Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot kommer oor lenings vir Vaalrivier-projekte
Weermaglede by ’n rioolsuiweringsaanleg aan die Vaalrivier.

Die Trans-Caledon-tonnelowerheid (TCTA) ontken daar gaan kontantvloeiprobleme by sy Vaalrivierstelsel-waterprojekte ontstaan omdat die tesourie nog nie toestemming gegee het dat hy weer geld in die mark daarvoor mag leen nie.

Die TCTA is ’n staatsonderneming wat waterinfrastruktuurprojekte ontwerp en dan geld in die kapitaalmark daarvoor insamel.

Onder die Vaalrivierstelsel-waterprojekte tel die Lesotho-Hoogland-waterprojek en die dreinering van suur mynwater.

(Sien hiernaas die aankondiging in Desember deur die TCTA aan beleggers in sy skuldbriewe oor ’n groot kontrak wat in 2016 onreëlmatig toegeken is aan ’n maatskappy wat sy sentrale aanleg vir die dreinering van suur mynwater bedryf het.)

Die TCTA mag binne ’n leningsperk wat deur die minister van water en sanitasie met instemming van die minister van finansies goedgekeur word, geld leen vir die Vaalrivierstelsel (VRS).

Die huidige leningsperk is in Oktober 2013 goedgekeur en verval einde Maart.

Die totale lenings onder die huidige leningsperk is R14,3 miljard. Daarvan is R9,7 miljard op die JSE by beleggers geleen deur skuldbriewe uit te reik. Die res is langtermynlenings en ander tipes kredietgeriewe.

Die aansoek vir die nuwe leningsperk vir die komende vyf jaar is Mei verlede jaar aan die departement van water en sanitasie verskaf en is deur die minister goedgekeur. Dit is daarna in Oktober na die minister van finansies vir instemming gestuur, wat vir duidelikheid oor sekere aspekte gevra het. Volgens die TCTA is die antwoorde in November verskaf.

Die TCTA meen die nasionale tesourie sal binnekort toestemming gee, maar dis onduidelik presies wanneer. Die TCTA beskou egter die oponthoud as ’n “tydelike gebrek aan ’n leningsperk eerder as ’n onttrekking van instemming”. Die TCTA meen dit is ’n “administratiewe aangeleentheid en moet nie as kontrakbreuk van enige skuldooreenkoms beskou word nie”.

Dit beteken egter ook sonder ’n leningsperk kan geen nuwe lenings van April af aangegaan word nie.

Dit lei tot sekere risiko’s insluitende dat hy kontantvloeiprobleme met die Vaalrivierstelsel-waterprojekte kan ontwikkel.

Die TCTA glo egter die likiditeitsrisiko is “baie laag” gegewe dat die kontant wat na verwagting gaan invloei in die komende ses maande en tot Maart 2020 meer as die uitvloei gaan wees.

Die TCTA meen dit is ’n administratiewe aangeleentheid en moet nie as kontrakbreuk van enige skuldooreenkoms beskou word nie.

Dit is ten spyte van die kapitaalterugbetalings en rente wat in die komende ses maande R650 miljoen onderskeidelik gaan beloop. In die twaalf maande tot einde Maart 2020 beloop die rente wat betaal moet word op sy skuld R1,3 miljard en die kapitaal wat terugbetaal moet word R750 miljoen.

Met die kontantbalans van R1,3 miljard tans en die TCTA se Vaalrivier-tarief wat R6,5 miljard inbring, gaan dit hom einde Maart 2020 ná BTW, bedryfskoste en ná die kapitaalbesteding aan die Lesotho-projek en die dreinering van suur mynwater, met R1,1 miljard laat.

Maar, maan die TCTA, sommige van die VRS se leners kan meen die gebrek aan ’n leningsperk is nie suiwer ’n administratiewe kwessie nie en hulle kan dit as kontrakbreuk beskou.

Die TCTA sê dit het ook al voorheen gebeur, in April en Junie 2014, met sy Mokolo-Krokodilrivier-wateraanvullingsprojek. Dit is toe deur leners as ’n administratiewe kwessie beskou wat tydelik is.

“Maar indien die TCTA se siening van hierdie risiko’s te hoopvol is, het leners die beskerming van die R21 miljard-regeringswaarborg aan skuldbriefhouers; die R4 miljard-regeringswaarborg aan houers van kommersiële papiere; en die R6,5 miljard se regeringswaarborg aan banke,” paai die TCTA se direksie in die verklaring wat op die JSE se nuusdiens, Sens, uitgereik is.

Ongerymdheid met kontrak

Die TCTA het in Desember skuldbriefhouers ingelig van onreëlmatige besteding van meer as R243 miljoen aan ’n aanleg vir die behandeling van suur mynwater in Germiston, Gauteng.

Die organisasie het gesê hy is in September 2016 ingelig van probleme met fakture van die diensverskaffer wat die aanleg vir die behandeling van suur mynwater in Germiston bedryf en instandhou.

In ’n ondersoek is gevind op 28 Julie 2016 het die TCTA se aankopebestuurder die diensverskaffer in ’n brief ingevolge ’n kontrak van R243 miljoen oor drie jaar aangestel om die aanleg te bedryf en in stand te hou.

’n Kontrak van daardie waarde vereis die goedkeuring van die direksie, en dit is nie verkry nie. Dit was dus ’n onreëlmatige aanstelling en die kontrak is gekanselleer.

ENS Forensics is Mei 2017 deur die direksie aangestel om die omstandighede waaronder die kontrak toegeken is, te ondersoek. Die ondersoek is in Oktober 2017 voltooi.

Die belangrikste bevindinge was dat daar sterk bewyse van bedrog en korrupsie in die toekenning van die kontrak is, en dat daar bewyse is van ’n front vir swart ekonomiese bemagtiging.

Die TCTA het op aanbeveling ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en tugstappe is teen die aankopebestuurder ingestel, wat daartoe gelei het dat hy uit sy pos onthef is.

Business Insider het berig die TCTA het gesê dit het eers ’n aanmeldbare onreëlmatige transaksie geword nadat sy eksterne ouditeur, EY, sy oudit vir die boekjaar tot einde Maart 2018 gefinaliseer het, en daarom is dit geopenbaar.

Meer oor:  Vaalrivier  |  Korrupsie  |  Opruimingswerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.