Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI se herskikking ly onder pandemie

Die regering se Covid-19-inperking het ’n effense rem geplaas op die bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI) se poging om homself te herskik.

GPI kon nie sy belang in Sun Slots verkoop nie weens die Covid-19-pandemie. Foto: Unsplash

Sy verkoop van die kitskosrestaurantgroep Burger King Suid-Afrika moes weens die inperking heronderhandel word, en GPI kry nou 15% minder daarvoor as volgens die aanvanklike ooreenkoms, het Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof, Woensdag herbevestig.

Tajbhai het met die bekendmaking van GPI se resultate vir die boekjaar tot einde Junie verduidelik die hersiene aanbod vir Burger King is nou R570 miljoen, en vir die vleisverwerkingsaanleg Grand Foods, wat Burger King voorsien en daarmee saam verkoop word, is die aanbod nou R23 miljoen.

Maar gegewe die huidige onsekerheid in die mark meen Tajbhai die laer verkoopprys is steeds billik en albei partye is gelukkig met die heronderhandelde transaksie.

Die verkoop van GPI se 30%-belang in Sun Slots, wat beperkte-uitbetaaldobbelmasjiene bedryf, het ook weens die inperking deur die mat geval. Die betrokke dobbelrade moes teen einde Junie die transaksie goedkeur, maar die spertyd is nie gehaal nie en dit het die transaksie laat verval.

Die verkoop van ander niekernbates is ook vertraag en GPI verwag dit sal nou eers binne 18 tot 36 maande afgehandel wees teenoor die vorige verwagting van binne 12 tot 18 maande.

Tajbhai sê GPI glo wel sy balansstaat is sterk genoeg om die impak van die inperking te oorleef. Weens die inperking was casino- en dobbelbedrywighede gesluit, en Burger King was in April heeltemal toe en kon in Mei net huisaflewerings doen.

GPI se halfjaar in syfers
  • Omset krimp met R97 miljoen tot R1,3 miljard
  • Bedryfswins van voortgesette bedrywighede daal met R2,5 miljoen tot R41,7 miljoen
  • Netto verlies van R111,8 miljoen teenoor wins van R72,8 miljoen ’n jaar gelede
  • Wesensverlies van R61,7 miljoen teenoor wesensverdienste van R38 miljoen ’n jaar gelede

Sedertdien het al die bedrywighede wel stelselmatig weer begin sake doen en toon dit verbasende veerkragtigheid, meen Tajbhai. GPI het kontant gespaar tydens die inperking deur onder meer salarisse te sny en huurgeldvakansies met eiendomseienaars te onderhandel.

Die groep is ook in die proses om sentrale koste te besnoei. Hoofkantoorkoste is in die afgelope boekjaar met 22% gesny en die mikpunt is om dit verder met nog 15% tot 20% te sny.

Die wins uit die verkoop van sy belang in Spur is gebruik om skuld af te betaal, en sowat R300 miljoen se skuld is afbetaal.

Volgens GPI se eie ontleding word die groep tans op R4,49 per aandeel gewaardeer, teenoor die huidige aandeelprys op die JSE van net meer as R2. Hy wil dié waarde vir aandeelhouers ontsluit deur die winsgewendheid van sy oorblywende bedryfsonderneming Mac Brothers te verbeter, tesame met die verkoop van niekernbates.

Die boekjaar is wesenlik in twee gedeel deur die pandemie, met die eerste helfte waarin goeie resultate behaal is, maar die tweede helfte deur die impak van die inperking geraak is en al die vordering uitgewis is wat in die eerste helfte gemaak is, sê Tajbhai.

Maar wat bly dan oor van GPI as hy van al dié bates ontslae raak? Tajbhai sê hy sal steeds sy dobbelbelange soos dié in SunWest behou wat by die Grandwest- en Worcester-casino’s betrokke is. “Ons gaan terug na ons wortels.”

Sodra al die niekernbates verkoop is en koste en skuld verder gesny is, sal GPI kyk na nuwe geleenthede.

Meer oor:  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Mohsin Tajbhai  |  Kitskos  |  Dobbel  |  Casino's  |  Restaurante  |  Dobbelbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.