
Grand Parade Investments gaan sy hoofkantoor in Heerengracht, Kaapstad, vir R90 miljoen verkoop.
Die Kaapse bemagtigingsgroep Grand Parade Investments (GPI) se transaksie om sy belang in Sun Slots te verkoop, het deur die mat geval.
GPI, wat ook in die proses is om ontslae te raak van sy plaaslike lisensie vir die bedryf van die internasionale kitskosreus Burger King, sou sy 30%-belang in Sun Slots terugverkoop aan Sun Slots self as deel van ’n beheerde verkoop van bates wat hy nie meer beskou as sy kernbedrywighede nie.
GPI kon wel dié week ’n transaksie aankondig waarin hy sy hoofkantoor in Kaapstad aan ’n eiendomsontwikkelaar vir R90 miljoen gaan verkoop.
GPI sou die wins uit die Sun Slots-transaksie gebruik om sy skuld te verlaag en deel van die wins sou as ’n spesiale dividend aan aandeelhouers uitgekeer word, of hy sou aandele terugkoop, het die groep Donderdag gesê.
Een van die voorwaardes vir die transaksie moes egter teen einde Junie vervul word, wat insluit regulatoriese goedkeurings deur die betrokke dobbelrade. Sun Slots bedryf beperkte-uitbetaal dobbelmasjiene.
Die Wes-Kaapse en Gautengse dobbelrade het albei op 30 Junie vergader, maar die Gautengse dobbelraad kon nie ’n besluit neem oor die transaksie nie, en het dit tot 7 Julie uitgestel.
Dit blyk Sun International, die eienaar van Sun Slots, wou nie bes gee toe GPI met hom onderhandel het om die voldoeningsdatum uit te stel nie, en gevolglik het die transaksie-ooreenkoms nou verval.
“Ons is uiteraard teleurgesteld dat die transaksie deur die mat geval het. Sun Slots is ’n gehalte-onderneming met goeie kontantvloei. Ons meen die alternatiewe dobbelbedryf sal veel gouer herstel van die Covid-19-pandemie as die konvensionele dobbelondernemings (casino’s),” sê Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof van GPI.
GPI gaan sy hoofkantoor in Heerengracht 33 in Kaapstad aan Aragon Property Development vir R90 miljoen verkoop.
Die eiendom sal teen April 2021 aan Aragon oorgedra word. GPI het wel ’n ooreenkoms met Aragon dat hy ’n opsie sal hê om die eiendom teen ’n beter prys aan ’n derdeparty te verkoop as daar wel voor dan iemand opdaag met ’n beter prys, en ingeval Aragon nie bereid is om ’n soortgelyke teenaanbod te maak nie. Die transaksie is onderhewig aan ’n noulettendheidstudie wat Aragon binne die volgende maand moet doen.
GPI het benewens sy hoofkantoor ook sy vlagskip Burger King-tak op die perseel gehad. Dit was die eerste Burger King-restaurant wat in Mei 2013 in Suid-Afrika geopen is. Aragon sal van die huurkontrakte van die gebou oorneem, hoewel nuwe klousules ingesluit is vir vroeë kansellasie in die huurkontrakte met GPI-filiale wat ook deel van die gebou beset.