Dr. Norman Maharaj en prof. Walter Geach, twee nie-uitvoerende direkteure van die bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI), het ’n aanslag op hul poste in die direksie oorleef.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter van Grand Parade Investments.
Die meerderheid aandeelhouers van die eienaar van die kitskosreus Burger King se meesterlisensie in Suid-Afrika het Woensdagaand gestem om Maharaj en Geach as direkteure te behou.
Hulle sou as direkteure uittree op Woensdagaand se jaarvergadering, maar was herkiesbaar vir nog ’n termyn.
Dit kom nadat twee van hul kollegas in die direksie, Nombeko Mlambo en Rashied Hargey, op ’n spesiale aandeelhouersvergadering ’n week gelede uitgestem is as nie-uitvoerende direkteure.
Dit kom te midde van ’n poging deur ’n groep besorgde minderheidsaandeelhouers wat 12% van GPI besit om nuwe bloed in die direksie te bring.
Die groep het verlede week net deels in hul doel geslaag toe Mark Bowman, ’n vorige topbestuurder by die bierreus SABMiller, en Ronel van Dijk, vorige finansiële bestuurder by die JSE-genoteerde restaurantgroep Spur Corporation, wel as nuwe nie-uitvoerende direkteure ingestem is.
Mohsin Tajbhai, bedryfshoof van GPI, sê die uitslag van die jaarvergadering is ’n gedeelde oplossing wat alle belanghebbers bevoordeel.
Ricco Friedrich, senior portefeuljebestuurder by Denker Capital, een van die besorgde minderheidsaandeelhouers, het die afgelope week egter gesê hulle sou steeds wou sien dat al die bestaande nie-uitvoerende direkteure vervang word.
Hulle het steeds ernstige bedenkinge oor die bekwaamheid van die oorblywende uitvoerende sowel as nie-uitvoerende direkteure, insluitende die finansiële direkteur, Colin Priem, sê Friedrich.
Nog ’n skok het die maatskappy die afgelope week getref toe Prabashinee Moodley as uitvoerende hoof bedank het.
Tajbhai meen daar is kennis geneem van die bekommernisse van die besorgde aandeelhouers en GPI en sy bestuur het konstruktiewe stappe gedoen om die onderneming op hoëwaarde-bates met groot potensiaal toegespits te kry, en om ontslae te raak van swakpresterende bates.
Volgens Tajbhai is die bestuur ook gretig om saam te werk met Value Capital Partners (VCP), wat onlangs ’n belang van 8,05% in GPI vir sowat R115 miljoen gekoop het. VCP het ’n bewese baanrekord om by sukkelende maatskappye in te gryp en hulle om te keer, volgens Tajbhai.
GPI se aandeelprys het Woensdag tot ’n maandhoogtepunt van R3,50 geklim, maar Donderdag met 4% tot R3,36 teruggesak.