Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
G'n werk vir bedryf ondanks beloftes
Van die regering se praatjies om infrastruktuur te ontwikkel, het daar die afgelope tien jaar weinig gekom.

Van die regering se praatjies om infrastruktuur te ontwikkel, het daar die afgelope tien jaar weinig gekom en hy verwag nie veel meer van die onlangse presidensiële simposium vir volhoubare infrastruktuurontwikkeling nie, sê Tollo Nkosi, uitvoerende hoof van die konstruksiegroep Umso.

Intussen bloei groot en klein konstruksiegroepe hulle dood en sukkel om betalings vir projekte wat hulle wel voltooi het, uit regeringskliënte te kry.

Umso, een van die min ten volle bemagtigde konstruksiegroepe wat met die grootstes in die bedryf kan saampraat, het in Junie vrywillig in sakeredding gegaan, maar het steeds ’n bestelboek van R800 miljoen.

Nkosi sê die konstruksiemark het grootliks gestagneer sedert die projekte vir die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010 voltooi is. “Elke nou en dan vlam daar beloftes op, maar die werk wat realiseer is nie genoeg nie,” sê hy.

Met die uitsondering van Raubex en Wilson Bayly Holmes-Ovcon (WBHO), wat albei ook swaar trek, het al die ander genoteerde maatskappye uit die konstruksiemark onttrek, maar dit het hul eweknieë in die bedryf min gebaat want die mark het gekrimp, sê Nkosi.

Wanneer die regering tenders adverteer, word die kontrakte laat of glad nie toegeken nie, sê hy. “Ons kry dikwels maar 14 dae om ’n tender voor te berei, maar dan vat dit 18 maande tot twee jaar voor dit toegeken word. In daardie tyd moet jy jou spanne en toerusting gereed hou om enige tyd met die werk te begin.” Dít kos geld, sê hy.

Die rede vir dié trae pas is volgens Nkosi “allerhande konkelwerk wat net die regering self kan verklaar”.

Umso het byvoorbeeld in Januarie 2018 ’n tender voorberei en pryse uitgewerk vir ’n padbouprojek in Mamelodi in die ooste van Pretoria. Dit is eers in Mei 2019 toegeken. Op die lange duur is eskalasieklousules nie genoeg om ’n kontrakteur teen die koste van sulke vertragings te verskans nie, sê hy.

Die padagentskap Sanral het in Augustus verlede jaar aangekondig dat hy in die volgende drie jaar R40 miljard se projekte gaan aanpak.

Sanral se bestuurder van ingenieursdienste, Louw Kannemeyer, het Vrydag bevestig dat die agentskap feitlik ’n jaar later 278 projekte vir die instandhouding, bedryf en konstruksie van paaie geadverteer het ter waarde van R30,2 miljard.

Daarvan is minder as die helfte – 136 – toegeken en hul waarde beloop maar R7,3 miljard. “Twaalf projekte met ’n geraamde waarde van R12,1 miljard moes gekanselleer en weer geadverteer word omdat die tenders nie aan al die vereistes voldoen het nie,” sê Kannemeyer.

Hy sê vir projekte tot ’n waarde van R20 miljoen kry Sanral tot 66 tenders op ’n slag, terwyl die groot projekte van meer as R200 miljoen so min as tien tenders lok. “Dit moet alles nagegaan word vir regulatoriese en wetlike voldoening om te verseker dat die tender aan die vereistes voldoen. Partye buite Sanral is daarby betrokke en dit lei tot vertragings, soveel te meer te midde van die Covid-19-inperkings. Baie van dié instellings is nog nie weer 100% in bedryf nie,” sê Kannemeyer.

Hy sê Sanral probeer sy bes om die proses te versnel en is gedurig in gesprek met die nasionale tesourie daaroor.

Die agentskap beplan om in die huidige boekjaar nog meer as 200 bykomende tenders te adverteer, so dit sal tyd vat om die agterstand uit te wis.

Intussen verlaat mense met konstruksievaardighede die land, want hier is nie vir hulle werk nie, sê Nkosi.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.