Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
G’n reddingsboeie meer vir SAL – Gordhan

Daar is eenvoudig net nie meer geld aan regeringskant vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) nie en reddingsboeie het ’n “morele gevaar” geword.

So het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, Dinsdag ná ’n vergadering met die SAL se bestuur en stakende vakbonde in ’n verklaring gesê.

Gordhan het gesê die regering het die afgelope drie jaar meer as R20,5 miljard aan die SAL verskaf.

Pravin Gordhan

“Selfs al wás geld beskikbaar, is daar geen regsmeganisme om in die huidige boekjaar finansiering aan die SAL te verskaf nie.

“Die geld waartoe die regering hom verbind het om in die volgende drie jaar te verskaf, is bestem vir die terugbetaling van die SAL se skuld,” sê Gordhan.

Hy sê ook herstrukturering is nodig om die lugdiens weer winsgewend te maak en dat die SAL en die vakbonde die geskil self en sonder regeringsinmenging moet bylê.

Zuks Ramasia, waarnemende uitvoerende hoof, en Thandeka Mgoduso, waarnemende voorsitter van die SAL se direksie, het Dinsdag op ’n mediakonferensie in Kempton Park dit beklemtoon dat die SAL eintlik nie eens die 5,9%-salarisverhoging kan bekostig wat hy werknemers belowe het nie, wat nog te sê die 8% wat vakbonde eis.

Die metaalwerkersvakbond, Numsa, en die Suid-Afrikaanse Kajuitpersoneelvereniging (Sacca) staak sedert Vrydag by die lugdiens en dring aan op ’n salarisverhoging van 8%.

’n Vyfde van die SAL se sowat 10 000 werknemers staak.

“Ons kon net die 5,9% aanbied met die verstandhouding dat die SAL ’n lening van R2 miljard bekom. Dan kan ons dié verhoging eers in Maart betaal,” het Mgoduso gesê.

Die SAL se skuld tot dusver beloop R9,2 miljard, wat oor die volgende drie jaar betaalbaar is.

“Ons weet daar is nie ruimte in die fiskus vir die R2 miljard nie. Ons bespreek dié lening tans met ’n konsortium van banke,” het Mgoduso gesê.

Sy het ook herhaal dat die staat dié lening sal moet waarborg. Indien die SAL nie die R2 miljard kan leen nie, sal hy bedrywighede moet staak.

Vakbonde het sedertdien twee nuwe eise gestel: dat 944 werkers nie uit diens gestel word as deel van die herstrukturering nie en dat werkers deur inkontraktering bekom moet word.

Ramasia sê vakbonde mag nie gedurende ’n staking eise byvoeg nie en die SAL gaan die arbeidshof dringend hieroor nader.

Mgoduso het aangekondig dat die SAL teen Donderdag weer twee retoervlugte tussen Johannesburg en Kaapstad en een tussen Johannesburg en Durban sal instel.

Al sy internasionale vlugte styg volgens skedule op, terwyl verskeie van sy streekvlugte weer van gister af voortgaan.

Philip Saunders, SAL-bedryfshoof, sê Vrydag en Saterdag is sowat 11 000 passasiers per dag deur die staking beïnvloed.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.