Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI verkoop 10% van sy belang in Spur

Grand Parade Investments (GPI) is so desperaat om sy skuldvlakke te verminder dat hy bereid is om aandele uit te reik om sy skuld op byna 11 miljoen Spur-aandele te delg.

'n Spur restaurant met sy bekende handelsmerk.

Spur Corporation en GPI het Donderdag in afsonderlike Sens-verklarings aangekondig hulle gaan die 10,9 miljoen gewone Spur-aandele wat GPI besit teen R24 per aandeel terugkoop.

Spur is op sy beurt baie gretig om die aandele terug te koop omdat hy bang is die beleërde GPI verkoop die aandele op die vrye mark, wat Spur se aandeelprys verder onder druk gaan plaas.

GPI besit die meesterlisensie vir Burger King in Suid-Afrika.

In ’n afsonderlike transaksie gaan Spur 6,6 miljoen tesourieaandele terugkoop.

GPI het op 30 Oktober 2014 Spur se bemagtigingsvennoot geword toe nagenoeg 10,9 miljoen aandele as deel van ’n regte-uitgifte aan GPI toegeken is. Dit verteenwoordig nagenoeg 10% van Spur se aandelekapitaal.

GPI is ingevolge die ooreenkoms vyf jaar lank verbied om die aandele te verkoop. Dié tydperk loop op 31 Oktober vanjaar uit en GPI het besluit om die aandeel te verkoop.

Die aandele is deels deur Standard Bank en deels deur Spur en GPI self gefinansier, gerugsteun deur voorkeuraandele in GPI.

Die koopprys verteenwoordig ’n premie van 9,1% meer as die geweegde gemiddelde aandeelprys van Spur soos op 2 Junie gemeet. Maar in die vyf jaar het Spur se aandeelprys met nagenoeg ’n derde geval.

Spur sal nagenoeg R260 miljoen vir die aandele betaal. Hiervan sal GPI R153 miljoen aan Standard Bank moet betaal en R113 miljoen aan Spur.

Die tekort wat waarskynlik gaan ontstaan, gaan in ’n ingewikkelde transaksie met GPI-aandele gefinansier word.

Spur sê die rede vir dié besluit is dat hy dit nie in sy beste belang beskou dat 10,9 miljoen aandele vanaf 1 November verhandelbaar raak nie. Spur sê dis in aandeelhouers se beste belang om sy kontantreserwes te gebruik om die aandele self te koop.

GPI sê op sy beurt die uitskakeling van die skuld sal sy algehele winsgewendheid en kontantskepping verbeter.

GPI is onder enorme druk weens die mislukte poging om Baskin-Robbins en Dunkin’ Donuts in Suid-Afrika te vestig. Hy het ten duurste vir die meesterlisensie betaal, maar het vroeër vanjaar die stryd gewonne gegee en die winkels gelikwideer.

Aandeelhouers van albei maatskappye moet die transaksie op ’n spesiale vergadering goedkeur.

Reguleerders moet die transaksie ook goedkeur en die hof moet dit bekragtig.

Indien die transaksie al die nodige goedkeurings kry, sal dit nie later nie as 14 Oktober deurgevoer word.

Saam met die terugkoop van tesourieaandele, gaan die aantal Spur-aandele met nagenoeg 16% daal, wat op sy beurt tot ’n styging van 12% in Spur se verdienste per aandeel sal lei.

Meer oor:  Spur  |  Aandele  |  Skuld  |  Restaurante  |  Handelsname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.