SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Maatskappye
Green Cross sluit fabriek, honderde verloor werk

Green Cross gaan sy fabriek in Kaapstad ná 39 jaar sluit en sy moedermaatskappy gaan nou net skoene invoer.

Die klerewerkersvakbond Sactwu wil steeds probeer om die sluiting om te keer. Green Cross behoort aan die verbruikersgoederegroep AVI.

’n Skermgreep van Google Maps toon die Green Cross-fabriek in die Epping-nywerheidsgebied in Kaapstad.

Honderde poste sal verlore gaan as die fabriek gesluit word.

Green Cross is ’n eg Suid-Afrikaanse handelsnaam wat in 1975 sy ontstaan in Kaapstad gehad het uit ’n skoenmakery wat Karl en Hildegard Zeppel begin het. Die Zeppels was van ’n familie van skoenmakers in Duitsland.

Die fabriek in die Epping-nywerheidsgebied in Kaapstad is in die 1980’s gebou en sedertdien word Green Cross se skoene daar vervaardig.

Volgens Simon Eppel, navorsingsdirekteur van Sactwu, word 320 werkers van die Green Cross-fabriek stelselmatig afgelê en is baie van die werkers reeds laat gaan. Hy sê dit gaan uiteindelik sowat 1 500 mense – die werkers plus hul afhanklikes – verder in armoede dompel.

“Sover ons weet disinvesteer Green Cross heeltemal van vervaardiging in Suid-Afrika en gaan ’n subkontrakteur aangestel word om die skoene te vervaardig en in te voer.”

Green Cross het oor die jare begin om van sy skoene in te voer, maar ’n groot deel daarvan is steeds plaaslik vervaardig, sê Eppel.

Samesmelting die probleem?

Die genoteerde AVI het Green Cross in 2012 gekoop.

Die verkryging is as ’n groot samesmelting geklassifiseer, wat dus deur die Mededingingstribunaal goedgekeur moes word.

Volgens Eppel het AVI en Green Cross voor die tribunaal teenoor die vakbond onderneem dat geen werkverliese uit die samesmelting sal spruit nie. Dit was nie ’n voorwaarde van die samesmelting nie, maar die goedkeuring was onderhewig aan dié belofte.

Hy sê Sactwu het die Mededingingskommissie genader om die redes vir die werkverlies te ondersoek en moontlik die samesmelting te herroep. Dit is die eerste keer dat Sactwu die Mededingingskommissie vra om ’n besluit oor ’n samesmelting te herroep.

Sactwu sê ook die afdankings is in weerwil van wat die sakebedryf in Oktober op die werkberaad aan pres. Cyril Ramaphosa beloof het om alles moontlik te doen om werkverliese te keer.

Volgens Eppel glo Sactwu die situasie by Green Cross kon vermy gewees het.

“AVI het Green Cross sedert die samesmelting in 2012 op die rotse laat beland.

“Tot 2012 was Green Cross ’n buitengewoon gesonde en suksesvolle plaaslike skoenmaatskappy. Die maatskappy het die chaos oorleef wat die sterk mededinging van invoer sedert die 2000’s in die klerebedryf veroorsaak het en het selfs die stormagtige internasionale finansiële krisis van 2008 oorleef.

“Sactwu glo Green Cross sou nie die fabriek moes toemaak en werkers aflê as AVI nie die maatskappy gekoop het nie.

“Ons glo die probleme by Green Cross het regstreeks ontstaan weens die verandering in eienaarskap in 2012 en die nuwe strategiese en bedryfsbesluite wat geneem is.”

AVI se jaarverslag vir die boekjaar tot einde Junie 2018 toon Green Cross se inkomste het van R327,5 miljoen in 2013 tot R371,9 miljoen in 2017 gestyg. In 2018 het die inkomste met 1,6% tot R366,1 miljoen gedaal.

Sy winsgewendheid het egter sedert 2013 skerp gedaal. Dit was in 2013 op ’n hoogtepunt van R79,9 miljoen en het in 2014 tot R58,8 miljoen gedaal. In 2018 het dit met 77% tot R6,2 miljoen geval.

Die bedryfswinsmarge het van 24,4% in 2013 tot 1,7% in 2018 geval.

“Green Cross het ’n aantal jare onderpresteer en hoewel dit betreklik klein is binne die groep, verteenwoordig dit ’n geleentheid wat gemis is,” het Gavin Tipper, voorsitter, en Simon Crutchely, uitvoerende hoof, in die 2018-jaarverslag gesê.

In die halfjaar tot einde Desember verlede jaar is begin met die herstrukturering van Green Cross. Dit het ’n wesenlike koste teweeggebring wat ’n invloed op AVI se bedryfswins gehad het.

Green Cross het in November met die voorgeskrewe konsultasieproses begin nadat daar besluit is om alle vervaardiging in Epping te stop, lui die halfjaarresultate.

In die halfjaar het Green Cross se inkomste met 20% gedaal nadat minder skoene verkoop is.

Indien die voorsiening wat gemaak is vir herstruktureringskoste ingesluit word, het Green Cross in die halfjaar ’n bedryfsverlies van R18,8 miljoen getoon vergeleke met ’n wins van R4,4 miljoen in die eerste helfte van verlede jaar.

AVI bevestig sluiting

AVI het in ’n verklaring bevestig vervaardiging is reeds by sy fabriek in Epping gestop ná konsultasie met personeel afgehandel is.

Dit volg op ’n omvattende hersiening van die opsies wat beskikbaar is om die onderneming tot volhoubare winsgewendheid te herstel.

“Die gevolgtrekking is dat dit nie moontlik is vir Green Cross om suksesvol mee te ding en te groei in die hoogs mededingende mark vir gemaklike skoene waarin hy bedrywig is met sy huidige bedryfsmodel wat staatmaak op wesenlike plaaslike vervaardiging nie.” 

Volgens AVI het produksie tot onder ekonomiese vlakke afgeneem nieteenstaande wesenlike beleggings in sy fabriek. “Dit het veroorsaak dat koste nie verhaal kan word nie en dit maak dit onmoontlik vir Green Cross om ’n volhoubare vlak van winsgewendheid te bereik.”

Volgens AVI is Green Cross in ’n baie mededingende deel van die skoenmark bedrywig wat meestal met ingevoerde produkte meeding.“Bestuur glo dis nodig om na ’n bedryfsmodel te verskuif wat heeltemal op invoer fokus om die groot- en kleinhandelondernemings te beskerm.”

Meer oor:  Avi  |  Klerekleinhandel  |  Sactwu  |  Kosvervaardigers  |  Kleinhandelaars  |  Klerebedryf  |  Kleinhandel  |  Verbruikersbesteding  |  Klere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.