Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five: Waar is Allan Gray nou?
Willem Louw, voormalige direkteur van Group Five.Foto: Elvira Wood

Selfs ’n blinde man met ’n stok kan teen dié tyd aanvoel dat die konstruksiegroep Group Five se dae getel is.

Dit is Willem Louw, voormalige direkteur van dié groep, se mening nadat Group Five Woensdag in ’n handelsverklaring gewaarsku het hy verwag ’n enorme verlies vir die boekjaar tot einde Junie.

Luidens ’n verklaring op die JSE se nuusdiens, Sens, verwag hy die verlies per aandeel gaan met tussen 56,8% en 74,9% tot tussen R13 en R14,50 per aandeel styg. Sy wesensverlies per aandeel styg ook met tussen 52,4% en 70% tot tussen R13 en R14,50 per aandeel.

Kpone-projek

Die grootste rede vir die probleme is die kragstasie wat hy sedert 2014 in Kpone, Ghana, bou. Bouwerk sal na verwagting einde September voltooi word.

Vir die voljaar gaan die verlies op die kontrak R1,3 miljard beloop.

Louw vaar behoorlik uit oor dié projek.

“Die Kpone-projek is nou nog drie maande later as wat tevore gerapporteer is (verdere verliese) en teen hierdie tyd is die boete vir laat voltooiing by sy limiet.

“Daar word gepoog om die aandeelhouers sag te maak met die boodskap oor teeneise op die projek. Gewoonlik is ‘(counter) claims have considerable merit’ kodering vir ‘ons gaan hard probeer maar is nie seker of daar genoeg meriete is nie’,” waarsku hy.

Aandeelprys

Daar word gepoog om die aandeelhouers sag te maak met die boodskap oor teeneise op die projek.
Willem Louw, voormalige direkteur van Group Five, oor die groep se Ghanese kragprojek

Group Five se aandeelprys het Woensdag kort ná die aankondiging met 31% tot net 68c geval.

“Ek vra weer die vraag: Hoe kan ’n aandeel wat ’n jaar gelede nog by die R15 was nou so ver geval het? Wanneer gaan die grootste aandeelhouer, Allan Gray, weer ’n aksie loods om die maatskappy om te draai of is dit te warm vir hulle in hierdie stadium?” vra Louw.

Louw verwys na die batebestuursfirma Allan Gray se ingryping in 2017 toe hy genoeg druk op die maatskappy geplaas het om sy hele direksie te vervang.

“Hoekom is daar nie nou nóg meer aggressiewe aandeelhoueraktivisme om die baie power resultate aan te tree nie? Die maatskappy moet sy konstruksiedeure nou beslis toemaak, veral in Suid-Afrika en dit self doen anders gaan iemand anders dit namens hulle doen,” waarsku hy.

Hy sê hy kan glad nie verstaan hoekom Group Five nog nie soos ander konstruksiemaatskappye wat Basil Read en Esor Construction insluit aansoek om sakeredding gedoen het nie.

Group Five het steeds nie bevestig wanneer hy sy jaarresultate gaan uitreik nie.

Hy sê in die verklaring dit sal in September wees, maar gee nie ’n spesifieke datum nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.