Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Goeie nuus! Steers, Milky Lane kom nou na jóú toe
Verkope van geriefskos het in 2018 plaaslik met byna 8% gegroei.

As mense nie meer restaurant toe kom nie, kom die restaurant maar na hulle toe.

Famous Brands sê hy wil munt slaan uit verbruikers se vraag na “gerief en toeganklikheid” en gaan al hoe meer opwip-restaurante en restaurante in vraghouers en kostrokkies hê. Mense kan dus uitkyk vir ’n vraghouer- of mobiele Mugg & Bean, Fego, Wimpy, Steers, Milky Lane en Debonairs Pizza net om die hoek.

Die restaurantgroep het ook die mark betree vir geriefskos – voorafbereide maaltye wat vinnig in die oond of mikrogolfoond warm gemaak word voordat dit voorgesit word. Famous Brands het reeds vier Frozen for You-winkels in Gauteng geopen en sê dit lyk asof mense heel te vinde is daarvoor.

Verkope van geriefskos het in 2018 plaaslik met byna 8% gegroei, volgens die marknavorsingsmaatskappy Euromonitor International, maar Famous Brands gaan dalk sukkel om sy kleim af te steek in ’n mark waar Woolworths, Shoprite en Pick n Pay baie hard vry na verbruikers se geld. Dié supermarkgroepe het in 2018 ’n markaandeel van onderskeidelik 35%, 17% en 8,4% van die verkope van geriefskos gehad.

Famous Brands wil nou ook luukse bevrore produkte verkoop. Die groep het pas ook ’n winkel-in-’n-winkel by ’n vulstasie bekend gestel as ’n proeflopie.

Famous Brands sê die hele restaurantbedryf is ontwrig deur tegnologie, soos blyk uit die snelle groei in aanlyn bestellings en kosaflewering. “Ons strategiese reaksie was om voort te gaan om nuwe vaardighede aan te leer en heeltyd ons verbruikersaanbod te ontwikkel wat betref doeltreffendheid, koste en algehele verbruikerservaring.”

Meer as 850 van die groep se Suid-Afrikaanse restaurante kan nou aanlyn bestellings op die web of apps behartig en die groep het sy aantal drywers wat aflewering doen, tot meer as 2 000 verhoog.

Famous Brands besit 25 handelsname, wat ’n netwerk van 2 871 restaurante in Suid-Afrika, Brittanje, die Midde-Ooste en ander Afrika-lande verteenwoordig.

In syfers
  • Inkomste styg met 2% tot R7,2 miljard.
  • Bedryfswins daal met 5% tot R850 miljoen.
  • Bedryfswinsgrens daal tot 11,8% (2018: 12,7%).
  • Wesensverdienste per aandeel daal met 19% tot 319c.
  • Dividend van R1 per aandeel word uitgereik (2018: geen dividend).

In Suid-Afrika het sy totale inkomste vir die boekjaar tot einde Februarie met 5% tot R895 miljoen gestyg en sy bedryfswins het met 10% tot R476 miljoen gestyg. Die bedryfswinsgrens het gestyg tot 53,2% (2018: 50,7%). Die grootste rede vir die styging in bedryfswins is egter dat korporatiewe koste uit die afdeling geskuif is na toepaslike sake-eenhede.

Restaurante se verkope het met 6% gestyg, maar vergelykbare verkope het met net 2,5% gestyg. Vergelykbare verkope sluit restaurante uit wat in die jaar geopen of gesluit het.

Debonairs het markaandeel gewen en Wimpy het die markaandeel wat hy in 2017 verloor het, teruggewen. Steers, Mugg & Bean en Fishaways het hul markaandeel behou.

Hoewel spesialisrestaurante soos House of Coffees, Tashas, Mythos en Paul se verkope altesaam met 10,7% gestyg het, het vergelykbare verkope met 0,6% gedaal. Die maatskappy is hieroor bekommerd omdat vergelykbare verkope as ’n beter maatstaf van volhoubaarheid beskou word.

Die maatskappy het die afgelope jaar die swaard ingelê en verskeie restaurante verkoop of toegemaak: 14 on Chartwell (een restaurant), Thrupps (vyf), O’ Hagan’s (twee) en The Bread Basket (ses), sowel as die Made-toetsprojek wat saam met Edgars probeer is.

Gourmet Burger Kitchen

In Brittanje duur die sakereddingsplan vir Gourmet Burger Kitchen (GBK) voort. Die groep het in die boekjaar ’n verlies van £4,6 miljoen gely, meer as 2018 se £3,6 miljoen.

Verkope het met 7% gedaal en vergelykbare verkope met 4,2%.

Britte bestel al hoe meer dinge aanlyn en winkelsentrums en winkels in “Hoofstraat” lok al hoe minder voete. Dit het in 2018 gelei tot ’n styging van 24% in restaurante wat bankrot gespeel het – 1 200 restaurante is geraak. Onlangs het die welbekende TV-sjef Jamie Oliver aangekondig die meeste van sy restaurante moet ook sluit.

Famous Brands klink wel optimisties dat die ingrypings by GBK stadig maar seker besig is om vrugte af te werp. In die eerste ses maande van die halfjaar was vergelykbare verkope -9,7%, maar in die tweede helfte 1,4% beter.

In die 12 weke sedert die einde van die boekjaar was vergelykbare verkope 8,1% hoër.

    Meer oor:  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Restaurante  |  Kitskos
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.