Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Wie se vegetariese wors is die lekkerste?
Veganistiese worsies raak al meer gewild, maar watter een is die lekkerste?

Al hoe meer Suid-Afrikaners neig deesdae na ’n dieet wat “alternatiewe vleisprodukte” insluit.

Dié skynbaar veganistiese benadering tot kos dwing supermarkgroepe om al hoe meer plantprodukte te bied wat proe en lyk soos vleis, maar geen diereprodukte bevat nie.

Nadat Netwerk24 berig het Woolworths verkoop nou vier vegetariese worsies vir ’n stewige R200, het ander supermarkgroepe laat blyk dat hulle ook alternatiewe worsies en hamburgerpatties van plantoorsprong te koop aanbied.

Netwerk24 het die verskillende opsies op die proef gestel en dit beoordeel op grond van geur, voorkoms, smaak en tekstuur.

Ons het uiteindelik vyf verskillende soorte worsies sonder diereprodukte met mekaar vergelyk:

  • Wors 1: Linda McCartney se vegetariese worsies (beskikbaar teen R19,99 vir ses by Checkers);
  • Wors 2: Fry’s se tradisionele worsies (beskikbaar teen R53,99 vir agt by Pick n Pay);
  • Wors 3: Beyond Meat se plantworsies (beskikbaar teen R199,99 vir vier by Woolworths);
  • Wors 4: Urban Vegan se “boerewors” (beskikbaar teen R59,99 vir vier by Wellness Warehouse); en
  • Wors 5: Quorn se peper-en-kruie-worsies (beskikbaar teen R42,99 vir ses by Pick n Pay).

Pryse is soos op 15 Januarie by winkels in Kaapstad.

      

Die stryd van die worsies

Elke soort worsie is in ’n pan met ’n bietjie olie in die kombuis by Media24 se kantoor in Kaapstad berei.

Tien kollegas het die worsies in ’n blindproe beoordeel.

Nege uit die tien proefkonyne is gesoute vleiseters wat bykans elke naweek ’n stukkie vleiswors oor die kole gooi. Net een kollega volg ’n veganistiese dieet.

Geeneen van die worsies was ’n klinkklare wenner nie, hoewel van hulle beslis gewilder was as ander. En die vleiseters wat deelgeneem het, is nie van plan om binnekort ’n stuk boerewors vir ’n plantworsie te verruil nie.

Só is elke wors uiteindelik bepunt:

  • Wors 1: 2,5 uit 5
  • Wors 2: 2 uit 5
  • Wors 3: 3 uit 5
  • Wors 4: 3,1 uit 5
  • Wors 5: 2,2 uit 5

Dié gemiddelde punt is bepaal deur elke wors afsonderlik te beoordeel op grond van geur, smaak en tekstuur.

Woolworths se peperduur plantwors het nie koning gekraai as die “beste worsie” nie, maar dit was net ’n kortkop agter die uiteindelike wenner: Urban Vegan se “boerewors”.

k

   

Hoe ruik dit?

Urban Vegan se “boerewors” het die beste punt behaal op grond van geur en voorkoms. Die tien proefkonyne het dit ’n gemiddelde punt van 3 uit 5 daarvoor gegee.

“Ruik beslis die beste en lyk ook baie soos boerewors,” het een opgemerk. 

Nog een het gesê die wors lyk die naaste aan die ware Jakob hoewel dit geen vleis bevat. (Urban Vegan mag tegnies nie sy produk "boerewors" noem nie, aangesien boerewors volgens wet uit minstens 90% vleis moet bestaan.)

Heelwat proeërs het dié wors ’n punt van 4 uit vyf vir geur en voorkoms gegee. Fry’s se plantworsies het die slegste in dié afdeling gevaar en ’n gemiddelde punt van 1,8 uit vyf behaal.

“Dié wors dreig my; dit lyk aaklig,” was een proeër se kommentaar. “Dit ruik ook oud en muwwerig.”

Nie Woolworths of Checkers se aanbod het juis die proeërs op grond van geur of voorkoms beïndruk nie. Ook nie Quorn nie.

Kollegas, en groot vleiseters, het weggelê een die vegetariese worsies.

Smaak dit lekker? 

Die belangrikste faktor is sekerlik hoe die worsies smaak en of die tekstuur daarvan naastenby soos die van wors met vleis is.

Gegrond daarop was daar twee duidelike wenners: Beyond Meat se plantwors en weer Urban Vegan se “boerewors”.

Albei dié worse het ’n gemiddelde punt van drie of meer uit vyf vir hierdie afdelings behaal.

Urban Vegan was volgens die beoordelaars die lekkerste én die tekstuur daarvan was die naaste aan “regte” wors.

Sowel Fry’s as Quorn se worsies het teleurgestel wat smaak betref; albei het ’n gemiddelde punt van 2,3 uit vyf daarvoor behaal.

Van die klagtes oor Fry’s sluit in dit het “die tekstuur van ’n goedkoop Weense worsie” en “dis te grof”.

Beyond Meat se wors proe vir die veganistiese deelnemer glo net soos ’n ware varkworsie, iets wat sy jare laas geëet het.

Daar is geen twyfel dat Woolworths se duur Beyond Meat-worsies se tekstuur baie na aan vleiswors is nie.
Linda McCartney se plantworsies is goedkoop en lekker. Wees net versigtig: dit brand maklik.
Quorn se aanbod het nie groot aftrek gekry nie. Dit is as “smaakloos” beskryf.
Urban Vegan se “boerewors” was ’n groot gunsteling en uiteindelik die wenner. Selfs rou lyk dit nogal nes boerewors.
Fry’s se worsies was ook nie baie gewild nie.

   

So watter wors wen?

   

Gegrond op smaak, geur en tekstuur was Urban Vegan se “boerewors” uiteindelik die wenner met Woolworths se duur Beyond Meat-opsie in die tweede plek.

Die prys van dié twee opsies verskil ook hemelsbreed met Beyond Meat wat byna vier keer duurder is as Urban Vegan.

Linda McCartney’s bied wel die beste waarde vir geld. Dit kos minder as R20 vir ses worsies en dit het ook op twee na die beste gemiddelde punt behaal. Net Beyond Meat en Urban Vegan het beter gevaar.

Veral die smaak het goeie aftrek gekry onder die proeërs.

Waarvan word vegetariese worsies gemaak?

Die hoofbestanddeel in dié soort worsies is plantproteïen soos sojabone, ertjies, boontjies of rys.

Dit bevat ook groot hoeveelhede speserye, kanola- en kokosneutolie asook gemodifiseerde koringmeel.

Dit bevat ook verskeie preserveermiddels.

Plaaslik vervaardigde vegetariese produkte soos dié van Fry’s en Urban Vegan laat ook ’n heelwat kleiner koolstofvoetspoor as ander vleisprodukte.

Checkers, Woolworths en Pick n Pay voer egter hul vegetariese opsies in van oorsee, wat beteken dit is nie so omgewingsvriendelik nie.

Beyond Meat kom van Amerika, terwyl Quorn en Linda McCartney s’n van Brittanje ingevoer word.


Meer oor:  Pick N Pay  |  Checkers  |  Woolworths  |  Vegetaries  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.