Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot nuus kom van Wimpy-eienaar Famous Brands

Het Famous Brands sy vingers sodanig in Brittanje verbrand dat hy sy burger-restaurante daar wil verkoop?

Dis die bespiegeling op Twitter, met onder meer Anthony Clark van Vunani Securities wat reken dis wat agter Famous Brands se bondige Sens-verklaring van Vrydagoggend sit.

Famous Brands – wat onder meer Wimpy, Steers, Mugg & Bean en Tashas in sy stal het – het bloot gesê hy “oorweeg strategiese opsies” oor een van sy restaurante wat ’n wesentlike invloed op sy aandeelprys kan hê. Hy waarsku beleggers om omsigtig te wees wanneer hulle aandele koop of verkoop.

Gourmet Burger Kitchen ly verliese in Brittanje.

Die maatskappy het by navraag gesê hy is nou in ’n geslote tydperk in aanloop tot die uitreiking van sy tussentydse syfers vir die halfjaar tot einde Augustus en kan nie in dié stadium enigiets meer sê nie. “Die maatskappy sal die mark op hoogte hou van enige verwikkelinge.”

Famous Brands se aandeelprys het Vrydagoggend skuins voor 10:00 met 0,32% tot R99,98 gedaal. Die aandeelprys het sedert sy hoogste sluiting, van R166,10 in Oktober 2016, byna 40% van sy waarde verloor.

Famous Brands het die afgelope jaar ’n enorme verlies gely met Gourmet Burger Kitchen (GBK), ’n groep restaurante wat luukse burgers in Brittanje en Ierland bedien, en wat hy in Oktober 2016 aangeskaf het.

Die ontleder Chris Gilmour het die afgelope week – vóór die Sens-verklaring – in Business Day geskryf dit lyk of die groep “meer afgebyt het as wat hy kan kou”.

Famous Brands het twee jaar gelede £210 miljoen (destyds R2,1 miljard) vir GBK betaal. In die boekjaar tot einde Februarie is ’n afskrywing van R340 miljoen gedoen vir GBK, wat ’n bedryfsverlies van £7,8 miljoen in die tydperk gely het.

Die maatskappy het toe gesê GBK verloor op verskeie fronte. Dis byvoorbeeld nie ’n handelsnaam wat kan deel in die stygende vraag na tuisaflewerings nie omdat sy uitsoekburgers gemiddeld tien minute langer neem om voor te berei as ander kitskos. Al hoe minder mense besoek groot winkelsentrums, waar die meeste GBK-restaurante geleë is.

GBK is vinnig besig om markaandeel te verloor – waar dit in 2016, toe Famous Brands dié handelsnaam gekoop het, 43,1% van die markaandeel van spesialisburgers gehad het, staan dit nou op net 31,5%. Verkope landwyd het met 4,9% gestyg, maar verkope in restaurante wat ook die vorige jaar oop was, het met 6,8% geval. Dis in pond gemeet.

Daarby is koste soos arbeid baie hoog in Brittanje.

Ander restaurante waarvan Famous Brands dalk ontslae wil raak, is die kitskosgroep Mr Bigg’s in Nigerië.

Aan die tuisfront gaan dit ook glad nie voor die wind met Famous Brands nie, maar dit sal nogal ’n groot verrassing wees indien die groep van een van sy plaaslike kontantkoeie, soos Wimpy en Steers, ontslae raak. Wimpy is die grootste bron van inkomste vir die groep.

Famous Brands het die afgelope jaar nagenoeg 100 restaurante gesluit, die meeste van hulle takke van Steers, Wimpy en Debonairs wat nie wins gemaak het nie.

Hy is steeds besig om die braaihoendergroep Giramundo en die bakkery The Bread Basket toe te maak en dit lyk asof die roomyswinkel Wakaberry ook nie juis aftrek kry nie.

Famous Brands reik sy halfjaarresultate vir die ses maande tot einde Augustus op 29 Oktober uit.

Die maatskappy het Donderdag in ’n vrywillige Sens-aankondiging gesê mededinging in die eerste vyf maande van dié tyd was baie straf, wat sy winsgrense onder druk plaas.

Nietemin is daar ’n groot verbetering in sy syfers vir sy restaurante in Suid-Afrika, die res van Afrika en die Midde-Ooste, terwyl GBK steeds “onderpresteer”.

Verkope in die vyf maande tot einde Julie het met 5,7% gestyg, maar met net 2,8% by restaurante wat ook in dieselfde tyd oop was. Verkope by nisrestaurante, wat Mythos, Tashas en ander insluit, het met 7,5% gestyg, maar met 2,9% gedaal by vergelykbare restaurante.

Verkope by GBK het met 6,4% gedaal en in vergelykbare restaurante met 10,6% gedaal. Die afdeling se bedryfsverlies beloop £2,24 miljoen net vir die vyf maande.

Die restaurantbedryf in geheel sukkel omdat verbruikers onder erge druk is en luukse besteding afskaal. Spur Corporation, wat onder meer Spur, Hussar Grill, RocoMamas en Panarottis in sy stal het, en Taste Holdings, wat Starbucks, Domino’s Pizza en The Fish & Chip Co besit, het ook die afgelope ruk droewige syfers uitgereik.

Famous Brands het steeds ’n inkomste van R7 miljard vir sy boekjaar verdien.

Meer oor:  Steers  |  Wimpy  |  Famous Brands  |  Restaurante  |  Kitskos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.