Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GPI vra redes vir stem teen salarisse

Grand Parade Investments (GPI) nooi aandeelhouers wat teen sy vergoedingsbeleid gestem het, uit om hul redes daarvoor te gee.

Dit kom nadat 60,56% van aandeelhouers op die jaarvergadering op 12 Desember teen die beleid gestem het, en 62,8% ook teen die inwerkingstelling van die beleid. Dit was twee afsonderlike resolusies op die jaarvergadering.

Daarby het net 72,59% van aandeelhouers die vergoeding van nie-uitvoerende direkteure goedgekeur, teenoor die minimum van 75% wat vereis word voordat dit in werking gestel kan word.

Die stemmery op ’n jaarvergadering oor vergoedingsbeleid is nie bindend nie, maar die spesiale resolusie oor direkteure se vergoeding wél.

GPI, wat onder meer Burger King se meesterlisensiehouer in Suid-Afrika is en ook belange in die dobbelbedryf het, nooi aandeelhouers in ’n Sens-verklaring om in te skakel op ’n telefoonkonferensie op 28 Januarie.

Aandeelhouers wat teen die vergoedingsbeleid of die inwerkingstelling daarvan gestem het, word genooi om hul vrae of bekommernisse aan die maatskappysekretaris voor te lê. Dit moet voor 14 Januarie gedoen word.

GPI is die afgelope ruk in die nuus nadat ’n groep batebestuursfirmas wat namens hul kliënte 12,6% van GPI besit, ’n openlike veldtog begin voer het om GPI se direksie te vernuwe.

Die betrokke aandeelhouers, wat onder meer Denker Capital insluit, is erg bekommerd oor die daling in GPI se aandeelprys en die verliese wat die maatskappy ly, grootliks sedert die meesterlisensie vir Dunkin’ Donuts en die roomyswinkel Baskin-Robbins verwerf is. Dié twee Amerikaanse kitskosrestaurante brand plaaslik vas.

Hul kommer het gelei tot ’n spesiale vergadering waarin twee nuwe nie-uitvoerende direkteure ingestem is: Mark Bowman, ’n vorige topbestuurder by die bierreus SABMiller, en Ronel van Dijk, vorige finansiële bestuurder by Spur Corporation.

Hassen Adams, uitvoerende voorsitter, het die aandeelhouers van ’n poging tot ’n vyandige oorname beskuldig.

Intussen het Prabashinee Moodley op 7 Desember as uitvoerende hoof bedank - die tweede uitvoerende hoof in net meer as ’n jaar wat bedank.

Meer oor:  Dunkin' Donuts  |  Burger King  |  Grand Parade Investments  |  Gpi  |  Hassen Adams  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.