Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Gupta-ouditeur nou ook nie meer rekenmeester

Eers is hy nie meer ’n ouditeur nie, en nou mag Jacques Wessels weens sy “oneerlikheid” met die afteken van boeke wat met die omstrede Gupta-troue in 2013 te doen het, nie meer as rekenmeester praktiseer nie.

Jacques Wessels, die voormalige ouditeur en KPMG-vennoot wat die Gupta-maatskappy Linkway Trading se boeke afgeteken het. Foto: William Horne

Wessels, die voormalige KPMG-vennoot en ouditeur wat die Gupta-maatskappy Linkway Trading geoudit het, is amptelik Maandag deur die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) geskors.

Die gesogte CA(SA)-titel agter sy naam sal nou vir minstens vyf jaar verwyderd bly, waarna Wessels weer aansoek kan doen om as een te registreer. Saica moet dan besluit of die skorsing vir nog vyf jaar vir die maksimum van tien jaar verleng gaan word.

Wessels word in November 50 jaar oud.

Wessels was verantwoordelik vir die oudits van Linkway Trading, ’n projekbestuursmaatskappy in die Oakbay-groep van maatskappye wat die berugte Gupta-troue by Sun City in 2013 gereël het.

Linkway is na bewering gebruik om R30 miljoen te verduister wat bestem was vir die mislukte Vrede-suiwelplaas in die Vrystaat. ’n Deel daarvan het gehelp betaal vir die luukse troue.

In die aanvanklike ondersoek het die Onafhanklike Reguleringsraad vir Ouditeure (Irba) bevind Wessels het Linkway Trading se finansiële jaarverslag self gewysig om die R6,9 miljoen vir verblyf en vermaak by die troue van ’n Gupta-familielid as “koste van verkope” van die maatskappy te klassifiseer.

Dit het gebeur nadat KPMG se belastingkonsultant die aanvanklike klassifisering van die bedrag as bedryfskoste bevraagteken het.

Albei die klassifiserings het die Gupta-maatskappy in staat gestel om belasting daarop te ontduik.

Wessels het in sy tugverhore aangedring dat dié klassifisering sin gemaak het met die beskikbare inligting van daardie tydstip oor die aard van die Gupta-maatskappy. KPMG en hy self het aanvanklik geen rede gehad om die Gupta-familie van korrupsie te verdink nie, het Wessels voorgehou.

Hiervolgens het hy sy eerlikheid bly verdedig.

Saica het wel bevind dat Wessels in sy aanvanklike brief aan Irba oor Linkway Trading se finansiële verslag gesê het dat:

  • Die ouditverslag oorgedoen is, waar inderwaarheid slegs die bladsy oor die R6,9 miljoen vervang is; en
  • Wessels die oudit nagegaan en onderteken het, waar hy eintlik net die verslag geparafeer het.

Volgens Wessels was die klassifisering van die R6,9 miljoen as koste van verkope nie aanvanklik ’n probleem nie omdat hulle geglo het die troue was deel van Linkway Trading se projekbestuursaktiwiteite en sou dus ’n inkomste genereer. Dit was toe nie (soos later bekend geword het) die geval nie.

Volgens Saica is dié brief aan Irba op sigself dus genoegsame bewys van oneerlikheid.

Irba het Wessels reeds einde Maart skuldig bevind aan wangedrag, nalatigheid en oneerlikheid, en hom op grond daarvan as ouditeur geskors.

Maar Wessels, wat skuld beken het op vier van die ses aanklagte, het geweier om die twee wat met oneerlikheid verband hou, te aanvaar.

Saica, wat geen ondersoek- of beslagleggingsmagte van sy eie het nie en dus grootliks staat maak op getuienis wat voor Irba gelewer is, het sy eie tugverhoor van 6 tot 7 Mei gehou.

Tydens dié verhoor het Wessels weer eens gesê dat hy geen voordeel getrek het uit sy verhouding met die Gupta- maatskappy nie.

“Daar was geen goue handdruk (by KPMG) nie. Ek het net ’n fout gemaak. ’n Groot fout.”

Adv. Mohammed Chohan, voorsitter van Saica se tugverhoor, het op 7 Mei opgemerk selfs gegewe die feit dat Wessels sy aksies berou, is daar kommer oor sy aandrang dat hy nie oneerlik was nie.

“As hy nie kan verstaan of aanvaar dat hy oneerlik was nie, is dit ’n probleem. Hoe kon hy geleer het uit sy foute as hy nie dit kan aanvaar nie?”

Meer oor:  Kpmg  |  Linkway ­Trading  |  Guptas  |  Ouditfirmas  |  Ouditbedryf  |  Ouditeurs  |  Staatskaping  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.