Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot mylpaal vir Comair se sakeredding behaal

Comair se krediteure en aandeelhouers het Vrydag die lugdiens se sakereddingsplan met ’n groot meerderheidstem goedgekeur.

Die maatskappy het dit in ’n verklaring bevestig, maar nie gesê wat die stempersentasies was nie. Dit sal Maandag op die JSE se nuusdiens, Sens, uitgereik word.

Wrenelle Stander is as hoof van Comair se lugdienste-afdeling aangestel. Foto: Comair

Dit beteken ’n konsortium beleggers wat bestaan uit voormalige Comair-direkteure en bestuurslui gaan 99% van die maatskappy vir R500 miljoen koop. Dis nagenoeg wat die maatskappy se markwaarde was toe die verhandeling van sy aandele vroeër vanjaar opgeskort is.

Die plan beteken Comair, wat Kulula en die Suid-Afrikaanse filiaal van British Airways bedryf, sal denoteer. ’n Nuwe direksie sal ook aangewys word.

Oor die volgende twee maande sal altesame R100 miljoen deur die beleggers betaal word om die sakereddingsplan te finansier.

Die maatskappy moet ook nog finansiering bekom. Daarvan moet R600 miljoen nuwe lenings wees en R800 miljoen uitstel op bestaande skuld. Die betaling van rente op die skuld word vir ses maande opgeskort en die betaling van kapitaal vir ’n jaar.

Die maatskappy gaan nagenoeg 400 mense aflê, hoofsaaklik deur vrywillige skeidingspakkette en vroeë aftrede, asook die voortsetting van die art. 189-proses wat begin is reeds voordat Comair in Mei in sakeredding geplaas is. Die lugdiens sal 1 800 personeellede behou.

Die lugdiens gaan ook sy aantal vliegtuie tot 25 verminder, wat geleidelik oor ’n tydperk van sewe maande weer in diens gestel gaan word.

Die eerste Kulula-vlugte sal eers in Desember begin.

Bestaande verhoudinge met British Airways, Discovery Vitality, Slow Lounges en Boeing sal behou word.

Wrenelle Stander, uitvoerende hoof, het die aanvaarding van die sakereddingsplan verwelkom.

Die grootste rede vir die maatskappy se probleme was die enorme R790 miljoen wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens hom ingevolge ’n hofbevel geskuld het as ’n boete vir teenmededingende gedrag.

Daarna het die staat van inperking vir die Covid-19-pandemie Comair hard getref, soos lugdienste wêreldwyd.

“Toe die inperking plaasgevind het, was sakeredding die enigste verantwoordelike plan van aksie. As ons nie daardie moeilike besluit geneem het nie, sou Comair nooit weer gevlieg het nie. Daar gaan dalk nog ’n paar hindernisse vorentoe wees, maar ten minste is helder lug sigbaar,” sê Stander.

Richard Ferguson, een van die sakeredders, sê daar moet steeds aan heelwat voorwaardes voldoen word. Indien dit nie gebeur nie, sal die maatskappy op ’n ordelike manier gelikwideer word.

Glen Orsmond, voormalige uitvoerende hoof, het sy dankbaarheid aan krediteure en aandeelhouers uitgespreek, asook vir die oorweldigende ondersteuning van Comair-personeellede. Orsmond is deel van die konsortium wat Comair help red.

Die verwagting is dat die sakeredding suksesvol afgehandel sal wees teen 31 Maart 2021.

Die nuus kom op dieselfde dag wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakeredders ’n vergadering belê het waarop aandeelhouers en krediteure die staatsbeheerde lugdiens se pad vorentoe moes bespreek. Dis omdat die staat tot op hede nie vorendag gekom het met die geld wat nodig is om die SAL te red nie.

Die regering het op die nippertjie gesê hy sal binne die volgende week R10,5 miljard aan die SAL gee. ’n Nuwe vergadering van krediteure is vir volgende Vrydag belê.

Meer oor:  British Airways  |  Kulula  |  Comair  |  Covid-19  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Lugdienste  |  Koronavirus  |  Sakeredding  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.