Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
GT Ferreira: ‘Ek voel verneuk’ deur Jooste

Hy is in 2015 persoonlik deur Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof van Steinhoff, genader om sy aandele in die Stellenbosse beleggingsgroep PSG, wat hy 20 jaar lank gehou het, vir Steinhoff-aandele te verruil. So sê die bekende Stellenbosse bankier GT Ferreira in ’n hofaansoek namens twee werkerstrusts om dié ruilooreenkoms ongeldig te verklaar.

GT Ferreira is een van die stigters van RMB.

Ferreira, medestigter van die bankgroep FirstRand, sê hy is in 2015 “verneuk” om sy aandele in PSG vir Steinhoff-aandele te verruil. FirstRand is die moedermaatskappy van onder meer FNB, WesBank en RMB.

In die hofaansoek verduidelik hy ook hoe bekommerd hy was oor die besluit en hoe sy jare lange vriend Jannie Mouton, voorsitter van PSG, daaroor gevoel het.

Groot verlies

Ferreira en twee werkerstrusts wat hy vir die werkers van sy wynplaas Tokara opgerig het, het meer as R1,1 miljard in Steinhoff verloor weens die ineenstorting van die maatskappy se aandeelprys sedert Desember.

Ferreira het onlangs die emosies – skok, ongeloof, teleurstelling, woede en selfverwyt – beskryf waardeur hy gegaan het sedert die skokaankondiging in Desember deur Steinhoff dat hy nie sy jaarstate kan uitreik nie. Jooste het ook as uitvoerende hoof bedank.

Lees ook: GT praat oor Steinhoff

Die aansoek deur Ferreira, Geralt Simon Fortuin en Sharon Geraldine October, namens die trusts, het Maandag in die hooggeregshof in Kaapstad gedien.

Hulle wil hê die hof moet die ruilooreenkoms van drie jaar gelede tussen hulle en Steinhoff International ongeldig verklaar sodat hul PSG-aandele aan hulle teruggegee word of hulle vergoed word vir die aandele.

Steinhoff staan die aansoek teen.

Ongevraag genader

In die hofaansoek verduidelik Ferreira dat Jooste, wat jare lank tot Desember 2017 ’n direkteur in PSG was, geweet het hy en die trusts hou ’n wesenlike blok aandele in PSG.

“In Mei 2015 het Jooste my genader met ’n voorstel om die aandele vir Steinhoff-aandele te ruil.”

Jooste het reeds vroeër aan hom genoem dat hy twee ander bekende sakelui, Thys du Toit (medestigter van Coronation) en Jaap du Toit (een van die medestigters van PSG), met die voorstel genader het om hul PSG-aandele te ruil en dat albei belang gestel het.

Volgens hom was dit duidelik dat Steinhoff “negatiewe beheer” van PSG wou kry. Die ruil van die aandele (insluitende van die twee Du Toits) sou meebring dat Steinhoff ’n belang van 25,1% in PSG hou.

“Wat presies die motivering van Steinhoff daarvoor was, is nooit heeltemal aan my verduidelik nie (en ek het ook nie belang gestel nie).”

Die toenadering van Steinhoff via Jooste was “ongevraag, maar toe die idee eers deur Jooste voorgestel is, het dit aantreklik gelyk”, sê Ferreira.

“Vir my was dit aantreklik dat ons aandele in ’n heeltemal plaaslike maatskappy (PSG) met ’n markwaarde van R50 miljard geruil sou word in ’n groter en meer diverse maatskappy met ’n markwaarde van R250 miljard en met internasionale blootstelling.”

Van links is Christo Wiese, voormalige voorsitter van Steinhoff, Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, en Markus Jooste, voormalige uitvoerende hoof, in Augustus verlede jaar op die aanbieding van die Shoprite-groep se resultate. Foto: Nellie Brand-Jonker

Dieselfde sosiale kringe

Ferreira verwys daarna dat hy die direkteure van Steinhoff persoonlik geken het en vertroue in hulle gehad het. Hy noem Jooste asook Ben la Grange, voormalige finansiële hoof, en Christo Wiese, voormalige voorsitter, wat toe self reeds ’n wesenlike belang in Steinhoff gehad het.

Hy het ook vir Jooste en La Grange oor Steinhoff se toekomsstrategie uitgevra.

“Albei het breedvoerig oor diversifikasie en wesenlike groeivooruitsigte gepraat.”

Die gesprekke was “dikwels informeel”.

“Jooste en ek, en in ’n mindere mate La Grange, het in dieselfde sosiale kringe beweeg en het mekaar dikwels by gesellighede gesien. Daarom het ek nie enige skriftelike bevestiging van baie van dié gesprekke nie.”

Hoewel hy Jooste, La Grange en Wiese geken en “onvoorwaardelik vertrou het”, beskou hy homself as ’n "redelike" slim belegger. Hy het ook Steinhoff se finansiële verslae hersien en daarop staatgemaak.

