Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five verkoop uit nood

Die beleërde konstruksiegroep Group Five het Vrydagmiddag aangekondig dat hy gedwing is om bates te verkoop om hom van totale ondergang te red.

Dit kan die groep sy kroonjuwele kos.

Group Five se sakeredding is gedoem as die maatskappy nie van sy filiale verkoop kry nie. Foto: Unsplash

Group Five is sedert 12 Maart in sakeredding nadat sy kliënt op die rampspoedige Kpone-kragprojek in Ghana hul kontrak gekanselleer het en waarborge ter waarde van $62,2 miljoen opgeroep het.

Dit het gevolg teen die agtergrond van uiters moeilike marktoestande in Suid-Afrika. Die sakereddingsaksie handel met die houermaatskappy Group Five Holdings en die filiaal Group Five Construction.

Hoewel al die ander entiteite in die Group Five-struktuur direk of indirek deur die twee maatskappye besit word, doen hulle steeds sake as lopende ondernemings en is hulle nie direk deel van die sakereddingspoging nie, het Group Five vroeër in ’n verklaring gesê. Dit beteken die groep se vervaardigings- en beleggings-en-konsessie-ondernemings gaan normaal voort.

Group Five het homself nog altyd onderskei van sy eweknieë in Suid-Afrika danksy die suksesvolle beleggings-en-konsessie-ondernemings. Dit sluit in belange in tolpadbedrywighede in Oos-Europa en elders in Afrika. Die ondernemings se winsgrense is baie hoër as konvensionele konstruksiewerk en dit lewer gereelde inkomste wat nie onderhewig is aan die sikliese aard van die konstruksiebedryf nie.

Group Five het te midde van sy verswakkende geldsake nog altyd probeer om tot elke prys die kroonjuwele te behou.

In Oktober 2017 het die groep ’n aanbod van Greenbay Properties verwerp om sy aandele in Europese konsessies vir R1,6 miljard te koop, en in Desember daardie jaar het hy aangedui dat daar ander belangstelling was.

Die groep het egter volgehou dat die ondernemings deel van sy kernbedrywighede is en dat hy daarom swaar daarvan sal afsien.

In Desember verlede jaar het Group Five gesê dat daar belangstelling in verskeie dele van die groep is, maar geen besonderhede verskaf nie.

Vrydag het die groep aangekondig dat hy nou inderdaad bates van die hand moet sit om te verseker dat hy sy laste verminder, verpligtinge kan nakom en genoeg bedryfskapitaal het gedurende die sakeredding.

As hy dit nie doen nie, is die sakeredding gedoem, sê Group Five.

Volgens die sakereddingspraktisyns is dit so dringend noodsaaklik om die transaksies af te handel dat daar nie tyd is om goedkeuring by aandeelhouers te kry nie.

Alle ander opsies vir finansiering is reeds uitgeput en die groep het geen ander keuse as om bates te verkoop nie, sê hulle. Die groep het ook bekend gemaak dat sy krediteure uitstel gegee het sodat die sakereddingsplan eers op 28 Junie gepubliseer kan word, tesame met besonderhede oor die bates wat reeds verkoop is en verdere beoogde transaksies.

Group Five sê verder dat hy in die lig van die sakereddingsaksie nie tans sy tussentydse resultate vir die ses maande tot einde Desember kan finaliseer nie en dat die sakereddingspraktisyns voortaan maandeliks aan aandeelhouers verslag sal doen.

Meer oor:  Group Five  |  Sakeredding  |  Boubedryf  |  Infrastruktuur  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.