Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Goed, beter, maar is dit dan botter?

Die suiwelreus Clover is ontstoke oor die gebruik van die woord “butter” op ’n mededinger se gemodifiseerde botterproduk.

Stork se nuwe produk waaroor Clover hof toe is.

Stork Butter Spread word in ’n advertensie, wat die afgelope week op Facebook verskyn het, beskryf as die beste van twee wêrelde. Dit word gemaak van vars plaasbotter vir die romerigste plattelandse smaak, maar smeer maklik al kom dit net uit die yskas, lui die advertensie.

Clover wou dringend ’n interdik bekom teen Siqalo Foods om die verkoop van die “butter spread” te stuit, maar die hooggeregshof in Pretoria het die aansoek op 17 Mei van die rol geskrap.

Clover sê die woord “butter” op die Stork-houer gee voor dat dit suiwer botter is en nie ’n gemodifiseerde botterproduk nie.

Dit skep onwettige mededinging vir hom en benadeel sy kommersiële belange.

Clover het op 1 Februarie in ’n aanmaningsbrief aan Siqalo gekla dis ’n oortreding van twee artikels van die Wet op die Standaarde van Landbouprodukte en die regulasies vir die klassifikasie, verpakking en bemarking van suiwelprodukte en nagemaakte suiwelprodukte.

Siqalo het Clover se eise in die brief op 8 Februarie verwerp.

Só lyk Clover se eie gemodifiseerde botterproduk.

Ses weke later het Clover die hofaansoek ingedien en Siqalo vier weeksdae gegee om daarop te antwoord.

Clover het gesê as die hof nie die interdik toestaan nie en Siqalo word toegelaat om sy Butter Spread verder te verkoop, is daar ’n redelike waarskynlikheid dat verbruikers en sakeondernemings ernstige en onherstelbare finansiële skade sal ly.

Die oortreding van die wet en die regulasies en die feit dat verbruikers mislei of verwar sal word, is genoeg rede om die saak dringend te maak. Siqalo behoort nie munt te slaan uit ’n wanvoorstelling van sy gemodifiseerde botterproduk en ’n “botterprys” daarvoor te vra nie.

Siqalo het gesê die saak is g’n dringend nie. Clover het geen bewyse getoon hoe die verbruiker onherstelbare skade gaan ly nie. Marknavorsing is ingedien oor die verbruiker se bewustheid van die verskille tussen “botter” en “gemodifiseerde botter”.

Waarnemende regter Selby Nyathi het gesê Clover se ware motief is om homself te dien in die afdwing van handels- en mededingingswette, oënskynlik om die verbruikers en ander mededingers teen oortreders te beskerm. Dit kan kwalik dringendheid aan sy klagtes verleen. Die dringendheid is “geprakseer”.

Hy is nie oortuig die saak moet dringend aangehoor word nie, het Nyathi bevind.

Meer oor:  Clover  |  Botter  |  Kos  |  Vervaardigers  |  Suiwelbedryf  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.