Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
G’n werk, g’n betaling – hoop is nou op regering
pres. cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

As jou onderneming as deel van die staat van inperking oor die volgende drie weke móét toemaak, hoef jou werkgewer jou nie te betaal nie.

Dis die bittere werklikheid vir baie mense landwyd wat goedere maak of dienste lewer wat nie as noodsaaklik beskou word nie én wat nie van die huis af kan werk nie.

Dit sluit ook huiswerkers in – tensy hulle mense is wat bejaardes of siekes oppas, word hul werk nié as noodsaaklik beskou nie en moet hulle tuis bly.

Die ligpunt is dat die regering wel hulp beskikbaar gaan stel deur middel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), maar slegs indien jy en jou werkgewer wel tot WVF bygedra het.

In dié stadium is die regulasies oor die hulp nog nie gepubliseer nie en heers heelwat onsekerheid oor wat werkgewers te doen staan tydens die 21 dae van inperking.

Volgens Jan Truter, arbeidsregkenner van die maatskappy Labourwise, is hy ieder geval diep bekommerd of die WVF toegerus is om die stortvloed eise vinnig te verwerk ten einde werknemers by te staan voordat hulle geldnood ervaar.

Truter sê wanneer ondernemings besluite neem, moet hulle probeer om verder as die 21 dae te dink sodat hulle vaardighede en goeie arbeidsverhoudinge behou indien sake weer hervat word, selfs al is dit op ’n kleiner skaal.

“Dis sal byna vir seker nie weer sake soos gewoonlik wees nie.”

Opsies wat ondernemings kan oorweeg, sal verander na gelang van die hulp wat die regering beskikbaar stel. Tans sluit dit in:

Jaarlikse verlof

Betaalde jaarlikse verlof kan aan werknemers toegestaan word.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die werkgewersorganisasie Neasa, sê dit word aanbeveel vir ondernemings wat dit kan bekostig sonder om hul volhoubaarheid in gedrang te bring.

Dié verlof kan dan die Desember-sluiting van baie ondernemings vervang.

Spesiale verlof

Die WVF het verlede week bekend gemaak werknemers kan vir 14 dae se “spesiale verlof” eis indien hulle onder kwarantyn geplaas word, selfs al is hulle nie siek nie.

Gedwonge aflegging

Werknemers kan tydelik afgelê word. Omdat die sluiting van die onderneming verpligtend is, val heelwat van die onderhandelingsprosesse ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge weg, volgens Truter.

“Nóg werkgewers nóg werknemers het beheer oor die situasie. Werknemers sal nie toegelaat om hul dienste te lewer nie. Werkgewers word daarom onthef van hul kontraktuele plig om vergoeding te betaal tydens die staat van inperking.

“Maar is dit raadsaam om werknemers bloot in te lig dat hulle sonder betaling afgelê word?”

Betaal salarisse in paaiemente

Hoewel nie ideaal nie, is dit iets wat ondernemings kan doen ten einde hul kontantvloei beter te bestuur, sê Papenfus.

Hulp

Pres. Cyril Ramaphosa het ondernemings wat dit kan bekostig, aangemoedig om aan te hou lone of salarisse betaal.

“Ons is besig met raadplegings oor ’n spesiale bestel vir maatskappye wat weens Covid-19 in die nood is. Hierdeur sal werknemers lone ontvang deur die tydelike werknemer-verligtingskema (van die WVF), wat maatskappye in staat sal stel om werknemers te betaal en afleggings te vermy.”

Truter sê geen verdere besonderhede is al bekend gemaak nie. Die onderhandelinge word tussen die regering, arbeid- en sakesektor in Nedlac gevoer.

Die regering het ook ander hulp aangekondig om ondernemings en werknemers te help staande hou. Ook hieroor is die besonderhede nog skraps, maar dit sluit in:

  • ’n Spesiale solidariteitsfonds waarin individue en ondernemings geld kan skenk om onder meer kleinsakeondernemings te ondersteun;
  • ’n “Veiligheidsnet” vir Suid-Afrikaners wat in die informele sektor werk;
  • Kommersiële banke word vrygestel van die Wet op Mededinging en kan hul eie maatreëls instel om skuldverligting aan kliënte en ondernemings te bied;
  • Werknemers in die private sektor wat minder as R6 500 per maand verdien, sal ’n belastingkorting van R500 per maand vir die volgende vier maande ontvang;
  • Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) sal uitbetalings aan ondernemings wie se belasting op datum is, van twee keer per jaar tot maandeliks aanpas;
  • Ondernemings wat op datum is met hul belastingbetalings en ’n omset van minder as R50 miljoen per jaar het, sal toegelaat word om 20% van lopende inkomstebelasting-betalings oor die volgende vier maande aan die SAID te weerhou;
  • Ondernemings sal ook ’n gedeelte van hul voorlopige korporatiewe inkomstebelasting kan weerhou vir ses maande sonder dat enige boete of rente daarop gehef sal word;
  • Die regering ondersoek die moontlikheid om werkers en werknemers se bydrae aan die WVF en die vaardigheidsontwikkelingsfonds tydelik te verminder;
  • Die departement van kleinsakeontwikkeling stel R500 miljoen beskikbaar om kleinsakeondernemings deur ’n vereenvoudigde aansoekproses vir finansiering by te staan;
  • Die Nywerheidsontwikkelingskorporasie stel saam met die departement van handel en nywerheid R3 miljard beskikbaar om ondernemings wat kritiek is tot Suid-Afrika se pogings om die virus te bekamp, te finansier;
  • Die departement van toerisme maak ’n bykomende R200 miljoen beskikbaar aan kleinsakeondernemings in die toerismebedryf wat onder druk is weens die beperkings op reis.
Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Werksplek  |  Arbeidsake  |  Beroepe  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.