerse begroot moet word.

Callard se getuienis tot dusver bewys dat daar sonder twyfel vir wisselkoerse begroot is.

Hy het verder getuig Singh se bewering dat aanvanklik nie vir wisselkoerse begroot is nie, was ’n “doelbewuste en berekende wanvoorstelling” van die feite.

Callard sê hy het nooit getwyfel dat Singh nie die modelle verstaan of dalk nie verstaan hoe dit saamgestel is nie.

Singh het Saica ingelig dat hy nie die tugverhoor sal bywoon nie. Hy het ook gekies om geen regsverteenwoordiger na die verhoor te stuur nie.

Adv. Mohammed Chohan SC, voorsitter van die tugkomitee, het beslis dat die tugverhoor sal voortgaan. Omdat Singh besluit het om nie aan die proses deel te neem nie, is amptelik aanvaar dat hy skuld ontken op al die klagte.

Die drie dae wat vandeesweek vir die tugverhoor opsy gesit is, fokus uitsluitlik op Singh se optrede by Transnet. Saica sal later ’n datum bepaal vir die tugverhoor oor sy optrede by Eskom.

Meer oor:  Transnet  |  Saica  |  Eskom  |  Francis Callard  |  Anoj Singh  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.