Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI: Vonke op nuwe vergadering verwag
GPI het die Suid-Afrikaanse bedryfslisensie vir die Amerikaanse roomyswinkel Baskin-Robbins, wat roomyskoeke soos dié maak.Foto: BASKIN-ROBBINS

Die vonke gaan na verwagting weer Woensdagaand in Athlone, Kaapstad, spat wanneer die spesiale vergadering oor Grand Parade Investments (GPI) se direksie hervat word.

Dis uit ’n Sens-verklaring wat Woensdagoggend uitgereik is duidelik dat die uitvoerende direkteure, onder leiding van die voorsitter, dr. Hassen Adams, die afdanking van drie nie-uitvoerende direkteure hand en tand sal beveg.

Die spesiale vergadering het op 31 Oktober begin, maar het ná hete gesprekke verdaag omdat die meeste aandeelhouers gevoel het hulle weet nie genoeg oor waarom ’n groep minderheidsaandeelhouers nuwe bloed in die direksie wil hê nie en wou daarom nie daaroor stem nie. Daarby het van die nie-uitvoerende direkteure wie se koppe in gedrang is, gevoel hulle het nie die kans gekry om hul kant van die saak te stel nie.

Adams was nie op 31 Oktober teenwoordig nie omdat hy glo die middag siek geword het.

Lees ook: GPI-direkteure kry blaaskans op vurige vergadering

GPI, wat benewens sy dobbelbelange, onder meer in Sun Slots, ook die meesterfranchisehouer vir Burger King, Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins in Suid-Afrika is, is in die spervuur van minderheidsaandeelhouers wat glo die maatskappy bloei kontant, onder meer omdat sy direksie nie onafhanklik genoeg is nie en sy bestuur nie ervare genoeg met kitskos is nie.

Die groep minderheidsaandeelhouers bestaan uit Denker Capital, Kagiso, Excelsia Capital, Rozendal Partners en Westbrooke Alternative Asset Management. Hulle besit namens hul kliënte nagenoeg 12,6% van GPI.

Die batebestuursfirmas het GPI gedruk om ’n spesiale vergadering te belê waarop hulle die verkiesing van drie nuwe nie-uitvoerende direkteure wil bewerkstellig. Die drie moet dr. Norman Maharaj, Alexander Abercrombie en Nombeko Mlambo vervang, wat onderskeidelik al tien, 21 en 21 jaar in die direksie dien en daarom nie meer as onafhanklik beskou word nie.

Die groep het in Oktober in ’n ongewone stap ’n skakelfirma aangestel omdat hulle 18 maande lank vrugteloos met die bestuurspan van GPI probeer praat het oor hul bekommernisse, volgens Ricco Friedrich, ’n direkteur van Denker.

In die Sens-verklaring in die aanloop tot Woensdagaand se vergadering, kap GPI se uitvoerende direkteure op hul kenmerkend regstreekse manier terug teen die bewerings. Die uitvoerende direkteure is Adams, uitvoerende voorsitter, Prabashinee Moodley, uitvoerende hoof, en Colin Priem, finansiële hoof.

Die verklaring herhaal baie van die punte wat voorheen geopper is, met die klem daarop dat GPI ’n “unieke maatskappy met ’n kenmerkende agtergrond is”.

Dis begin as ’n gemeenskapsgegronde breëbasis-bemagtigingsmaatskappy, en is opgebou van grondvlak af. Hoewel die maatskappy sedertdien op die JSE genoteer is en oop is vir alle beleggers, bly dit getrou aan sy ontstaan . . .

“Dis begin as ’n gemeenskapsgegronde breëbasis-bemagtigingsmaatskappy, en is opgebou van grondvlak af. Hoewel die maatskappy sedertdien op die JSE genoteer is en oop is vir alle beleggers, bly dit getrou aan sy ontstaan . . .

“Dit beteken, onder meer, dat kleiner, gemeenskapsgegronde aandeelhouers net so belangrik is en ’n gelyke stem het as groter, institusionele beleggers.”

