Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Glansmotors byt in die stof

Al hoe meer verbruikers wat noustrop trek, ruil groter en duurder voertuie in vir intreevlakmotors (vanaf so R100 000) waarvan die brandstofverbruik ook meer doeltreffend is.

Nissan se nuwe Datsun Go is een van die intreevlakmotors op die plaaslike mark.

Dit is nie net voertuigvervaardigers wat dié tendens opmerk nie; voertuigfinansiers soos WesBank sê ook motoriste wil hul voertuie inruil vir ’n stel wiele wat hulle minder uit die sak jaag.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) sê die aptyt vir duur en groter motors het in 2018 afgeneem namate verbruikers die druk voel van die trae ekonomie en rentekoers- en brandstofprysverhogings (voor die onlangse twee maande se verlagings).

Die mark vir nuwe voertuie het in die algemeen swaar getrek in 2018 – verkope is 1% laer op 552 190 eenhede, vergeleke met 2017 se 557 703 eenhede.

Verkope van nuwe motors was 0,8% laer op ’n jaargrondslag en van ligte handelsvoertuie 2,4% laer, wys Naamsa-syfers, gegrond op data van Lightstone Auto.

motors

Rapport verneem verkope van handelsname soos Audi, BMW en Mercedes-Benz het met tussen 20% en 25% gedaal. Luukse voertuie soos Porsche, wat al tot 250 eenhede per maand verkoop het, haal nou net sowat die helfte daarvan.

Ghana Msibi, verkope- en bemarkingshoof by WesBank, waarsku in ’n verklaring dat hoewel dit maklik klink om jou voertuig in te ruil, kan dit jou duur te staan kom as jy dit op die verkeerde tyd doen. Die beste tyd om ’n motor in te ruil is wanneer die handelswaarde ooreenstem met die bedrag wat nog op die voertuig geskuld word en waarvoor finansiering bekom is. Dit is die gelykbreekpunt.

Volgens WesBank-data strek die meeste voertuigfinansieringskontrakte oor 72 maande (ses jaar). In sulke gevalle sal die gelykbreekpunt normaalweg tussen 24 en 36 maande wees, afhangend van hoe groot die deposito op die voertuig was, sê Msibi.

As die motor voor die tyd ingeruil word, moet die motoreienaar inbetaal om uit die finansieringskontrak te kom. “Nuwe voertuie se waarde verminder dikwels teen ’n vinniger tempo as wat die eienaar terugbetalings aan die finansieringsinstelling gedoen het,” sê Msibi.

Volgens Nico Vermeulen, Naamsa-direkteur, het die mark vir sowel nuwe as gebruikte voertuie in reële terme in 2018 gedaal, en die naverkope-mark vir onderdele en toebehore het ook swakker gevaar as die vorige jaar.

Dít is ondanks ’n sterk bydrae deur die motorverhuringsektor, vervaardigers se aanloklike aanbiedinge en aansporings, asook nuwe voertuie wat in reële terme bekostigbaarder is, sê hy.

Naamsa sê die jaarlikse verkope moet in konteks gesien word. In 2006 was die plaaslike mark op ’n spits met 714 315 nuwe voertuie wat verkoop is. Toe het die ekonomie teen 5,6% gegroei; groei in 2018 was minder as 1%.

Die mark sal na verwagting vanjaar met sowat 1% groei tot 558 000 eenhede, maar sterker ekonomiese groei is nodig om die bedryf ’n hupstoot te gee.

Die ligpunt was uitvoer wat in Desember skerp met 56,3% (of 11 330 voertuie) gestyg het teenoor ’n jaar tevore. Dié goeie prestasie het bygedra tot ’n rekordgetal uitvoer van 351 154 eenhede – 3,9% hoër as 2017, sê Naamsa.

Isaac Matshego en Dennis Dykes van Nedbank se ekonomiese eenheid, sê die styging in uitvoer in 2018 volg op ’n swak 2017 ná produksie-aanpassings by groot vervaardigers en ontwrigting in die Durban-hawe.

Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Wesbank  |  Audi  |  Naamsa  |  Bmw  |  Ghana Msibi  |  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.