Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot advokate skud togas reg vir Steinhoff

Daar sal waarskynlik nie sommer gou weer soveel swaargewig-advokate saam in een hofsaal wees soos Woensdag, wanneer die partye wat geld van Steinhoff eis, in die hooggeregshof in Kaapstad verskyn nie.

Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, staan nie Woensdag se hofaansoek teen nie en sal waarskynlik nie in die hof wees nie. Foto: Getty Images

Die hof hoor Woensdag en Donderdag die partye se vertoë aan oor hoekom hul eise nie gekonsolideer moet word nie.

In Oktober is berig dat Steinhoff ’n hofaansoek gebring het dat al die eise teen hom saamgevoeg en saam aangehoor moet word.

Daar is 32 respondente in die aansoek, almal partye in altesame 12 eise teen die groep. Onder die respondente is Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, en Ben la Grange, die voormalige finansiële hoof.

LEES OOK: Partye gekant teen Steinhoff se plan met hofsake

Nicholas James Lewis, maatskappysekretaris van Steinhoff, sê in die hofstukke al die respondente, buiten Jooste en La Grange, staan dit teen.

Die respondente se repliek teen die aansoek beslaan gesamentlik meer as 1 000 bladsye.

Lewis het aangevoer dat die konsolidasie van die sake tot voordeel van die hof en die partye sal wees. Hy meen dit gaan onprakties wees om al die sake afsonderlik aan te hoor.

Die grootste eis teen Steinhoff – ’n eis van altesame R60 miljard – is van Christo Wiese, voormalige voorsitter en grootste aandeelhouer van Steinhoff.

Christo Wiese, billionaire and chairman of Steinho
Christo Wiese se eis teen Steinhoff is die grootste enkele eis. Foto: Getty Images

Die tweede grootste eis is R12 miljard van Lancaster 101 wat saam met die staatspensioenfonds (GEPF) in Steinhoff belê het.

Ander respondent sluit in die voormalige eienaars van Tekkie Town, asook die sakeman GT Ferreira en die personeel van Pepkor.

Bernard Mostert, een van die voormalige eienaars van Tekkie Town, sê sover hy weet, staan almal die aansoek teen behalwe Jooste en La Grange.

Hy sal verbaas wees as Jooste Woensdag daar is.

“Die groot rede hoekom ons dit teenstaan, is almal het hul eie unieke saak en dit kan nie gekonsolideer word nie. Hoe Jaap du Toit bevark is, is nie hoe ons bevark is of GT bevark is nie.”

“Ons glo dit is ’n vertragingstaktiek,” het Riaan Meintjes van Hayes Ing., wat die trustees van die Le Toit Trust in ’n eis van R740 miljoen verteenwoordig, voorheen gesê.

“Dit gaan langer neem om by ’n verhoor uit te kom as dit saam aangehoor word, want dit moet dan gelyk gereed wees om aangehoor te word.”

Hy het gesê dit is ’n lywige aansoek.

Meer oor:  Steinhoff  |  Markus Jooste  |  Christo Wiese  |  Meubels  |  Meubelhandel  |  Kleinhandelaars  |  Bedrog  |  Kleinhandel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.