Luidens die Sens-verklaring gaan die nie-uitvoerende direkteure voorleggings doen wanneer die spesiale vergadering hervat word.

“Die betrokke direkteure is almal herhaaldelik met oorweldigende aandeelhouersteun deur aandeelhouers verkies, van hulle so onlangs as op die laaste jaarvergadering van die maatskappy (in Januarie).

“Die betrokke direkteure het na ons mening ’n sentrale rol gespeel om die maatskappy se strategie as ’n beleggingsbeheersaak aan te dryf en was deel daarvan om die inherente waarde te bou waarna die voorstellers in hul brief verwys het.”

Die Sens-verklaring lê klem op die direkteure se “unieke vaardighede, ervaring en perspektief”, waardeur hulle ’n “baie waardevolle” bydrae lewer.

Die uitvoerende direkteure reken al het die nie-uitvoerende direkteure nie ervaring van kitskos nie – soos die minderheidsaandeelhouers tereg uitwys – het hulle ’n “breë reeks vaardighede om die oorhoofse strategie van die onderneming te dryf”.

“Ons let daarop dat nie al die voorstellers se benoemdes vaardighede of ervaring in die kitskosbedryf het nie, en niemand het ervaring in die dobbelbedryf nie.”

Vrae oor leierskap

Die uitvoerende direkteure ontken die bewering dat daar “leierskapsuitdagings” by GPI is, selfs al was daar heelwat skuiwe die afgelope ruk.

Dit sluit in dat Tasneem Karriem minder as ’n jaar die uitvoerende hoof was. Shaun Barends, finansiële hoof, het ook in Junie bedank.

“Onlangse uitvoerende bedankings het met persoonlike redes of familieverpligtinge verband gehou. Die bestuur reken die bedankings word deur die voorstellers verwring om dit in pas te bring met ’n narratief wat die voorstellers probeer skep het met betrekking tot die maatskappy se leierskap.”

Die minderheidsaandeelhouers het ooglopend ’n probleem met Hassen en sy leierskapstyl. Hul skakelfirma het middel Oktober ’n hofuitspraak versprei waarin regter Dennis Davis beveel dat Adams as trustee van die Houtbaai-ontwikkelingstrust verwyder word.

Dele is uitgelig wat Adams se “eerlikheid en goeie trou” bevraagteken.

Lees ook: GPI-baas Hassen Adams ’n ‘boelie’, sê hof

Oor kitskos

Oor die bewering dat die maatskappy se belange in kitskos verliese ly, sê die uitvoerende bestuur Burger King is in 2013 in Suid-Afrika bekend gestel en is nou nagenoeg R1 miljard werd. Vergelykbare verkope groei, ondanks die swak ekonomie, en die bestuur glo Burger King het “massiewe groeipotensiaal”.

Die bestuur sê hulle het van meet af aan gesê Burger King sal nie binne ses jaar ná sy bekendstelling winsgewend wees nie.

Wat die “swak presterende bates” Dunkin’ Donuts en Baskin-Robbins betref, het GPI reeds besluit om nie meer kapitaal toe te wys om nuwe takke oop te maak nie. “Ons het ook die mark ’n verbintenis gegee dat ons dié handelsmerke in die toekoms sal laat vaar indien hul prestasie nie verbeter nie.”

Lees ook: Wie eet groentee-roomys?

Die Sens-verklaring sluit af met: “Aandeelhouersaktivisme moet verwelkom word, maar verandering lewer nie altyd die gewenste resultate op nie, en daar is baie voorbeelde waar dit groei teengewerk het en tot ’n vernietiging van waarde gelei het.

“Die bestuur is bekommerd dat die voorgestelde hersamestelling van die direksie negatief vir die maatskappy en die inwerkingstelling van die maatskappy se huidige strategie sal wees, wat die bestuur vol vertroue is sal aanhou waarde skep vir aandeelhouers.”

Meer oor:  Burger King  |  Baskin-Robbins  |  Maatskappye  |  Direksie  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.