Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five: Nog ’n geldkraan droog op
Group Five sukkel om kop bo water te hou. Foto: Elvira Wood

Die mynboufirma Exxaro het ’n groot kontrak met Group Five beëindig omdat dié konstruksiegroep in sakeredding is.

Johan Meyer, Exxaro se hoof van projekte en tegnologie, sê dis ’n “hartseer dag” omdat “meer as 750 kontrakwerkers” se poste in gedrang is.

Exxaro het ’n kontrak met Group Five Projects, ’n Group Five-filiaal, gehad.

Group Five Projects is op 3 April 2017 aangestel om ’n nuwe steenkoolmyn as deel van Grootegeluk se uitbreiding te bou. Die werk moes teen einde Mei 2019 voltooi word.

Exxaro sê die beëindiging van die kontrak sal meebring dat die projek vertraag word.

Grootegeluk is in Lephalale, Limpopo, en lewer tonne steenkool per maand aan die nuwe kragstasie Medupi.

Exxaro het ’n kontrak om vir die volgende 40 jaar jaarliks 14,6 miljoen ton steenkool aan Medupi te lewer en lewer dié tonnemaat al sedert 2015.

Eskom is kontraktueel verplig om die steenkool te koop, al is die kragstasie se bouwerk met jare vertraag en het dit nog nie al die steenkool nodig nie. Exxaro het Grootegeluk juis begin uitbrei om aan dié kontrak te voldoen.

Werknemers van Group Five het reeds die perseel verlaat.

Dit wil voorkom asof daar vrese vir probleme op die perseel is. Exxaro sê hy het sy regspan en mensehulpbronafdeling betrek “om stabiliteit op die perseel te handhaaf”.

Exxaro sê hy sal meer inligting bekend maak soos dit bekend word.

Group Five is op 12 Maart in sakeredding geplaas en die verhandeling in sy aandele op die JSE is opgeskort.

Dit het gebeur toe die konsortium leners wat aan hom R650 miljoen se oorbruggingsfinansiering gegee het, nie nog geld wou leen om die groep se kontantvloeiprobleme op te los nie.

Group Five het nagenoeg 8 000 werknemers en is reeds besig met die aflegging van sowat 1 000.

Die sakereddingsplan is verlede week gepubliseer.

Benewens Group Five is Basil Read, Liveiro en Esor ook in sakeredding. Aveng is ook diep in die moeilikheid.

Dit lyk of WBHO die konstruksiekrisis oorleef. Murray & Roberts het enkele jare gelede herstruktureer en van sy konstruksiearm ontslae geraak.

Meer oor:  Group Five  |  Exxaro  |  Sakeredding  |  Boubedryf  |  Konstruksiemaatskappy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.