Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Grand Parade weer winsgewend
Mense staan tou voor die Burger King toe dit in Sandton, Johannesburg, oopgemaak het.Foto: Argief

Grand Parade Investments (GPI), eienaar van die kitskoskettingroep Burger King in Suid-Afrika, is weer winsgewend. Hy verwag selfs om binne die volgende twee jaar kapitaal aan aandeelhouers uit te keer.

Dié Kaapse bemagtigingsgroep het in die halfjaar tot einde Desember ’n wins van R6,4 miljoen teenoor ’n jaar gelede se verlies van R36,4 miljoen behaal.

Maar aandeelhouers was nie te beïndruk nie en die aandeelprys was Vrydag op die JSE 10% laer op R2,70. Die aandeel het in November verlede jaar nog teen R3,80 verhandel.

GPI het die afgelope jare moeilike tye deurleef, met sy haastige uitbreiding van Dunkin Donuts en Baskin Robbins wat misluk het, en sy besluit om nou ook van Burger King tesame met Sun Slots en sy Grand Foods-vleisverwerkingsaanleg ontslae te raak.

GPI het ook afskeid geneem van een van sy medestigters en jare lange uitvoerende voorsitter, dr. Hassen Adams, wat onlangs weens gesondheidsredes uitgetree het.

Mohsin Tajbhai, uitvoerende hoof van GPI, sê die afgelope 18 maande was uitdagend, maar hy is bly om te sien dat die groep se strategiese plan om skuld te verlaag en doeltreffendheid te verbeter het gehelp om winsgewendheid te verbeter.

Burger King Suid-Afrika se omset het in die halfjaar met 27,5% gegroei, en vergelykende verkope was 7,8% beter. GPI wil Burger King SA verkoop, so in die oorsigtyd het hy hom eerder op die verbetering van die winsgewendheid van swak presterende restaurante as op uitbreiding toegespits. Net twee nuwe Burger King-restaurante is in die ses maande oopgemaak, wat die totaal op 97 te staan bring.

Grand Foods, wat die hamburgers vir Burger King lewer, het stewige groei getoon danksy die groter vraag van Burger King, en die vleisaanleg se netto wins ná belasting het met 218% tot R2,2 miljoen opgeskiet.

Mac Brothers, GPI se afdeling wat spysenieringstoerusting verkoop, is erg geraak deur die inkrimping in die konstruksie- en die vervaardigingsektor en die laer vraag na spysenieringstoerusting. Sy omset het in die halfjaar met 24% geval. Die afdeling se klandisiewaarde is gevolglik met R38,6 miljoen afgeskryf.

Die dobbelbedryf is ook deur die ekonomiese verlangsaming geraak, en SunWest, waarin GPI ’n belang het, se bydrae tot die wesensverdienste het met 4% gekrimp.

Tajbhai is optimisties dat GPI lae skuld en ekstra kontant gaan hê as die groep eers van Sun Slots, Burger King en Grand Foods ontslae is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.