Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groepeis kom dalk oor Covid

Altesame 186 eienaars van hotelle, gastehuise en restaurante wil ’n groepeis teen korttermynversekeraars instel omdat hul Covid-19-verwante versekeringseise nie uitbetaal word nie.

Die gastehuis 10 Alexander in Stellenbosch. Die eienaar, Paul Kruger, se eis weens ’n verlies van inkomste is afgekeur.

Duncan Heafield, eienaar van die restaurante Bellezar in Umhlanga Rocks in KwaZulu-Natal en Helderfontein in Johannesburg, is die sameroeper van dié groep. Hy het aan Rapport gesê hulle het met regslui en ’n konsultant wat in versekeringseise spesialiseer, beraadslaag en dié meen die eisers het ’n sterk saak.

“Ons almal wie se eise afgewys is, het soortgelyke briewe van ons versekeraars ontvang wat wys daar is gesamentlik onder hulle besluit om nie eise uit te betaal nie,” het Heafield gesê.

“In ander gevalle stuur hulle hul assessors uit wat vrae vra waarvoor jy ’n PhD nodig het om die regte antwoorde te gee. Of hulle vereis dokumente en bewyse, soos die naspeuring van positiewe gevalle van Covid-19 wat maande sal neem om te voorsien.”

Heafield sê sulke sloertaktiek kos ondernemings duisende rande in ’n tyd van beperkte hulpbronne.

Slegs ’n handvol van Suid-Afrika se korttermynversekeraars, waaronder Santam, Old Mutual Insure en Bryte, bied uitgebreide gebeurlikheidsversekering vir bedryfsonderbreking. Dié klousule maak melding van ’n gebeurlikheid soos ’n moord, verkragting en die uitbreking van ’n plaag of aansteeklike siektes wat lei tot sake-onderbreking en ’n gevolglike verlies van inkomste.

Talle ondernemings het eise ingedien omdat hul polisse voorsiening maak vir dekking in die geval van aansteeklike siektes, maar dis afgewys.

Versekeraars krabbel terug en sê die inperking het nie te make met ’n aansteeklike siekte op sigself nie en eise kan net uitbetaal word as ’n geval van Covid-19 op die sakeperseel aangemeld is.

Polishouers wat eise ingedien het, word verplig om bewyse te lewer dat die siekte wel op die perseel voorgekom het.

Polishouers wat eise ingedien het, word voorts verplig om bewyse te lewer dat die siekte wel op die perseel voorgekom het.

’n Gastehuis wat byvoorbeeld ’n eis wil indien, sal volgens die versekeraars slegs kan eis vir die terugbetaling van deposito’s vir dié gaste wat verplig was om in kwarantyn te gaan.

Paul Kruger, eienaar van 10 Alexander B&B in Stellenbosch, is een van dié wie se eis afgekeur is. Die bewoording van Kruger se polis by Santam lui die kontrak maak, benewens kansellasies, voorsiening vir skade wat volg op die onderbreking of belemmering van die onderneming as gevolg van ’n “aansteeklike of besmetlike siekte” wat binne ’n 51 km-radius van die versekerde persoon se perseel is en waar die owerheid opgetree het om toegang tot die gebied te beperk.

Toerisme verloor miljoen poste

As die toerismebedryf in Suid-Afrika eers teen die einde van die jaar toegelaat word om sake te doen, kan die bedryf hom maar gereedmaak vir meer as een miljoen verlore poste.

Só sê Tshifhiwa Tshivhe­ngwa, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse toerismesakeraad (TBCSA).

“Ons het aan die president gesê as dit so is dat die toerismesektor eers tussen Oktober en November open, 600 000 regstreekse poste sal verdwyn, plus 500 000 werkgeleenthede in die sektore wat met die toerismebedryf sake doen,” het Tshivhengwa gesê.

In die eerste maand van inperking het meer as 80 000 werknemers in die toerismesektor by die Covid-19-Ters-skema aansoek gedoen om vergoeding en in Junie sal die getal na verwagting tot meer as 300 000 toeneem.

Die departement van toerisme het sy strategiese plan vir die jaar dié week aan die parlement voorgelê, maar daarop gewys daar is nie voldoende data waarop ’n herstelplan vir die bedryf geskoei kan word nie.

Kruger het aan Rapport gesê versekeraars voer aan die “bedoeling” van die omskrywing in die polis het te doen met iets soos cholera, waar ’n onderneming dit moet aanmeld as só ’n geval op die sakeperseel voorgekom het, en die onderneming moet sluit en ontsmet word. Hulle voer aan ’n pandemie soos Covid-19 word nie ingesluit nie.

“Maar daar is ’n reuse-verskil tussen ‘bedoelings’ en die omskrywing in die versekeringskontrak,” het Kruger gesê.

Santam is een van die versekeraars wat aanvoer die inperking kom nie neer op die kwarantyn-vereiste vir die uitbetaling van eise nie, maar Kruger sê dit is bloot ’n woordspeletjie.

“Dit is juis omdat ons, kragtens die inperkingsregulasies wat ingestel is as gevolg van Covid-19, alle besprekings moes kanselleer en die onderneming moes sluit.”

Kruger is nie betrokke by die beoogde groepeis nie en het reeds ’n klagte by die korttermynversekeringsombud ingedien.

Sonette Botes, ’n onafhanklike finansiële adviseur wat in korttermynversekering spesialiseer, meen kleinsake-eienaars wat vir inkomsteverliese as gevolg van ’n aansteeklike siekte verseker is, se eise moet eerbiedig word omdat hul kleiner inkomste regstreeks die gevolg is van Covid-19.

Talle versekeraars, waaronder Santam en Bryte, het reeds nuwe klousules aan polishouers uitgereik wat voortaan enige eise vir aansteeklike siektes uitsluit.

Die Suid-Afrikaanse Versekeringsvereniging het aan Rapport gesê geldige eise ingevolge kontrakte tussen polishouers en versekeraars sal aandag kry en wel uitbetaal word.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Toerisme  |  Hotelle  |  Vlak 3  |  Toerismebedryf  |  Vlak 4  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.