Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI-direkteure kry blaaskans op vurige vergadering

Die nie-uitvoerende direkteure van Grand Parade Investments (GPI), die Suid-Afrikaanse lisensiehouer van die kitskosreus Burger King, het Woensdagaand ’n poging oorleef om hulle uit die kussings te lig.

’n Buitengewone vergadering van Grand Parade Investments se aandeelhouers is Woensdagaand in ’n stampvol saal in Athlone, Kaapstad, gehou. Die doel was om nuwe direkteure te kies, maar die vergadering is sonder ’n stemming verdaag. Foto: Francois Williams

Op ’n buitengewone aandeelhouersvergadering in Athlone, Kaapstad, wat op aandrang van ’n groep besorgde minderheidsaandeelhouers uitgeroep is, het die meeste aandeelhouers wat teenwoordig was, gestem dat die vergadering eerder verdaag word voordat gestem kon word of huidige nie-uitvoerende direkteure moet bly of gly.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van GPI, het op die nippertjie verskoning gemaak, want hy het die middag siek geword. Colin Priem, finansiële hoof, het as voorsitter van die vergadering waargeneem.

Hoewel Priem aanvanklik geen debat oor die kwessie wou toelaat nie, het aandeelhouers daarop aangedring om te weet waarom hulle moet stem of die direkteure verwyder moet word.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van Grand Parade Investments.

Jarred Winer van Westbrooke Alternative Asset Management, een van die besorgde batebestuurders wat namens kliënte sowat 12% van GPI se aandelekapitaal verteenwoordig, het verduidelik hulle is besorg oor die maatskappy se gebruik van kapitaal deurdat in die oliebol-winkel Dunkin’ Donuts en die roomyshandelsmerk Baskin Robbins belê is. Dit het tot verliese en ’n daling in die aandeelprys gelei het.

Hulle meen die maatskappy se verliese het vergroot terwyl topbestuur steeds groot bonusse ontvang het. Hulle meen die huidige direksie het nie die nodige vaardighede om die maatskappy in die kosbedryf, waarin hy nou diversifiseer, te lei nie.

Alex Abercrombie, een van die nie-uitvoerende direkteure en voorsitter van GPI se dobbelmasjien-filiaal Sun Slots, het egter gesê enige stemmery oor die direkteure sal onreëlmatig wees, want die direkteure is nie ingevolge die reëls van die Maatskappywet skriftelik ingelig oor die redes waarom hulle verwyder moet word nie. Hulle is ook nie ’n kans gegun om daarop te reageer nie.

Die meeste aandeelhouers op die vergadering het egter geklink asof hulle nie tevrede is dat GPI se aandeelprys van bo R7 teen 2014 tot die huidige net meer as R2 gedaal het nie.

“Die direkteure is buite orde. Julle het ’n fidusiêre plig. Julle mors ons tyd. Julle werk met ons geld,” het William Samuels, ’n aandeelhouer, uitgeroep.

Dit lyk of GPI se dobbelbedrywighede nou sy kosbedrywighede subsideer, maar dit lyk soos ’n bodemlose put, het George February, nog ’n aandeelhouer, gesê.

February en Samuels het gevra die vergadering moet eerder verdaag sodat die besorgde aandeelhouersgroep deeglik met die direksie konsulteer oor die stap vorentoe.

Baie van die aandeelhouers is gewone Kapenaars wat in 1998 in GPI belê het toe dié maatskappy as ’n swartbeheerde maatskappy op die JSE genoteer het.

Priem, wat kort-kort uitgestap het om met regsverteenwoordigers te konsulteer, het bevestig daar sal met die geaffekteerde partye en die JSE gekonsulteer word, waarna die maatskappy ’n Sens-aankondiging sal doen.

Die vier nuwe direkteure wat Winer en sy groep voorstel, is Mark Bowman, ’n vorige besturende direkteur van SABMiller Afrika, Ronel van Dijk, vorige finansiële bestuurder van Spur, Cora Fernandez, ’n kundige in private ekwiteit wat voorheen by Sanlam Beleggings gewerk het, en Seapei Mafoyane, hoof van Shanduka Black Umbrellas. Sy was voorheen in topbestuursposte by Standard Bank en Discovery.

Meer oor:  Dunkin' Donuts  |  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Baskin-Robbins  |  Hassen Adams  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf  |  Kitskos  |  Dobbel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.