Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gordhan ‘verloor’ dokumente oor hawens
Die houerkaai van die Kaapstad-hawe. Foto: Transnet

’n Hofsaak oor die onafhanklikheid van die nasionale haweowerheid sloer omdat die dokumente waarop Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sy teenstand grond skynbaar weg is.

Daaronder is ’n KPMG-verslag oor die impak van die korporatisering van die haweowerheid op Transnet se balansstaat.

Intussen bly die hawens niemededingend weens Transnet se rol as speler én skeidsregter, wat die land se in- en uitvoer strem.

In 2017 is ’n maatskappy hof toe om ’n verslag uit die hawereguleerder te wurg waarin bevind is opeenvolgende ministers van openbare ondernemings het hul plig versuim deurdat die haweowerheid nog nie as afsonderlike maatskappy geïnkorporeer is nie.

Luidens die verslag beheer die nasionale haweowerheid die land se agt kommersiële hawens al sedert 2006 onwettig – en alle kontrakte wat die owerheid sedert 2006 aangegaan het, is daarom aanvegbaar. Die openbare beskermer (OB) is ook besig met ’n ondersoek teen Gordhan daaroor, het haar woordvoerder, Oupa Segalwe, aan Rapport bevestig.

Siyakhuphuka Investment Holdings het in 2016 ’n hofaansoek ingedien teen die hawereguleerder, die ministers van openbare ondernemings en vervoer en Transnet.

Die maatskappy sê in sy hofstukke hy ding mee om dienste in die skeeps- en hawebedrywe, onder meer teen Transnet.

Siyakhuphuka het hom in 2008 tot die hawereguleerder gewend nadat die haweowerheid sy aansoek afgekeur het om ’n houerterminus in Richardsbaai te bou.

Transnet het dié reg later gekry.

Siyakhuphuka vra die hof om dié besluit van die reguleerder tersyde te stel en Gordhan te beveel om uitvoering aan die Nasionale Hawewet te gee. Dit bepaal die owerheid moet ’n onafhanklike entiteit wees met sy eie direksie en bankrekening. Sy inkomste moet aangewend word tot voordeel van die land se kommersiële hawens. Die owerheid is nou ’n afdeling van Transnet en ministers ignoreer die wetsvoorskrifte al sedert 2006 uit vrees vir die uitwerking van ’n skeiding op Transnet.

Volgens Jan Scheepers, ’n direkteur van Siyakhuphuka, sou die hersieningsaansoek op 31 Julie aangehoor word. In Maart het Gordhan uit die bloute vir die eerste keer aangedui hy gaan dit teenstaan. Hy dien toe ’n opponerende eedsverklaring deur ’n amptenaar van sy departement in, maar versuim om ’n lang lys dokumente aan te heg waarna in dié verklaring verwys word.

Daaronder is ’n brief waarin die destydse minister van openbare ondernemings, Alec Erwin, die destydse president, Thabo Mbeki, versoek dat die korporatisering uitgestel word. Erwin se brief het gevolg op ’n verslag van KPMG – waarna in Gordhan se opponerende stukke verwys word – oor die moontlike impak van die korporatisering op Transnet. Dié verslag het volgens Gordhan se regsverteenwoordigers ook voete gekry.

Siyakhuphuka sê hy het alles probeer om die ontbrekende dokumente uit Gordhan se regspan te kry, maar vergeefs. Daarsonder kon die maatskappy nie ’n respons voorberei nie.

Siyakhuphuka het die hof verlede week gevra om Gordhan se opposisie te skrap as die dokumente steeds nie te voorskyn kom nie.

Dié aansoek sal na verwagting op 1 Oktober aangehoor word, maar die oorspronklike hersieningsaansoek sal na verwagting tot volgende jaar moet oorstaan.

Gordhan se woordvoerder, Sam Mkokeli, het by navraag gesê die minister werk binne die reg en het niks gedoen om die howe te minag nie. Hy sê die publiek sal weldra ingelig word oor die werk om die haweowerheid te inkorporeer soos die wet voorskryf.

“Hoe minder oor die OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, gesê word, hoe beter.”

Meer oor:  Transnet  |  Pravin Gordhan  |  Vervoer  |  Hawens  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.