Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI-baas Hassen Adams ’n ‘boelie’, sê hof

’n Hofuitspraak wat Hassen Adams se “eerlikheid en goeie trou” bevraagteken, word nou ingespan as ’n soort bewysstuk “wat die saak vir verandering by Grand Parade Investments (GPI) verder versterk”.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van Grand Parade Investments.

Regter Dennis Davis het in die uitspraak beveel Adams moet dadelik as trustee van die Houtbaai-ontwikkelingstrust verwyder word.

Adams is die uitvoerende direkteur van GPI, die genoteerde maatskappy wat onder meer die meesterlisensie vir Burger King en Dunkin’ Donuts in die land het. Die maatskappy is in die spervuur van ’n groep batebestuursfirmas wie se kliënte 12,6% van GPI besit. Hulle sê bestuursprobleme by die maatskappy is besig om die resultate – en daarom die aandeelprys – te knou.

Die batebestuursfirmas het GPI gedruk om ’n spesiale vergadering te belê waarop hulle die verkiesing van drie nuwe nie-uitvoerende direkteure wil bewerkstellig. Die drie moet dr. Norman Maharaj, Alexander Abercrombie en Nombeko Mlambo vervang, wat onderskeidelik al tien, 21 en 21 jaar in die direksie dien en daarom nie meer as onafhanklik beskou word nie.

Die hofuitspraak het niks met GPI se sake te make nie, maar is spesiaal deur ’n skakelfirma aan die media gestuur en gebruik as ’n stok om Adams te slaan – kompleet met paragrawe wat uitgelig word waar die houe die hardste val.

Die batebestuursfirmas – Denker Capital, Kagiso, Excelsia Capital, Rozendal Partners en Westbrooke Alternative Asset Management – het ’n skakelfirma aangestel om met die media te kommunikeer.

Dis ’n uiters ongewone stap in die stywebolip-wêreld van Suid-Afrikaanse batebestuur. Selfs in ’n omgewing waar aandeelhouersaktivisme begin toeneem het die afgelope jare, kommunikeer batebestuursfirmas selde indien ooit met die media wanneer hulle druk vir verandering by maatskappye.

Lees ook: Burger King se SA eienaar in spervuur

Ricco Friedrich, ’n direkteur van Denker, het aan Netwerk24 gesê hulle is tot dié drastiese stap gedryf omdat 18 maande se onderhandelinge met GPI agter die skerms niks opgelewer het nie. “Dis nie ons voorkeurroete nie, maar ons is met geen keuse gelaat nie. Onder die omstandighede moet aandeelhouers ingelig word van die probleme by die maatskappy sodat hulle hul regte kan uitoefen.”

Friedrich beklemtoon dat GPI ’n kontantskeppende maatskappy is met goeie bates in die kos- en dobbelbedryf. Die probleme wentel om die maatskappy se kultuur – waar senior bestuur die afgelope jare die een ná die ander bedank het – en besluite oor kapitaaltoewysings, soos die belegging in Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins en ook ’n groter belang in Spur Corporation.

Lees ook: Dis ’n Whopper: Burger King verkoop 15,6 m. etes

Friedrich het nie die vraag beantwoord of die batebestuursfirmas ook van Adams ontslae probeer raak nie.

Terug by die Houtbaaise hofsaak: Die siviele saak is deur vier trustees van die Houtbaai-ontwikkelingstrust aanhangig gemaak: Priscilla Jansen, Luvuyo Morris Gonya, Janap Davids en Thembisele Dyani. Die respondente is Hassen, Dick John Meter en die meester van die hooggeregshof. Die meester word betrek omdat hy die verwydering van Hassen en Meter as trustees moet bekragtig.

Jansen en Gonya was saam met Hassen en Meter, ’n voormalige burgemeester van Houtbaai, stigterstrustees van die trust.

Die trust is Hassen se geesteskind. Dit is in 1996 op die been gebring en het twee erwe naby die Houtbaai-hawe van die departement van openbare werke gehuur. Daarop sou ondernemings bedryf word vir die bemagtiging van die plaaslike gemeenskap. Daar is selfs van ’n hotel gedroom.

22 jaar later het weinig nog van dié planne gekom, benewens die verhuring van een van die erwe van tyd tot tyd vir minimale bedrae aan onder meer ’n visvang-koöperasie, ’n transaksie wat Adams sonder die insette van ander trustees beklink het.

Dit wil voorkom asof geen trusteevergadering van 2004 tot 2012 gehou is nie, en ook niks sedert twee vergaderings in 2013 nie. Volgens die hofstukke blyk dit dat notules plek-plek uit die duim gesuig is. Finansiële state was bedenklik.

Dis alles strydig met die wetgewing oor trusts, wat onder meer geouditeerde jaarstate vereis, sowel as met die trustakte van die Houtbaai-ontwikkelingstrust.

Die ander trustees het reeds in Januarie 2013 met hul 75%-meerderheid gestem om Hassen en Meter as trustees te verwyder, maar omdat hulle nie die regte proses gevolg het nie, is dit in Mei daardie jaar omgekeer.

Hierna het ’n briewe-oorlog uitgebars en Davis beskryf Adams en sy gedrag onder meer as “aggressief en dwarstrekkerig” en ’n “geboelie”.

“Adams se houding is nie net ’n wanopvatting van die reg nie, maar is ’n aanduiding van sy uitdagende houding, wat hom nie in staat stel om in ’n gees van verantwoordbaarheid en samewerking teenoor die aansoekers op te tree nie. Hy verwens duidelik dat hy aan die aansoekers moet antwoord, wat hy verkleineer en as sy minderes beskou wat kwalifikasies en ervaring betref.”

Adams het Vrydag gesê hy gaan teen die hofuitspraak appelleer. “Ek het niks verkeerd gedoen nie. Alles wat ek gedoen het, is geoudit deur die ouditeursfirmas EY en Nolans.”

Die spesiale vergadering oor die direksieveranderings word op 31 Oktober in Athlone gehou, waar baie van GPI se aandeelhouers woon.

Adams het vroeër die week aan Moneyweb gesê hy beskou die batebestuurders se aanslag as ’n poging tot ’n “vyandige oorname”.

Friedrich het aan Netwerk24 gesê dit sal jammer wees as Adams nie insien dat hulle die maatskappy se belange op die hart dra nie – ook die belange van die klein beleggers uit die gemeenskap wat van die begin af in GPI belê het.

“Goeie korporatiewe beheer lei tot volhoubare en gesonde ondernemings, en GPI is geen uitsondering nie,” luidens die eerste verklaring wat die batebestuursfirmas uitgestuur het.

Meer oor:  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Hassen Adams  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf  |  Kitskos  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.