Jannie Mouton, voorsitter van PSG, het in 2015 gehoor hoe sy jare lange vriend Markus Jooste agter sy rug ’n ruiltransaksie met groot aandeelhouers van PSG aangegaan het. Foto: Stefan Els

Kommer oor Jannie

Ná die aanvanklike voorstel deur Jooste het die verdere korrespondensie daaroor met La Grange plaasgevind.

’n Paar e-posse is by die hofstukke aangeheg, soos die een van 23 Junie 2015 waarin die ruilverhouding van 2,65 Steinhoff-aandele vir elke PSG-aandeel voorgestel word.

Ferreira en die trusts het vir 5,9 miljoen aandele in PSG 15,7 miljoen aandele in Steinhoff gekry.

Ferreira het ook in ’n e-pos aan La Grange aangedui (sien meegaande uittreksel) hy neem met “weemoed” afskeid van sy PSG-aandele.

GT Ferreira verwys na die e-pos waarin hy gesê het hy aanvaar die aanbod met weemoed. Volgens hom was dit omdat hy al 20 jaar lank in PSG belê was.

Hy sê hy het dit so beskryf omdat hy die PSG-aandele so lank gehou het en dit nie ’n besluit was wat hy ligtelik geneem het nie.

“Boonop het ek dit baie moeilik gevind om Jannie Mouton, ’n goeie vriend en voorsitter van PSG, oor my voorneme in te lig om die PSG-aandele vir Steinhoff te verruil, selfs al het Jooste ons verseker dat Mouton nie ’n probleem met die voorgestelde ruiling het nie.”

Dis bekend Mouton was ontevrede met die transaksie en hoe dit deur Steinhoff (via Jooste) behartig is. Hy het glo eers daarvan gehoor nadat die ooreenkoms voltooi is, maar voordat dit in werking gestel is.

Nog korrespondensie tussen Ferreira en La Grange in die hofstukke sluit in ’n kennisgewing wat die belastingvoordele van die transaksie verduidelik. Ferreira sê dit het die belastingvoordeel verduidelik soos dit aanvanklik deur Jooste aan hulle verkoop is.

Die brief wat op 23 Junie 2015 deur Ben la Grange, voormalige finansiële hoof van Steinhoff, aan GT Ferreira gestuur is waarin verduidelik word hoe die ruilooreenkoms sal plaasvind. Netwerk24 het self die e-posadresse verwyder.

Verontreg

In die hofaansoek is sy brief van 12 Februarie vanjaar aan die direksie van Steinhoff aangeheg waarin hy aandui hy is “deur die wanvoorstellings wat deur Jooste en La Grange namens Steinhoff gemaak is, oortuig om die ruilooreenkoms aan te gaan.

“Met die huidige inligting tot my beskikking, kan ek sonder die minste twyfel sê dat ons besluit om Steinhoff-aandele te aanvaar, gegrond was op misleidende finansiële inligting.”

Ferreira verwys na die skielike bedanking van Jooste op 5 Desember wat die hele sakewêreld geskok het en die aankondiging dat van Steinhoff se jaarstate heraangegee sal moet word.

“Ek voel verontreg deur die onthulling dat die einste finansiële state waarop ek staatgemaak het, onwaar, onbetroubaar en ’n wanvoorstelling is van Steinhoff se finansiële posisie toe die ruilooreenkoms aangegaan is.

“Nog erger, ek voel verontreg dat die bestuur van Steinhoff – wat moes geweet het die finansiële posisie van die maatskappy is nie wat aan die mark voorgegee is nie – ongevraag die ruiltransaksie aan my voorgestel het.”

Hy voer aan hulle is doelbewus uitgesonder en oortuig om van hul PSG-aandele te ruil.

“Om die waarheid te sê, ek voel verneuk (duped) uit ’n waardevolle bate (die PSG-aandele) wat die twee trusts en ek gehou het.”

Ferreira voer in die hofaansoek aan hy is deur Steinhoff se verteenwoordigers – Markus Jooste en Ben la Grange – mislei.

Werkers benadeel

Volgens Ferreira het hy die twee werkerstrusts sowat 14 jaar gelede gestig en hulle het gesamentlik sowat 80 regstreekse begunstigdes, terwyl hul families onregstreeks begunstigdes is.

“Dit is werkersklasmense. Die bedoeling van die trusts was vanselfsprekend om te verseker dat die werkers en hul families voordeel trek uit hul bydrae tot die groei van Tokara.

“Die voordele wat uit die trusts kan (en sal) vloei, kan die lewens van geslagte beïnvloed.”

Die trusts het wesenlike bates opgebou en oor die afgelope agt jaar R24 miljoen aan die begunstigdes versprei. Die trusts het ook grond vir ’n behuisingsprojek gekoop.

Volgens hom was die PSG-aandele verreweg die trusts se waardevolste bate. Hulle het hul PSG-aandele sowat tien jaar besit.

Die finansiële posisie van die trusts het wesenlik agteruitgegaan sedert Desember.

Meer oor:  Steinhoff  |  Psg  |  Ben La Grange  |  Nellie Brand-Jonker  |  Gt Ferreira  |  Markus Jooste  |  Jannie Mouton  |  Maatskappye  |  Aandele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.