Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Goeie nuus vir kleinsake oor Covid-lenings

Die aansporing van R100 miljard wat die staat deur banke aan klein ondernemings bied, gaan met nog drie maande verleng word.

Banke gaan nog drie maande lank lenings aan sake-ondernemings oorweeg, spesifiek vir bedryfsuitgawes weens die impak van die Covid-19-inperkings. Foto: Pixabay

Die leningwaarborgskema, wat op 21 April 2020 deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig is as deel van die R500 miljard-stimuluspakket om die ekonomie aan te spoor, is bedoel om klein ondernemings te ondersteun wat finansiële stres ervaar as gevolg van die Covid-19-pandemie.

Die leningskema is in Mei verlede jaar deur die nasionale tesourie, die Reserwebank en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) van stapel gestuur en hulle het nou in ’n gesamentlike verklaring aangekondig dit word met drie maande verleng.

Nog net 18% of R18,1 miljard van die beoogde R100 miljard wat uitgeleen kan word onder die skema is uitgeleen.

Die getal lenings wat goedgekeur is, is 14 827.

Sedert begin van die jaar is 1 787 aansoeke ontvang en daarvan is 511 goedgekeur, maar net 97 is deur kliënte opgeneem.

Die tydperk wat die geld beskikbaar was aan banke om uit te leen, het op 11 April vir die meeste banke wat deelgeneem het tot ’n einde gekom.

Ná verdere konsultasie het die tesourie, die Reserwebank en Basa ooreengekom om die sperdatum tot 11 Julie te verleng.

“Die verlenging van drie maande sal lei tot die ordelike beëindiging van die skema en laat toe dat die ondernemings wat reeds aansoek gedoen het, nog beoordeel kan word.”

In die verklaring word gesê die skema is nie so doeltreffend soos aanvanklik beoog is nie omdat baie ondernemings wat in finansiële nood is, huiwerig was om meer skuld te maak terwyl daar min sekerheid was oor die omvang en duur van die ekonomiese impak van die pandemie.

Die banke voer egter aan hulle het benewens die gewaarborgde leningskema aansienlik meer ondersteuning aan klein ondernemings met hul eie balansstate gebied. Minstens R33 miljard se betaalvakansies of ander hulp is tussen April en November aan klein ondernemings gebied.

Banke het ook miljarde rande se lenings en kredietgeriewe van kliënte en ondernemings in finansiële nood herstruktureer.

Sulke ondersteuning het die vraag na die leningskema verminder.

Terselfdertyd het die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA) ook verdere ondersteuning aan ondernemings en individue moontlik gemaak deur regulasies aan te pas om ’n premieverligting aan polishouers te bied.

Die FSCA het ook die raad van trustees van aftreefondse en werkgewers in finansiële nood aangemoedig om gepaste verligting aan te bied ten opsigte van die bydraes tot aftreefondse.

“Die nasionale tesourie monitor steeds die impak van die pandemie op die ekonomie en op werkgeleenthede en is bewus van die kopsere waarmee klein en groot ondernemings te kampe het, veral dié in die sektore wat die swaarste getref is.”

Volgens die tesourie werk hy saam met belanghebbendes om meer toepaslike ondersteuning te ondersoek, veral voorstelle wat betrekking het op ander finansiële ondernemings wat nie banke is nie en ontwikkelingsfinansieringsinstellings.

Meer oor:  Lenings  |  Krediet  |  Leningswaarborgskema  |  Banke  |  Basa  |  Bankbedryf  |  Stimulus  |  Hulppakket  |  Covid-19  |  Tesourie  |  Kleinsake  |  Reserwebank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.