Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five ‘die begin van die einde’ vir konstruksie
Die bouperseel van die nuwe Leonardo-hotel- en woonstelblok in Sandton, wat deur Aveng gebou word.

Suid-Afrika se konstruksiebedryf word gesloop.

Verhandeling in aandele van die konstruksiemaatskappy Group Five is Dinsdag ná 45 jaar op die JSE gestaak.

Dit volg nadat die maatskappy aansoek gedoen het om in sakeredding geplaas te word.

Dit is minstens die vierde plaaslike konstruksiemaatskappy binne ’n jaar wat hom nou in dié posisie bevind. Ander wat ook in sakeredding is, is Basil Read, Liviero en Esor.

Group Five het nou ’n markwaarde van minder as R100 miljoen nadat dit in 2007 ’n hoogtepunt van R8,2 miljard bereik het.

Terwyl die konstruksiesektor berug is daarvoor dat dit baie siklies is, is die huidige mengsel van ’n Suid-Afrikaanse ekonomie onder druk, hoë staatskuldvlakke en lae besteding op infrastruktuur ’n giftige kombinasie vir die sektor.

Duisende werksgeleenthede – insluitend sowat 8 000 by Group Five – is in gedrang. Dit is in ’n land waar die werkloosheidsyfer reeds bo 27% is.

“Konstruksiemaatskappye wat op Suid-Afrika fokus het die afgelope 12 maande van sleg na vrot agteruitgeboer,” sê Marc ter Mors, hoof van ekwiteitsnavorsing by SBG Securities in Johannesburg in ’n telefoniese onderhoud.

“Volumes is laag in Suid-Afrika, pryse is onder druk en maatskappye neem groter risiko’s om kontrakte te wen. Marges is smal wat weer kontantvloei benadeel. Daar is geen segmente binne die sektor om in weg te kruip nie,” sê hy.

Wisselvallige markte

Group Five sê steeds – na die aankondiging dat hy in sakeredding geplaas is – dat sy lang geskiedenis ’n bewys is van sy veerkragtigheid in “verskeie besonder wisselvallige markte”.

Hy het Dinsdag gesê hy ervaar reeds ’n geruime tyd kontantvloeiprobleme.

Murray & Roberts (M&R) – nog ’n konstruksiemaatskappy – het die tekens van die tye gesien.

Dié maatskappy wat onder meer die Carlton-sentrum in Johannesburg gebou het – steeds die hoogste gebou in Afrika – het sy bou- en infrastruktuurafdelings reeds in 2016 verkoop.

Hy fokus op veral ondergrondse mynwese, olie en gas op internasionale vlak.

Hoewel M&R se markwaarde ook nou ’n fraksie is van wat dit eens was, het sy aandeleprys die afgelope jaar met 44% gestyg nadat Aton bekend gemaak het hy wil die maatskappy oorneem.

Die sektor se huidige probleme is ver van waar hy nege jaar gelede was in aanloop tot die Wêreldbekersokkertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika aangebied is.

Dié kompetisie het groot beleggings in infrastruktuur – onder meer in nuwe stadiums – vereis.

Opwinding oor daardie groei het egter vinnig getaan toe die Mededingingskommissie samespanning in die sektor begin ondersoek het.

Die reguleerder het in 2013 met 15 maatskappye geskik.

Hy het immuniteit aan Group Five gegee nadat dié ingestem het om sy samewerking te gee.

Staatsbesteding

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa in Februarie gesê het die staat spandeer minder op infrastruktuur, het hy ook gesê die staat sal oor die volgende tien jaar R100 miljard in ’n infrastruktuurontwikkelingsfonds betaal.

Die plan is om dié geld te gebruik om maatskappye in private- en staatsbesit te finansier om die sektor weer aan die gang te kry.

Intussen verhandel die Afrika konstruksie- en materiale-indeks op die JSE die afgelope 12 maande reeds 27% laer. Dit is teenoor ’n daling van 6% van die indeks van alle aandele.

Ter Mors waarsku sou Suid-Afrika se plaaslike konstruksiesektor heeltemal uitmekaar val, gaan konstruksieprojekte in die toekoms baie duur word.

Aveng, wat saam met M&R in 2010 een van die top 40-grootste maatskappye op die JSE was, het nou ’n markwaarde van R582 miljoen.

Dit is teenoor die R28 miljard in 2008.

“Suid-Afrika gaan gedwing word om op internasionale maatskappye en hul pryse staat te maak wanneer die siklus draai as hy nou sy vermoë uitput om sy eie infrastruktuur te bou.” – Bloomberg

Meer oor:  Group Five  |  Murray & Roberts  |  Basil Read  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.