Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
‘Goeie einde’ vir Brasher-era by PnP

Ondanks ’n “jaar van ongeëwenaarde ontwrigting” glo Richard Brasher sy nalatenskap is om Pick n Pay as ’n sterker groep te verlaat as toe hy agt jaar gelede as uitvoerende hoof begin het.

Richard Brasher, uittredende uitvoerende hoof van Pick n Pay.

Die Brit het Woensdag sy laaste stel resultate, vir die voljaar tot einde Februarie, uitgereik. Die Nederlander Peter Boone neem nou by hom oor.

“Dit was ’n voorreg om die groep die afgelope jaar te lei. Ek wil die voorsitter (Gareth Ackerman), die Ackerman-familie en die direksie vir hul standvastige steun bedank.

“Vir my duisende kollegas wil ek die meeste van almal bedank dat hulle elke tree van die pad saam met my gestap het.”

Pick n Pay se omset het in Suid-Afrika, waar hy nagenoeg 97% van sy inkomste verdien, met 5% tot R89,9 miljard gegroei, selfs te midde van die Covid-19-pandemie.

Byna die hele boekjaar, met die uitsondering van die eerste twee weke van Maart, was in die pandemie, nadat ’n ramptoestand vir die Covid-19-pandemie op 15 Maart aangekondig is. Die inperkings het op 27 Maart begin.

Verkope van kos en kruideniersware in Suid-Afrika het met 10% gestyg. Vergelykbare verkope (in winkels wat ook in die vorige jaar oop was) was 8,4% hoër. In die tweede helfte van die boekjaar het die volume verkope met 5,1% gestyg.

Die groep se pryse het in die jaar met 3,8% gestyg, vergeleke met nasionale kosprysinflasie van 4,8%.

Die groep noem sy syfers “uitsonderlike prestasie in buitengewone tye”.

“As die bykomende koste vir Covid-19 en die eenmalige vergoedingskoste vanweë skeidingsprogramme in ag geneem word, het die groep stewige krag en momentum in die onderliggende gehalte van sy verdienste getoon.”

In syfers
  • Omset styg met 4,3% tot R93,1 miljard
  • Omset in Suid-Afrika styg met 5% tot R89,9 miljard
  • Bruto winsgrens styg met 0,1 van ’n persentasiepunt tot 19,8%
  • Handelswins daal met 14,7% tot R1,6 mljard
  • Nabelaste wins daal met 19,1% tot R967 miljoen
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 21,4% tot 229,31c
  • Vergelykbare wesensverdienste, as onder meer hiperinflasie in Zimbabwe en die koste van afleggingspakkette buite rekening gelaat word, daal met 6,1% tot 265,58c per aandeel.
  • ’n Finale dividend van 161c word uitgekeer, wat die voljaardividend op 179,74c per aandeel te staan bring, 16,7% laer as in 2020.
  • PnP Clothing

Pick n Pay, wat onder meer met Mr Price meeding in die kleremark, sê hy wen markaandeel in die mark vir billike klere van ’n hoë gehalte.

  • E-handel

Pick n Pay sê, soos ander winkelgroepe, e-handel het baie vinnig uitgebrei die afgelope jaar. Pick n Pay doen self geskeduleerde aflewering en het ’n klik-en-optel-diens, wat albei die getal transaksies verdubbel het. Die groep besit ook die app Bottles vir die aflewering van klein hoeveelhede goedere.

Die groep het aangekondig dat hy al sy verskillende kanale saamgevoeg het in PicknPay.com, wat Woensdag bekend gestel word. Mense sal nou al hul inkopies hier kan doen, ongeag of dit klik-en-optel of klein of groot aflewerings is. Die app Bottles gaan mettertyd as handelsnaam uitgefaseer word - alles gaan as PicknPay.com bedryf word.

  • Smart Shopper

Pick n Pay het nou 8,5 miljoen aktiewe lede op sy Smart Shopper-program, wat vir 75% van verkope sorg. Sunday Times het Smart Shopper as die gewildste lojaliteitsprogram van die afgelope tien jaar aangewys.

  • Nuwe winkels

Die groep het die afgelope jaar 112 nuwe winkels geopen (Pick n Pay en Boxer altesame) en het nou 1 994 winkels. Kleinerformaatwinkels blyk nou die voorkeur te wees.

  • Afleggings

Skeidingspakkette, insluitend vrywillige skeidingspakkette en afleggings, het die groep R200 miljoen gekos.

  • Koste

Die groep het soos in April herhaal dat hy nagenoeg R4 miljard se verkope weens inperkingsregulasies verloor het. Dis weens die langdurige verbod op die verkope van drank en sigarette, asook die aanvanklike verbod op die verkope van klere en nienoodsaaklike huisware reg aan die begin van die inperking.

Die groep het ook in die jaar R200 miljoen se koste aangegaan wat regstreeks met Covid-19 verband hou.

Die groep het net meer as ’n jaar gelede sy Project Future bekend gestel om die groep te moderniseer. Hy sê R600 miljoen se kostebesparings is reeds in die eerste jaar behaal. Die teiken is R2 miljard se besparings oor twee jaar.

Richard Brasher

Die direksie bring hulde aan Brasher, aan wie “baie dank verskuldig is vir sy ontsaglike leierskap” die afgelope agt jaar. Brasher het sy aftrede uitgestel om die groep deur die Covid-19-krisis te stuur.

“Die direksie spreek sy opregte dank aan Richard uit vir sy onskatbare bydrae en wens hom voorspoed met sy aftrede toe.”

Peter Boone

Die direksie sê die groep is goed geplaas vir die volgende groeihoofstuk onder leiding van Boone. Hy het ’n lang loopbaan in die kleinhandel, meer onlangs by die Europese groep Metro.

Meer oor:  Pick N Pay  |  Richard Brasher  |  Kleinhandelaars  |  Kruideniersware  |  Winkels  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Staat Van Inperking  |  Kos  |  Kleinhandel  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.