Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot siviele eise kan kom oor verbod op kookkos

Die regering kan hom verskeie hofgedinge en skadevergoedingseise op die hals haal namate regslui gate skiet in die regsgeldigheid van sommige van die inperkingsregulasies weens die Covid-19-pandemie.

Woolworths se winkel in die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad. Foto: Argief

Die regsfirma Webber Wentzel het pas die winkelgroep Woolworths ingelig hy kan ’n aansienlike siviele eis teen die regering indien weens wetstoepassers wat die winkel verbied om gekookte kos te verkoop of waar wetstoepassers beslag lê op sulke kos in die winkels.

’n Regsmening van Webber Wentzel wat via Twitter versprei is, lui dat daar geen bepaling in die inperkingsreëls bestaan wat die verkoop van enige kategorie kos verbied nie. Die reëls bepaal juis “enige kosproduk” is toelaatbaar om verkoop te word.

“Dit maak nie saak of die item rou, verwerk, bevrore of gekook is nie, ook nie of dit gesond of ongesond is nie en of dit ’n luukse item is of nie. Wat ook al die item is, as dit deur ’n mens geëet kan word, mag dit aan verbruikers verkoop word,” lui Webber Wentzel se advies aan Woolworths.

Die sakeorganisasie Sakeliga dreig ook om Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, hof toe te neem as hy nie teen Maandag 09:00 sy uitsprake oor ’n verbod op die produksie en verkoop van voorbereide, warm en gekookte kos terugtrek nie.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê hulle het regsadvies gekry dat daar geen regmatige beperking op die produksie van gekookte en voorbereide kos is soos waarop Patel aandring nie.

“Die blote idee dat die verkoop van warm, gaargemaakte of voorbereide kos gestaak behoort te word is irrasioneel en skadelik vir die openbare gesondheid,” sê Le Roux gesê.

Volgens hom sal Sakeliga sakeondernemings en nieregeringsorganisasies wat noodsaaklike dienste lewer, help om pasgemaakte regsmenings oor dié kwessie te kry.

Dean Macpherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid. Foto: Morapedi Mashashe

Dean Macpherson, DA-woordvoerder oor handel en nywerheid, het intussen aan Patel geskryf om te vra op grond van watter regsadvies hy onlangs bepaal het dat gekookte en voorbereide kos nie tydens die inperking verkoop mag word nie. Volgens Macpherson is die verbod onlogies en absurd en sal dit nadelige gevolge inhou vir gesondheidspersoneel, lede van die veiligheidsdienste, noodsaaklikedienswerkers en vragmotorbestuurders wat van voorbereide of gekookte kos afhanklik is weens die werk wat hulle doen.

“Die owerhede tree onwettig op deur die verkoop van gekookte kos te probeer keer of om op kos van toonbanke af beslag te lê. Hulle word potensieel deur ’n groot siviele eis in die gesig gestaar,” waarsku Webber Wentzel.

Dit kom nadat Woolworths die regsfirma om ’n regsmening geraadpleeg het omdat Woolworths deur die polisie ingelig is hy mag nie enige gekookte of voorafbereide kos verkoop nie. Dit sluit gekookte kos in wat by Woolworths se bakkerye verkoop is, asook ander gekookte kos wat verpak en by Woolworths se gewone toonbanke verkoop word, asook bevrore voorbereide kos.

Webber Wentzel voer aan die gekookte kos is juis lewensbelangrik vir talle verbruikers omdat nie almal gewone kookgeriewe tuis het nie of nie tyd het om kos te maak nie, soos veral nooddienswerkers en gesondheidspersoneel.

Die gebruik van gekookte en bevrore voorbereide kos help juis die doel van die inperking aan, want verbruikers kan dan meer kos tuis in hul vrieskaste opgaar, wat die verkeer na winkels verminder.

Dit kom ook nadat ’n woordvoerder van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Donderdag in ’n radio-onderhoud aangevoer het die verkoop van voorafbereide etes en gekookte kos is “verbode”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.