Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI-baas dreig met regsbriewe

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van die bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI), het die batebestuurders wat op ’n nuwe direksie by GPI aandring, gewaarsku dat prokureursbriewe na hulle op pad is.

Baniere van sommige van GPI se handelsmerke in sy hoofkantoor in Kaapstad. Foto: Francois Williams

Hy het op ’n aanbieding oor GPI se resultate vir die boekjaar tot einde Junie ontken dat hy die groep batebestuurders dreig, maar hulle wel daarvan beskuldig dat hulle “dobbel met aandeelhouers se pensioengeld”.

Die batebestuurders wil die korporatiewe bestuur by die maatskappy verbeter en meen die groep presteer swak sedert dit na die kosbedryf gediversifiseer het.

GPI bedryf die Suid-Afrikaanse lisensies vir die kitskosreus Burger King asook Dunkin’ Donuts en die roomyswinkel Baskin-Robbins.

In ’n volgepakte ouditorium by GPI se hoofkantoor in Adderleystraat, Kaapstad, waar ’n gespanne atmosfeer Vrydag geheers het, het Adams aan die betrokke batebestuurders gesê “gulsigheid kan jou lewendig opvreet”.

Volgens Adams is hy die grootste aandeelhouer in GPI met byna 70 miljoen aandele, terwyl die batebestuurders wat op ’n direksieverandering aandring, net 3 miljoen aandele besit.

Paul Whitburn (regs in die blou baadjie en hemp) van Rozendal Partners en een van die beswaarde batebestuurders, op Vrydag se aanbieding van Grand Parade Investments se jaarresultate. Foto: Francois Williams

’n Spesiale aandeelhouersvergadering is vir 31 Oktober in Athlone gereël waar die verandering in die direksie bespreek sal word. Adams het gesê die batebestuurders moenie bang wees om na Athlone te kom nie, want hy sal self daar wees om hulle te beskerm.

GPI roem hom daarop dat hy van die eerste breedgebaseerde bemagtigingsgroepe was wat in 1997 met R28 miljoen deur 20 000 aandeelhouers uit die Kaapse Vlakte geskep is.

Volgens Adams is tot 45 miljoen van GPI se aandele nog in sertifikaatvorm, bedoelende dat dit nog in die hande van die oorspronklike aandeelhouers is wat eerder die gereelde dividende verkies as om die aandele te verkoop.

Adams beweer die beswaarde batebestuurders kom met ’n verskuilde vyandige oornamepoging, maar lede van die groep batebestuurders wat ook Vrydag se byeenkoms bygewoon het, ontken dit.

Hulle sê hulle wil bloot die maatskappy in die regte rigting stuur en waarde vir almal ontsluit.

Die ingang na GPi se ouditorium in sy hoofkantoor in Adderleystraat, Kaapstad. Foto: FRANCOIS WILLIAMS

Ricco Friedrich van Denker Capital, een van die beswaarde batebestuurders, het in vraetyd gesê GPI sou meer as R100 miljoen kon spaar as hy ’n paar maande gelede al na die advies van die batebestuurders geluister het.

Friedrich sê hulle het navorsing gedoen oor roomyswinkels en oliebol-winkels soos Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts, en het gevind dis nie gepas vir die Suid-Afrikaanse mark nie. Teen daardie tyd het GPI al heelwat belê in die twee handelsmerke.

Friedrich meen GPI moes toe al die twee ondernemings gesluit het om die bloeding te stop.

Adams gee toe hulle het foute gemaak, en dat Dunkin Donuts en Baskin-Robbins ’n mislukking is. Die buitelandse lisensie-eienaar van die twee handelsmerke het GPI belowe dat hy na ’n koper of gesamentlike vennoot soek om die lisensies by GPI oor te neem.

Adams is wel daarvan oortuig dat die kitskosgroep Burger King die diamant in GPI se kroon is.

Oor die batebestuurders se aandrang dat die direksie vervang moet word, het Adams gesê daar is wel ’n paar bestaande direkteure wat bereid is om uit te tree. Hy wou nie sê wie hulle is nie.

Meer oor:  Dunkin' Donuts  |  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Baskin-Robbins  |  Hassen Adams  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf  |  Kitskos  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.