Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI-baas wil die lewe nou ’n bietjie geniet

Hassen Adams gaan hom nou daarop toespits om die lewe te geniet.

Hassen Adams, voorsitter van Grand Parade Investments, gaan binnekort uittree. Hier is hy afgeneem in 2013 toe hy EY se toekenning as South African Exceptional Entrepreneur ontvang het.Foto: Lerato Maduna

Hy het ’n stoetplaas vir resiesperde in die Hemel-en-Aardevallei naby Hermanus, waar hy meer tyd wil deurbring, asook ’n plaas langs die see aan die Weskus wat hy as ’n toerismebestemming wil ontwikkel.

Adams, medestigter van die Kaapse bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI), het vandeesweek sy uittrede as nie-uitvoerende voorsitter van die groep aangekondig. Hy sê hy gaan nog net ’n “paar maande” as voorsitter aanbly.

Wat hom oor die afgelope 22 jaar van GPI se bestaan die meeste plesier gegee het, was om meer as 20 000 gewone mense op die Kaapse Vlakte te kon bemagtig en deur hul aandeelbelegging in GPI deel van die hoofstroom-ekonomie te maak.

Dié mense het vir die 17,5c per aandeel wat hulle belê het oor die jare al meer as 150 keer soveel in die vorm van dividende teruggekry, verduidelik Adams.

Wat sy gesondheid betref, was dit ’n moeilike jaar vir Adams. Kanker wat in sy bekkenbeen gevind is, is verwyder. Hy is nou weer gesond, en wil nou tyd maak om die lewe te geniet.

Daar is nog so ’n paar strategiese besluite en “huishoudelike kwessies” wat by GPI uitgesorteer moet word, maar sodra dit afgehandel is, gaan hy vertrek. Hy sal ook nog tot tyd en wyl in die direksies van Burger King en SunWest dien.

“Dit was my hele styl om ondernemings te begin of te koop en dit dan teen ’n stewige wins te verkoop. Benewens Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins, waar ons nie te veel verloor het nie, kon ons oor die jare goeie geld maak en stewige dividende betaal. Ons hoef nooit weer na aandeelhouers terug te gegaan het om geld in te samel nie.”

Adams gee toe baie van die oorspronklike meer as 20 000 aandeelhouers het sedertdien al hul aandele verkoop, maar dis ook hul reg om te besluit om die vrugte te pluk.

GPI het steeds ’n groot aanhang, met byna 1 000 mense wat Donderdagaand die jaarvergadering bygewoon het. Adams is self steeds ’n groot aandeelhouer in GPI. Hy reken hy is die tweede of derde grootste enkele aandeelhouer. Maar hy gaan nou eers boer, sê hy.

Van die renperde wat hy op die plaas naby Hermanus teel, het al topprestasies gelewer en as die internasionale mark vir Suid-Afrikaanse renperde open, mik hy om renperde uit te voer.

Op die Weskus-plaas beoog hy om met beeste en skape te boer en gewasse aan te plant. Hy het ook ander ondernemings wat hy aan sy kinders gegee het om te bestuur, waaraan hy nou ’n bietjie meer aandag kan gee.

Meer oor:  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Hassen Adams  |  Hamburgers  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf  |  Kitskos  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.