Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Groot verlies vir Net1 ná Sassa-kontrak verstryk

Die tegnologiegroep Net1 wat jare lank ’n kontrak met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) gehad het om staatstoelae aan begunstigdes uit te betaal, se winskraantjie is behoorlik toegedraai nadat sy kontrak met Sassa tot ’n einde gekom het.

’n Ou Sassa-kaart. Staatstoelae word nou deur die Poskantoor uitbetaal.

Die maatskappy het ’n groot verlies in die kwartaal tot einde Desember gely nadat sy kontrak aan die einde van die vorige kwartaal verstryk het.

“Dit was ’n baie moeilike kwartaal vir ons maatskappy,” het Herman Kotzé, uitvoerende hoof, gesê.

Net1 se totale inkomste het met 31% van R2 miljard ($148,4 miljoen) tot R1,39 miljard ($97,2 miljoen) in die kwartaal gedaal.

’n Verlies van R916,9 miljoen is gely vergeleke met die wins van R137,9 miljoen in die ooreenstemmende kwartaal.

Dit veroorsaak ’n verlies in die halfjaar tot einde Desember van R947,4 miljoen, vergeleke met die wins van R425,9 miljoen in die ooreenstemmende halfjaar.

Die faktore wat ’n uitwerking op sy resultate in die tweede kwartaal gehad het, sluit in:

  • Die kontrak van sy filiaal Cash Paymaster Services (CPS) met Sassa wat op 30 September verstryk het. CPS het geen inkomste van Sassa vir die tweede kwartaal gerapporteer nie.
  • ’n Wesenlike daling in sy EasyPay Everywhere (EPE)-rekeninge weens Sassa se outomatiese verskuiwing van begunstigdes na die Poskantoor. Net1 kla dit is dikwels eensydig en sonder die ontvanger van die toelae se toestemming gedoen. Gevolglik het Net1 ’n verlies aan maandelikse inkomste op die relevante EPE-rekeninge gely, sowel as R335,5 miljoen se voorsiening vir mikrolenings waaroor twyfel bestaan of dit terugbetaal gaan word. Einde Desember het Net1 slegs 1,1 miljoen aktiewe EPE-rekeninge gehad. Aan die einde van sy vorige boekjaar, einde Junie, het Net1 pensioene en welsynstoelae namens die regering aan meer as 3 miljoen aktiewe EPE-verbruikers versprei en ’n bykomende vyf miljoen klante wat maatskaplike toelae ontvang het.
  • ’n Verlies wat spruit uit die billike-waarde-aanpassing vir sy belegging in Cell C. Dit is nie ’n kontantverlies nie, maar beloop R226,5 miljoen.

Net1 rapporteer sy resultate in drie sake-segmente en twee van hulle het groot verliese gely weens die kontrak met Sassa wat verstryk het. So het die verskillende bedrywighede se inkomste en wins gelyk:

  • Verwerking van transaksies in Suid-Afrika: Die inkomste het met 64% tot R314,7 miljoen gedaal van R876,7 miljoen in die ooreenstemmende kwartaal. Dié daling is hoofsaaklik weens die kontrak met Sassa wat tot ’n einde gekom het. Sy inkomste en wins is ook negatief geraak weens die minder EPE-rekeninge. ’n Groot verlies van R161,2 miljoen is in dié segment gely.
  • Verwerking van internasionale transaksies: Die inkomste hier het met 10% tot R546,1 miljoen van R603,9 miljoen gedaal. Hierdie afdeling het ook van ’n wins in die ooreenstemmende kwartaal tot ’n verlies van R55 miljoen omgeswaai.
  • Die segment wat beskryf word as “produkte wat finansiële insluiting bewerkstellig”: Dit is produkte wat saamgebondel word en in Suid-Afrika onder die handelsnaam EasyPay Everywhere beskikbaar is en wat ’n transaksionele rekening is wat mikrolenings, versekering en selfoonprodukte aanbied. Die inkomste hiervan het met 25% tot R555,2 miljoen van R739,8 miljoen geval. Dié segment het in die ooreenstemmende kwartaal nog R154 miljoen se wins getoon en toon nou ’n verlies van R252,6 miljoen.

Al drie die sakesegmente ly ’n bedryfsverlies in die halfjaar.

“Tans is ons primêre fokus daarop om dadelik die verliese in ons Suid-Afrikaanse finansiële bedrywighede om te keer . . . en om einde van die boekjaar weer gelyk te breek,” sê Kotzé in ’n verklaring op Sens.

Hy sê die direksie en bestuur glo die probleme waardeur die maatskappy in die gesig gestaar word, is onder beheer en kan in die nabye toekoms opgelos word. Hulle “bly optimisties oor die maatskappy se likiditeitsposisie oor die komende 12 maande”.

Net1 se aandeelprys het nie beweeg nie, maar op R45,49 is dit naby die vlak wat dit ses jaar gelede in Januarie 2013 was. Dit is 83% laer as sy hoogste vlak van R275 in Augustus 2015.

Meer oor:  Cash Paymaster Services  |  Cps  |  Net 1 Ueps Technologies  |  Net 1  |  Staatstoelae  |  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.