Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Group Five: Werknemers moet wag vir pakkette

Werknemers wat as deel van die sakereddingsproses by Group Five Construction hul werk verloor het, sal moet wag vir hul pakkette.

Group Five se hoofkantoor in Sunninghill, Johannesburg. Hy het kort voor hy in sakeredding geplaas is na dié kleiner gebou verhuis. Sy kantore was voorheen in Waterfall, Midrand. Foto: Elvira Wood

Luidens die nuutste verslag oor die vordering met die groep se sakeredding, sê die sakeredders “hoewel die maatskappy probeer om werkers wat afgelê is, te betaal, moet die betaling van afleggingspakkette ongelukkig uitgestel word totdat die maatskappy oor die voldoende geld beskik om dié bedrae ten volle te betaal”.

Group Five het R233 miljoen nodig om afleggingspakkette te betaal.

Group Five Construction en sy beheermaatskappy, Group Five, is op 11 Maart in sakeredding geplaas.

Die nuutste vorderingsverslag wat deur die sakeredders, David Lake en Peter van den Steen van Metis Corporate Advisory, uitgereik is, sê nie hoeveel werknemers geraak word nie.

Dit sê wel hoewel die eerste ronde afleggings spesifiek by Group Five Construction afgehandel is, word die maatskappy nou genoop word om nóg werknemers af te lê. Die proses sal na verwagting teen einde Junie afgehandel word.

Uitstel

Hoewel die sakeredders reeds besig is met herstrukturering by Group Five en Group Five Construction, sê hy dat die spertyd om ’n finale sakereddingsplan teen 28 Junie “optimisties” is.

Hulle sê in die verklaring hulle gaan aansoek doen om dié spertyd vir ’n tweede keer uit te stel.

Die plan moes oorspronklik reeds op 16 April gefinaliseer word. Daar is toe ook om uitstel aansoek gedoen en die datum van 28 Junie is goedgekeur.

Die maatskappy het Woensdag in ’n verklaring op die JSE se nuusdiens Sens aangekondig dat hy op 20 Junie ’n voorlegging aan aandeelhouers sal lewer.

Projekte

Luidens die nuutste verslag hoop Group Five Construction om 60 van die 79 projekte waarby hy betrokke is, af te handel.

Die sakeredders waarsku dat daar tog ’n kans is dat sommige van die projekte weens geldnood nié afgehandel sal word nie.

Van die groot projekte waarvoor hy onlangs finansiering ontvang het ná die inwerkingstelling van die sakereddingsplan en wat hy dus gaan klaarmaak, sluit in:

  • Werk aan die N2 tussen Caledon en Riviersonderend vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap;
  • Konstruksie van die nuwe hooggeregshof in Nelspruit vir die Onafhanklike Ontwikkelingstrust;
  • Die Jan Mouton-studiesentrum aan die Universiteit Stellenbosch; en
  • Fase 2 van die Waterfall- korporatiewe kampus in Midrand vir die Korporatiewe-kampusvennootskap.

Die sakeredders sê die stand van sake by sy projekte is as volg:

  • 39 word bedryf sonder enige eksterne finansiering;
  • 9 word bedryf met behulp van finansiering wat ná die inwerkingstelling van die sakereddingsplan bekom is;
  • Werk by twee projekte gaan binnekort hervat word sodra finansiering daarvoor gefinaliseer word;
  • Daar word direk met subkontrakteurs gewerk om vyf projekte af te handel;
  • Daar word met vennote gepraat om vyf projekte in geheel oor te neem en af te handel; en
  • 11 projekte is finaal gestop.

Bates

Group Five Construction is besig om van sy bates ontslae te raak. Luidens die verslag is daar gesprekke met verskeie partye om bates te verkoop. Hierbenewens het die maatskappy reeds sowat 180 stukke toerusting vir R115 miljoen verkoop.

Meer oor:  Group Five  |  Sakeredding  |  Konstruksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.