Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five: Van paleis tot huis

Die konstruksiemaatskappy Group Five het uit sy luukse hoofkantoor in Waterfall, Midrand, getrek.

Hy het dié enorme ontwikkeling van 25 000 m² vir ’n kantoorruimte van ’n skamele 5 000 m² in Sunninghill in die noorde van Johannesburg verruil.

Group Five se ou hoofkantoor in Waterfall, noord van Johannesburg. Foto: Verskaf

Jackie van Niekerk, bedryfshoof van Attacq, die eiendomsbeleggingstrust (reit) wat albei die geboue besit, het Dinsdag dié verhuising bevestig.

“Die gebou waar Group Five nou ingetrek het, het voorheen aan PwC behoort. Ons het dié gebou as deel van die ooreenkoms om PwC se nuwe hoofkantoor in Waterfall te ontwikkel, gekoop,” sê sy.

“Die plan was aanvanklik om die gebou in Eglinweg 2 te verkoop, maar Group Five het gesê hy sal dit vir eers wil huur,” sê sy.

Group Five het reeds in April gesê hy beplan om uit sy groot kantoor na ’n kleiner perseel te verhuis om koste te bespaar.

Group Five het nou in PwC se ou kantoor in Sunninghill, Sandton, ingetrek. Foto: Google

Group Five is sedert verlede jaar onder geweldige druk.

Hy het in Augustus gewaarsku hy bloei steeds geld en verwag dat sy verlies per aandeel vir die jaar tot einde Junie met tussen 56,8% en 74,9% tot tussen R13 en R14,50 per aandeel gaan styg.

Die grootste rede vir die probleme is die kragstasie wat hy sedert 2014 in Kpone, Ghana, bou.

Vir die voljaar gaan die verlies op dié kontrak R1,3 miljard beloop. Hy loop ook die risiko van boetes weens die agterstand met die bouwerk.

Van Niekerk sê Group Five se vorige hoofkantoor in Waterfall word nou vir drie jaar aan Transnet verhuur.

“Transnet beplan reuseverbeteringe aan die Carleton-sentrum in die middestad van Johannesburg waar sy kantoor tans is.

“Hy het dus ruimte vir die volgende drie jaar gesoek tot tyd en wyl die opknappingswerk afgehandel word,” sê sy.

Van Niekerk sê Attacq sal dan ’n nuwe huurder of huurders vir die gebou soek.

“Gelukkig is die gebou so ontwerp dat dit maklik onderverdeel kan word. Ons het dus geen twyfel dat wanneer Transnet trek, ons dit maklik weer sal verhuur nie,” sê sy.

Wat betref die kantoor in Eglinweg, Sunninghill, sê Van Niekerk dat Attacq dié eiendom sal behou solank Group Five dit huur.

Sou Group Five besluit om uit te trek, is die plan om dit aan ’n ontwikkelaar te verkoop wat residensiële eenhede daar wil vestig.

Meer oor:  Group Five  |  Attacq  |  Genoteerde Eiendom  |  Kantooreiendom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.